Skoonheidstories

Sorg vir jou grys hare

Een van die grootste haartendense van die laaste jare is vroue wat hul natuurlike grys hare met trots dra. En ons is mal daaroor! Ouderdom is immers ’n ingesteldheid en die kleur van jou hare is nie ’n weerspieëling van jou ouderdom nie. Grys hare het egter spesiale sorg nodig – hiér’s raad vir ’n gesonde grys kroon!

Sodra jy jou grys hare laat uitgroei sal jy agterkom die tekstuur van jou hare word al hoe growwer en droër en jou hare word moeilik om te hanteer, sê Shelene Shaer, haarstileerder en mede-eienaar van Tanaz-haarsalon in Johannesburg. “Dis belangrik om jou haarsorgroetine aan te pas sodat jy jou grys hare beter kan versorg.”

Grys hare is gewoonlik growwer omdat die natuurlike lipiedlaag wat elke haar bedek dunner is, wat veroorsaak dat jou hare vinniger bros en droog word. Die kopvel se natuurlike vervaardiging van olie begin ook afneem teen die tyd dat jy begin grys raak.

Die aktrise Jamie Lee Curtis dra al jare grys hare.

 

Wenke om jou grys hare in top-kondisie te hou:

1. Gebruik ’n goeiegehalte-sjampoe en -opknapper wat geformuleer is om hare te bevog en kroeserigheid teen te werk sodat jou hare makliker is om te hanteer en stileer. Kyk uit vir haarsorgprodukte met woorde soos “anti-frizz”, “smoothing”, “hydrating” en “nourishing” op die verpakking.

2. Probeer ook ’n sjampoe en opknapper wat olie bevat. Dit help om die haarkutikels te seël sodat jou hare gladder lyk. Gladder hare blink meer omdat dit lig reflekteer.

3. Hou jou grys hare gesond deur dit weekliks met ’n bevogtigingsmasker te behandel. Oorweeg dit ook om sowat elke drie maande ’n haarsalon te besoek vir ’n bevogtigende haarbehandeling.

4. ’n Voedende haarolie is ’n móét-hê vir grys hare. Jy kan ’n haarolie aan jou klam hare wend nadat jy dit gewas het vir ekstra vog of ’n bietjie aan jou haarpunte wend nadat jy jou hare gestileer het om dit te voed en gladder te laat lyk.

5. Grys hare kan maklik geel lyk ná ’n ruk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper wat geelheid (soos ’n silwer of pers sjampoe) teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

Het jy geweet?

Dis ’n baie eenvoudiger proses om grys hare te laat uitgroei as wat vroue dink, sê Boyd Meilhon, meester-stilis en opleier van die haarsalon-groep Carlton Hair International. “Dit maak nie saak of jou hare lank of kort, 90% of 50% grys is nie, die proses bly dieselfde: Ek kyk na jou natuurlike haarkleur by die wortels en kleur dan die res van jou hare effens ligter na gelang van hoe grys jy is. Daarna sit ek grys strepies in. Hoe gryser jy is, hoe meer strepies. Op dié manier lyk jou hare natuurlik terwyl jy dit laat uitgroei.”

Probeer dié produkte:

L’Oreal Paris Elvive Extraordinary Oil Nourishing Shampoo for Dry, Dull, Rough Hair en Conditioner for Dry to Very Dry Hair (R70 elk vir 400 ml)

Die formules bevat voedende olies en help om jou hare gladder en gesonder te laat lyk

Kérastase Discipline Bain Fluidealiste Smooth-in-Motion Shampoo (R255) en Fondant Fluidealiste Smooth-in-Motion Care (R290)

Die haarsorgreeks is ontwikkel om jou hare sagter en gladder te maak sodat dit makliker hanteerbaar is. By uitsoeksalonne

Davines Alchemic Silver Shampoo (R220) en Conditioner (R305)

Silwer pigment in die sjampoe en opknapper werk enige geelheid teen. By uitsoeksalonne

Schwarzkopf Gliss Serum Deep-Repair Intensive Recovery Mask (R90)

Proteïenserum in die masker verbeter die tekstuur van beskadigde hare

Marc Anthony Repairing Macadamia Oil Treatment (R140)

Smeer sowat drie spuitjies olie aan jou haarpunte voor of nadat jy dit met ’n haardroër of –yster stileer. By Dis-Chem

 

Is jy besig om jou grys hare uit te groei?

  • JA
  • NEE

Lees nou

Hiér’s ons keuses vir die mooiste skoonheidsgeskenke

Kyk hoe dra ons die trends uit jou tienerjare nóú