FOTO Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Skoonheidstories

Keira Knightley verklap: ‘Ek dra al jare pruike’

Op die rooi tapyt verskyn aktrises en sangeresse gereeld met ’n bos glansende hare. Maar dít is dikwels nie die lokke waarmee Moeder Natuur hulle geseën het nie. So pas het die Britse aktrise Keira Knightley onthul dat sy die afgelope vyf jaar al pruike dra!

Die 31-jarige aktrise het in ’n onderhoud met die Britse tydskrif InStyle vertel dat sy vir haar fliekrolle haar hare al in byna elke moontlike kleur denkbaar moes kleur. Dít het haar hare geweldig beskadig en verswak.

“Dit het so erg geword dat my hare letterlik begin uitval het. Vir die afgelope vyf jaar gebruik ek al pruike; dis van die beste dinge wat met my hare kon gebeur,” het sy aan InStyle gesê.

Haarverlengings of pruike is ’n skoonheidsgeheim van baie Hollywood-bekendes. Die Kardashian/Jenner-werklikheidsterre is groot aanhangers en verander gereeld hul voorkoms met verlengstukke en pruike (veral Kylie Jenner dra graag ’n pienk of blou pruik om haar voorkoms op te kikker). En vir vroue wêreldwyd is dit onder meer ’n slim oplossing om verdere skade aan jou hare te verminder.

gotta bring the blonde back

A photo posted by King Kylie (@kyliejenner) on

Vroue het nou meer as ooit tevore pret met hul hare, sê Candice Thurston, stigter en uitvoerende direkteur van die haarsalon Candi & Co. Dié salon spesialiseer in haarverlengings en pruike. En daar is ’n verskeidenheid produkte wat ontwikkel is om jou hare voller en langer te laat lyk waarmee jy kan eksperimenteer.

Hoe kies ek tussen ’n pruik of haarverlengings?

Pruik

As jy jou hele kop wil bedek, is ’n gewone pruik of ’n pruik van kant die antwoord. Met ’n kant-pruik word die hare aan ’n basis van kantmateriaal geheg wat jy dan oor jou kop trek. Dit lyk of die hare vanuit jou eie kopvel groei en die voordeel is dat jy verskillende style kan skep. Jy kan bv. steeds jou hare vleg, in ’n poniestert vasmaak, ens. Dit is perfek as jy baie van jou hare verloor het weens alopesie (’n outo-imuunsiekte wat dramatiese haarverlies veroorsaak) of chemoterapie. Met ’n gewone pruik kan jy nie die haarstyl van die pruik verander nie. As dit in ’n bob gesny is, kan jy dit nie vasmaak nie, omdat die lyne van ’n pruik meer sigbaar is. Dit is ook goedkoper as ’n kant-pruik, sê Candice.

Haarverlengings

Haarverlengings is ideaal as jy jou eie hare voller of langer wil laat lyk. Candice stel verlengings wat aanplak (tape-ins) of aanknip (clip-ins) voor omdat dit jou eie hare die minste beskadig (verlengings wat aan jou hare gegom of met ’n mikroringetjie vasgeheg word, is ook beskikbaar). Aanplak-verlengings het ’n strokie wat bo-oor jou eie hare by die wortels geplak word en weer met alkohol verwyder word. Dit hou sowat twee tot drie weke. Aanknip-verlengings het ’n kammetjie wat in jou hare glip. Jy kan dit insit en uithaal soos jy wil. Dit kan egter te swaar voel vir vroue met fyn hare, sê Candice.

 

Sal jy ’n pruik of haarverlengings dra?

  • JA
  • NEE

 

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na info@candiandco.co.za of besoek www.candiandco.co.za.

Bronne: www.instyle.co.uk, www.refinery29.com

Lees nou

Fanie toets: Drup-behandeling

Kry ’n bob met ’n skeermes!