FOTO: Instagram (@glampalm_africa)

FOTO: Instagram (@glampalm_africa)

Skoonheidstories

Só maak jy jou haaryster of krultang skoon

Jy’s (baie) lief vir jou haaryster of krultang, maar ná ’n hele paar keer se gebruik het daar nou ’n taai lagie vuilheid op jou toestel se oppervlak gevorm. Daarby wil die toestel ook nie meer so lekker op jou hare wérk nie. Hoe gemaak? Só maak jy jou haaryster of krultang skoon!

Haarstileringsprodukte, vuilheid en olies van jou hare kan oor tyd op die plate van jou haaryster of krultang opbou, sê Ria Gyapersad, plaaslike kreatiewe direkteur van die luukse haarsorghandelsnaam Glampalm Hair. Dit kan veroorsaak dat jou toestel nie meer doeltreffend werk nie. Daarby word al daardie vuilheid deur jou hare versprei en laat dit jou hare vaal en plat lyk.

Só maak jy jou hittestileringstoestel skoon:

Jy benodig: Watteballetjies, chirurgiese alkohol (surgical spirits) en ’n lappie wat met warm water klam gemaak is.

Maak só: Maak seker jou haaryster is heeltemal afgekoel en uitgeprop. Doop ’n paar watteballetjies in die chirurgiese alkohol en vee dit liggies oor die toestel se plate, verduidelik Ria. Die chirurgiese alkohol verdamp baie vinnig en beskadig dus nie die plate nie, terwyl dit steeds bakterieë, olie en produk-residu doeltreffend verwyder. Sodra al die vuilheid van die plate af is, vee die hele toestel af met die klam lappie.

Hoe gereeld? Volgens Ria is dit die beste om weekliks jou haaryster of krultang skoon te maak.

Pasop! Moet nooit water, seep of enige ander chemiese skoonmaakmiddels gebruik om jou hittestileringstoestelle mee skoon te maak nie, waarsku Ria. Dit kan die omhulsel van die plate beskadig en maklik binne-in die toestel inloop en die elektriese dele laat breek.

Lees nou

Satynkussing = jonger vel

Die 5 mooiste lipstiffies vir herfs