Skoonheidstories

Kies die regte rooi vir jou lippe só

Rooi en swart is die enigste kleure wat nodig is vir grimering, het die Franse digter Charles Baudelaire beweer: “Dié twee kleure verteenwoordig alles wat uitbundig en oordadig is. Swart raam jou oë en beklemtoon hul diepte as die vensters van jou siel. Rooi gee jou gesig ’n tikkie vuur en die misterieuse passie van ’n verleidster.”

Maar vroue het al lank voor Baude-laire se stelling in die 19de eeu besef watter krag in rooi lippe lê. Antieke Egipte se Cleopatra en Japan se geisjas het dit eeue gelede reeds gewéét, leer die geskiedenis ons.

Dis moeilik om te sê wie die eerste vrou is wat die afgelope eeu ikoniese status aan rooi lippe gegee het, maar onder die gewildstes tel Marilyn Monroe en Elizabeth Taylor in die 50’s, en meer onlangs Gwen Stefani en Dita von Teese.

Maar tog word rooi lippe vandag taamlik min gesien in die alledaagse lewe. Die rede, meen kenners, is dat vroue nog bang is vir rooi. Dié kleur is sinoniem met gewaagdheid, want rooi lippe was onder meer in die 6de eeu die kenmerk van Spaanse prostitute en in die 19de eeu het die kwaaie koningin Victoria dit selfs verbied. Hoewel rooi vandag die simbool is van selfgelding en bevryding, dra dit vir sommige vroue nog die emosionele bagasie van oordadige seksuele aantrekkingskrag.

Hoe dit ook al sy, volgens die SA grimeerkunstenaar Michel Ingoglia sal rooi lipstiffie in die 21ste eeu altyd in die kol wees: “Rooi gaan nooit werklik weg nie, daar is net elke seisoen ’n ander rooi skakering wat mode is, en die teksture en afwerking word aangepas.”

Hy sê wynrooi (burgundy) is dié seisoen ’n groot gunsteling: “As jy liewer ’n klassieke rooi wil dra, is kersierooi of Russiese rooi die skakering vir jou.”

Michel waarsku dat jy versigtig moet wees vir ’n rooi met ’n oranje ondertoon, want dit kan jou tande geler en jou vel afgemat laat lyk. Dié kleur werk meestal net vir vroue met ’n baie ligte, byna bleek vel.

“’n Baie ligte velkleur, wat gewoonlik ’n blou ondertoon het, het ’n warmer skakering van rooi nodig om nie vaal te lyk nie. Maar ’n rooi met ’n blou of pers ondertoon vlei byna elke ander velkleur. Dit laat jou tande helderder en witter lyk omdat die blou ondertoon die geel van die tande teenwerk.”

Michel glo jy is nooit te oud vir rooi lippe nie: “Kyk net na vroue soos Judi Dench en Meryl Streep wat jaar ná jaar rooi lipstiffie na rooitapyt-geleenthede dra. Ek sou ouer vroue wel aanraai om ook ’n rooi lipomlyner te gebruik, want dit gee definisie aan jou lippe en skep ’n ‘skoner’ voorkoms. Ouer vroue kan ook baat vind by ’n rooi lipstiffie met ’n mat tekstuur. Dit kleef aan jou lippe en sal nie ‘bloei’ nie.”

Jy moet wel pasop vir rooi lippe as jou vel die dag nie perfek voel nie: “’n Rooi lipstiffie sal enige merkie, rooiheid of aartjies op jou vel meer opvallend maak. Wanneer jou vel nie op sy beste lyk nie en jy wil steeds rooi lippe dra, moet jy sorg dat jy jou onderlaag foutloos aanwend en elke merkie wegsteek.”

Vir Michel sal rooi lipstiffie altyd ’n gunsteling bly, want dit het ’n onmiddellike impak: “Rooi kan 
enige uitrusting in iets merk
waardigs verander!”

[box:full:red:both]

3 ROOI VIR 2012

[/box]

Pienkrooi

By ’n blas vel kom ’n pienk-rooi tot sy reg, en dit laat boonop jou tande witter lyk  L’Oréal Infallible in Blazing Sangria (R140), Estée Lauder Double Wear Stay-In-Place Lipstick in Stay Scarlet (R250),  Givenchy Rouge Interdit No. 18 Elegant Rouge (R330), Revlon Super Lustrous Lipstick Crème in Revlon Red (R99,95), SARIE-lipstiffie in Bessierooi (R50).

Pienkrooie vir 2012

Posbusrooi

Dié helder staatmaker is tydloos, en om ’n goeie rede – dit pas by enige veltoon. Max Factor Colour Collections in Intensely 
Red (R100), BlackUp Lipstick 
No. 30 (R185), Yves Saint Laurent 
Rouge Pur Couture in Le Rouge (R365), Clinique High Impact 
Lip Colour SPF 15 in Red-y 
to Wear (R210), Christian Dior Rouge Dior 
in Iconic Red (R325).

Posbusrooie vir 2012

Kersierooi
Jong Hollywood-sterre is versot op dié skakering van rooi, wat veral goed lyk as jy ’n pienk ondertoon het. Yardley Supermoist Lipstick in Plum Desire (R60), Bobbi Brown Metallic Lip Color in Jewel Red (R260), Yardley Colour Rush in Runway Ruby (R69,95), Woolworths Lips Hydro in Cherry Red (R95),  Chanel Rouge Allure in Lover (R350).

Kersierooie vir 2012

  • Denise Vermeulen

    Goeie more,

    n hele ruk terug het Sarie lip kleur saam die Sarie tydskrif verkoop. Onder andere soenrooi en melkskommelbruin. Waar sal ek weer van dit tekoop kan kry? Help groot asb!

    Vriendelike groete,
    Denise Vermeulen
    denise@brikor.net