sept08artikel1a
Skoonheidstories

Kleur die lente

GEURIGE LEWE
My nooi is in ’n nartjie . . . Dit lê alles in geur, want dis deur ons reuksintuig dat ons ons diepste emosies ervaar, indrukke wat ’n leeftyd kan hou, sê Alison McKee, nasionale bemarkingsbestuurder van Aramis and Designer Fragrances.
“Die deel van die brein wat die boodskap van geur ontvang, interpreteer ook ons kreatiewe ervarings soos kuns en musiek. En dis hier waar ons emosies en geheue geprikkel word.
“Ons herinnering aan geur is akkurater as enige van ons ander sintuie. Net ’n vae geur kan helder beelde in jou brein oproep en emosies wat daarmee gepaard gaan, ontlok.”

Waarom gebruik vroue – én mans – parfuum?
Alison som op:

  • Dit skep ’n bekende gevoel. Mense raak bewus van geur en gesprekke vloei dan makliker.
  • Dis ’n aanduiding van sosiale stand.
  • Dit verminder die vreemdheid van ’n omgewing. Reisigers sal byvoorbeeld ’n geur in ’n hotelkamer
  • spuit om ’n bekende gevoel te skep.
  • Elke mens ervaar geur anders en dit roep vir elkeen ’n ander emosie op. Daarom is die keuse van jou
  • parfuum die volmaakte uitdrukking van jou persoonlikheid.
  • Geur sê iets van ons verwagtinge van die toekoms en help ons om die verlede te onthou.

En het jy geweet?

Dis onwaarskynlik dat ’n vrou parfuum sal aanspuit net voor sy ’n verhouding beëindig, maar dis hoogs waarskynlik dat sy parfuum sal dra in die hoop dat ’n nuwe verhouding sal begin!
Elizabeth Arden se nuwe Mediterranean Breeze het heerlike note van nartjie, bergamot en pomelo. Probeer ook Midnight Rain van La Prairie, Burberry The Beat en Diesel Fuel For Life Cologne Splash and Spray Pour Femme.

LIPPETAAL, SO SOENBAAR!
Die vel op jou lippe is dun en delikaat en hou daarom minimaal vog terug, verduidelik dr. George Cioca, senior visepresident van navorsing en ontwikkeling by La Mer. Jou lippe is dus kwesbaar vir wind, koue en hitte.

 

Die grootste fout wat vroue maak, is om nie hul lippe af te skilfer nie

 

“Lippe vervel vier keer vinniger as die res van jou gesig, wat dit maklik droog en grof kan maak,” sê hy.

Jou lippe kan ’n groot verskil aan jou voorkoms maak as jy hulle reg versorg. Die grootste fout wat vroue maak, is om nie hul lippe af te skilfer nie, sê grimeerkunstenaar Algria Ferreira-Watling.

“Ek gebruik Comfort Zone se Lip Blooming Scrub vir perfekte lippe. En dis eintlik niks nuuts om jou lippe af te skilfer nie. In die ou dae is tandeborsels sommer hiervoor ingespan.” Haar raad vir jou lippe ná die winter is om dit gereeld te bevog en sonskerm te gebruik.

“En as jy bang is om met kleur op jou lippe te eksperimenteer probeer eers iets soos Labello se Lip Care Star Fruits in Strawberry of Cherry. Wanneer jy aan ’n natuurlike lipglans gewoond is, is dit makliker om te waag met kleur,” sê sy.

Maar hoe weet jy watter kleur reg is vir jou?
“Dit hang heel eerste van jou natuurlike lipkleur af – dis altyd veilig om ’n lipstiffie net so twee of drie skakerings donkerder as jou eie lipkleur te gebruik.”

Algria sê daar is ook heelwat ander faktore om in ag te neem, soos velkleur, persoonlikheid en lipvorm (as jou lippe baie dun is, sal donker kleure nie goed lyk nie).
Haar goue reël is dat lig gegrimeerde oë ’n donker mond vra en donker, rokerige oë ’n ligte lipkleur.

“En ook nie almal kan nude dra nie – by sommige gelaatskleure kan dit baie dood lyk. Soek eerder ’n neutrale  kleur, een wat jou eie lipkleur versterk.”
Bobbi Brown se Tinted Lip Balm in Bronzed Pink sal jou winterlippe voed terwyl dit ook glans gee. Of probeer La Mer The Lip Balm of M.A.C Lip Conditioner SPF 15 om lippe vogtig te hou.

VOG VIR JOU VEL

Oppas om ’n gedehidreerde vel met ’n droë vel te verwar, sê Stephanie Hugo, velsorgkenner.
“Ná die winter is die meeste vroue se vel gedehidreer, dis wanneer jy daardie stywe gevoel oor jou vel voel.”
Sy sê so ’n vel se vogvlakke kan herstel word met ’n vogroom wat hoofsaaklik water bevat, soos Clarins se HydraQuench Cooling Cream-Gel.

“’n Droë vel, daarenteen, is ’n vel wat sy olie verloor het. Dan het jy ’n vogroom met ’n oliebasis nodig. Dis dikwels hier waar vroue dink ’n teenverouderingsroom is die antwoord – terwyl hul vel eintlik net olie kort.”
Dis belangrik om dadelik jou vel se vogtekort reg te stel, want dehidrasie is die eerste teken van veroudering.

  • “’n Serum onder jou vogroom sal ook baie help vir ’n gedehidreerde vel.”

Vir probleemvelle beveel sy Dermalogica se Face Mapping aan – ’n vel-analise wat jou help om probleemgebiede elkeen op sy eie te versorg (skakel 011 268 0018 vir meer inligting).

As jou vel sensitief is, kan ’n reiniger met vrugte-ensieme van dooie velletjies ontslae raak. Dit het gewoonlik nie die afskilfer-korreltjies wat ’n sensitiewe vel kan irriteer nie.

“Onthou ook dat ’n vogroom nie rondom die oë sal werk nie. Dié vel bevat geen oliekliere nie en is aansienlik dunner. Die groter molekules van ’n vogroom kan glad nie deur hierdie dun vel geabsorbeer word nie en ’n gespesialiseerde oogroom is beslis nodig,” sê Stephanie.
L’Oreal Revitalift Deep-Set Wrinkle Restoring Day Cream sorg goed vir ’n droë vel en beveg terselfdertyd fyn lyntjies. Probeer ook Elizabeth Arden Intervene Eye Pause & Effect Eye Moisture Cream of Neutrogena Anti-Oxidant Age Reverse Night Cream.

GENIET JOU LENTE-LYF
Die belangrikste eienskap van ’n lyfroom is dat dit moet bevog (hidrasie), sê dr. Nadine de Freitas, besturende redakteur van die tydskrif Les Nouvelles Esthetiques SA.
“Vandag doen lyfrome gelukkig ook heelwat meer. Hulle bevat kollageen en ander bestanddele wat jou vel se elastisiteit verbeter en só die jare terugdraai.

  • “Jare gelede kon lyfrome dit nie doen nie en ons moes tevrede wees met ’n borrelbad of lekkerruik-room.”  Ons lyf verouder net soveel soos ons gesig, daarom maak die meeste goeie lyfrome ook nou van teenverouderingtegnologie gebruik.

“Vogrome word ook heerlik gegeur. Veral botaniese eerder as sintetiese geure word gebruik. Botaniese ekstrakte word maklik in jou bloedstroom opgeneem en sal nie met jou parfuum meeding nie,” sê Nadine.
Sommige moderne vogrome word ook as grimering gebruik en laat jou vel met ’n pêrelglans skitter.

“In die wintermaande is die lug droër en ons vel verloor maklik vog. En die meeste van ons is ook maar lui wanneer dit by velsorgroetine kom.”
Daarom beveel Nadine ’n lyfroom met galambotter aan om jou vel te verkwik.

Kry jou lyf somergereed met RoC Retinol Anti-Cellulite Moisturising Slimming Care, wat jou vel bevog en selluliet beveg. Probeer ook The Body Shop se Shea Body Butter of Estée Lauder se Re-Nutriv Intensive Smoothing Body Creme om die wysers terug te draai.