Skoonheidstories

Lesersvraag: Alles wat jy moet weet oor basislae

SARIE-lesers vra, en ons kry die antwoorde. Jy het al van ’n basislaag (of primer) gehoor, maar verstaan dalk nie heeltemal hoe dié gewilde produk by jou grimeerroetine inpas nie. Hiér beantwoord ons jou vrae …

Vraag

Harriet Oosthuizen vra op Facebook:

“Ek wil vreeslik graag meer weet oor primers. As ek navraag doen, dan word ek na onderlaag verwys. Of verstaan ek die idee van ’n primer verkeerd?”

Antwoord

’n Basislaag (primer) is ’n grimeerproduk wat jy ná jou vogroom en voor die res van jou grimering op jou gesig aanwend. Dis ontwikkel om ’n oneweredige veltekstuur as gevolg van byvoorbeeld fyn lyntjies en vergrote porieë “in te vul” sodat jy ’n gladde gelaat het wanneer jy onderlaag aanwend.

Vandag doen basislae soveel meer. Sommige is ontwikkel om ook velkwessies te behandel en help onder meer met teenveroudering, om vog in jou vel te hou en te keer dat chemikalieë in jou onderlaag jou vel penetreer.

Basislae wat met ’n spesifieke kleur soos groen, pienk of pers geformuleer is, raak ook al hoe gewilder. Hierdie basislae behandel enigiets van ’n gelaat wat rooi, moeg of vaal lyk tot pigmentasie en donker vlekkies. Sodra jy dit aanwend, verdwyn die kleur van die formule en daarmee saam ook jou grootste velkwessie.

Hydrate and prime. #hydrablurprimer

A photo posted by dermalogica (@dermalogica) on

Wie kan ’n basislaag gebruik?

Die produk is nie iets wat jy gaan mis as jy dit nie gebruik nie, maar as jy dit eers probeer het, sal jy nie daarsonder wil wees nie. Veral soos wat jy ouer word, word ’n basislaag al hoe belangriker vir onderlaag wat foutloos aangewend word.

Hoe kies jy die regte een?

Omdat daar so ’n wye verskeidenheid van basislae is, help dit om jou grootste velbehoeftes en -kwessies in ag te neem wanneer jy ’n basislaag kies.

* Jy sukkel met rooiheid, pigmentasie of donker vlekke … kies ’n gekleurde basislaag wat die kleur van dié kwessies op jou vel sal neutraliseer.

* Jy sukkel met plooie, fyn lyntjies of ’n growwe veltekstuur … kies ’n basislaag wat bevog en teenverouderingsbestanddele bevat.

* Jy sukkel met ’n olierige vel en/of puisies … kies ’n basislaag wat geformuleer is om oortollige olie te absorbeer en jou vel ’n mat-afwerking te gee.

* Jy sukkel met ’n gelaat wat dikwels vaal en moeg lyk … kies ’n basislaag wat byvoorbeeld fyn weerkaatsende deeltjies bevat en ontwikkel is om jou vel te verhelder.

Hiér is van ons gunsteling-basislae:

Almay Smart Shade Perfect & Correct Primer (R250)

Pers en groen pigmente verbloem rooiheid en laat jou vel vars en helder lyk

Dermalogica Hydrablur Primer (R850)

Die formule van dié basislaag absorbeer oortollige olie en stel deur die dag voortdurend vog vry

L’Oréal Paris Infallible Mattifying Primer Base (R190)

As jy sukkel met ’n olierige vel, is dié basislaag perfek. Dit absorbeer oortollige olie om te voorkom dat jou vel blink

BioNike Defence Color Primer (R275)

Wanneer jy produkte laag op laag aanwend, kan dit ’n sensitiewe vel irriteer. Dié basislaag is spesiaal vir so ’n veltipe ontwikkel. By Dis-Chem

Yardley London Illuminating Primer (R110)

’n Basislaag wat jou vel verhelder en help dat jou onderlaag langer hou

 

#MakeupMonday Mantra.

 

A photo posted by Almay (@almay) on

Lees nou

Kies die regte tipe maskara vir jóú wimpers

Is dié velsorgbestanddeel die oplossing vir aknee?