lesley
Skoonheidstories

Lesley maak jou voorblad-mooi

Wat is jou grimeerroetine in die oggend?

Ek gebruik altyd Dermalogica se Ultra Sensitive Faceblock (R321), ’n blosser, ’n fyn swart oogomlyner téénaan die boonste wimpers, maskara en helder kleure op my lippe.

Hoe pas jy dit aan vir die aand?

Saans voeg ek ’n bietjie meer oogskadu by of ek smudge oogomlyner om die harde lyn ’n bietjie sagter en sexy te maak.

Wat is die algemeenste grimeerfout wat vroue maak?

Hulle kies die verkeerde kleur onderlaag en skakeer dit nie by die nek in nie, dan sien jy dadelik ’n streep langs jou kakebeen. Nog ’n grimeersonde is om ’n donker lippotlood saam met ’n ligter lipstiffie te gebruik, sonder om dit met mekaar te meng.

Hoe sorg ’n vrou dat sy nie in ’n groef verval met haar grimering nie?

Moenie bang wees om nuwe kleure of idees te probeer nie. As dit nie werk nie, kan jy dit altyd weer afwas. Lees ook gereeld tydskrifte om uit te vind wat die jongste neigings is en probeer dit self.

Hoe kan ’n vrou vinnig haar voorkoms opknap?

Krul jou wimpers met ’n wimperkruller (eyelash curler) en wend ekstra maskara aan om jou oë definisie te gee. As jy bleek is, gee jou gesig ’n bietjie kleur met blosser of lipstiffie, en as jou vel vaal is, gebruik ’n verhelderende onderlaag vir ’n gesonde gloed.

Wat is jou belangrikste skoonheidsraad?

Die sleutel tot ’n mooi vel is om dit goed te bevog. Drink genoeg water en gebruik weekliks ’n gesigskrop om dooie velletjies te verwyder. Moet ook nie vergeet om daagliks ’n sonskerm te dra nie.

Watter eienskappe is nodig om ’n suksesvolle grimeerkunstenaar te wees?

Jy moet mal wees oor grimering én mode – die twee loop hand aan hand. Jy kan ook nie bang wees vir verandering nie, want grimering verander en vernuwe heeltyd.

 

In Lesley se grimeersakkie

Dermalogica Ultra SenSitive Faceblock


1. Dermalogica Ultra SenSitive Faceblock (R321) “Dit beskerm nie net jou vel nie, maar gee dit ook ’n bietjie kleur vir ’n mooi, gloeiende gelaat as jy nie ’n onderlaag wil gebruik nie.”

M.A.C Lustre Drops

2. M.A.C Lustre Drops (R160) “Gebruik dit bo-oor jou onderlaag vir ekstra helderheid.”

Chanel Exceptionnelle Mascara

3. Chanel Exceptionnelle Mascara (R350) “Dit verleng jou wimpers sonder om korrelrig te raak en lyk steeds natuurlik.”

Estée Lauder Signature SilkyPowder Blush

4. Estée Lauder Signature SilkyPowder Blush (R330) “Blosser gee kleur aan jou gesig en skep kontoere wat jou wangbene definieer.”