Skoonheidstories

Manjifiek in minute

Vakansie? Watter vakansie?
Die ontspanne dae van niksdoen is reeds vergete en jou voorkoms begin die eerste tekens van stres toon. Maar voorkoms is eintlik die minste van jou probleme!

Vandag bied skoonheidshuise vele opwindende produkte wat blitsig klaarspeel met moeë oë en vaal hare. Net’n bietjie kleur op jou lippe sal jou klaar nuwe energie gee, terwyl’n innoverende fyn “reën”’n seën is vir jou somerhare.probeer die volgende 5 skoonheidswenke om jou met blinker oë na die lewe te laat kyk.


1. DIE KLEUR OP ALMAL SE LIPPE

Volgens Clinique se onlangse wêreldwye opname, Truth in Beauty, is lipstiffie en parfuum Suid-Afrikaanse vroue se mees gesogte mooimaakgoed. Só belangrik is lipstiffie vir ons dat 42% van vroue gesê het hulle sal nóóit die huis verlaat sonder ’n bietjie kleur op die lippe nie!

Dis egter nie altyd nodig om jou lippe helder te skakeer nie. Clodagh Knott, bemarkingsbestuurder van Bobbi Brown, glo die ideale lipkleur is een baie na aan die natuurlike kleur van jou lippe. Volgens haar is dit gewoonlik genoeg om jou voorkoms op te helder.

“’n Natuurlike lipkleur skakel in by enigiets wat jy dra en sal altyd jou voorkoms afrond. Omdat dit nie oordonderend is nie, bring dit jou beste gelaatstrekke na vore. Boonop kan jy so ’n kleur elke dag dra,” sê sy.
Clodagh beveel Bobbi Brown se lip Color in Brown of Cocoa aan, omdat dit goed by die meeste velkleure inskakel. Goeie nuus vandag is dat die meeste lipstiffies ook bevogtigende bestanddele bevat, wat jou lippe sag en vogtig sal hou.
Sy waarsku teen oorhaastig koop en dat jy gerus by die kosmetiektoonbank raad kan vra oor die kleur wat reg is vir jou.

Probeer ook Chanel se rouge Allure Luminous Satin in Frivole,’n salmpienk lipkleur met ’n effense glans. Of Clarins se Rouge Appeal Sensuous Long-Lasting in Guava, wat op jou lippe smelt en langdurige kleur bied.

Nog ’n produk om byderhand te hou is Palmer’s se Lip Butter in Dark Chocolate & Cherry om onder of bo-oor jou lipstiffie aan te wend vir ekstra glans en diep bevogtiging.

2. DROME IN ’N BOTTEL
Reuk prikkel ons herinneringe en skep ’n gevoel van nostalgie. Charlene Weidner, direkteur van Comfort Zone SA, glo ons span te min die krag van ons reuksintuig in om ons gemoed van dag tot dag te lig.
“Ons reuksintuig verbind ons direk met ons psige. Geure herinner ons aan emosies: tye toe ons goed, geborge of welkom gevoel het. Dis onlosmaaklik deel van ons menswees.”
Volgens Charlene is dit wetenskaplik bewys dat ’n “reukgeheue” bestaan. Sy assosieer self steeds sekere goeie tye in haar lewe met spesifieke parfuums.

“My ma het Gardin de Bagatelle gebruik. Ek onthou ’n dag toe ons in die tuin gestap en sy dié parfuum gedra het – ek kan selfs nog onthou wat sy aangehad het!
“Geur het ook die vermoë om ’n nuwe gevoel of emosie te skep en kan selfs ’n sterker impak as die visuele maak,” glo sy.
Charlene se jongste parfuumaankope sluit Prada se Infusion d’Iris en Fendi se Palazzo in: “Palazzo het woud-ondertone wat lank op die vel bly en op ’n manier laat dit my meer in beheer voel.”
’n Geur kan ook dikwels ons drome vasvang. Parfuumkenner Alberto Morillas, wat Bvlgari se nuwe Omnia Améthyste geskep het, sê sy konsep vir dié fyngeur lê in die Italiaanse Renaissance-skilderye uit die 16de eeu. Een van die simbole wat gereeld in dié skilderye voorkom, is die irisblom. Dit het hom geïnspireer om die blom (eerder as die wortel wat gewoonlik gebruik word) in sy formule te sit.
Plaaslik dra 80% van ons vroue elke dag parfuum – ’n bewys dat daar min ander dinge is wat vroue so goed oor hulself laat voel soos geur!

3. KOP OM HOOG
Hare wat te veel son gesien het, is maklik vaal en leweloos. Dit laat jou ook vinnig afgemat lyk en sit jare by jou voorkoms.
’n Nuwe haarkleur is vandag gelukkig nie meer die enigste manier om woema in jou hare te sit nie. Splinternuwe, innoverende haarprodukte verleen soos blits glans aan hare wat hulp nodig het.
Een van die haarstilis Terence Terenzo van Johannesburg se gunsteling-produkte is Redken se Blonde Glam Crystal Flash, wat blondines se lokke dadelik ’n multi-dimensionele skynsel gee.
Wend dit met jou hande aan droë hare en sien hoe ligstrepe op ’n natuurlike manier jou kapsel verhelder.
Schwarzkopf se Sparkler Gloss gee kitsglans aan lewensmoeë hare. Sproei slegs ’n fyn mis oor jou hare en die kleur is onmiddellik weer opgeknap.
Volgens Terence hoef ’n besoek aan die haarsalon ook nie ’n groot drama te wees nie: “’n Blitsbesoek aan die salon lewer altyd resultate op,” sê hy.
“Ek is ’n aanhanger van Shades EQ Color Enhancing Shampoo van Redken. Dis ’n haarkleur wat soos ’n opknapper dink. Dit laat jou natuurlike haarkleur tot sy reg kom. Dié kleur was sag uit en het ’n ph van tussen 4,5 en 5,5 – dieselfde as jou natuurlike haarkleur.”
Hierdie salonbehandeling is ’n gewilde keuse om hare in ’n kits van vaal tot fantasties te omskep: “Oral in die wêreld waar ek reis, is mense versot daarop,” sê Terence.

4. ALLE OË OP KLEUR
Lang, luukse en gedefinieerde wimpers is die nuwe “moet-hê” in skoonheid.
Donkerder wimpers skep dadelik ’n diep kontras met die wit van jou oë en laat jou oë wakker en oper lyk.
Britke Wessels, handelsmerkbestuurder van Lancôme, sê dis met goeie rede dat grimeerkunstenaars heel eerste by die oë stilstaan: “Ongelukkig is die meeste van ons nie geseën met perfekte wimpers nie. Daarom kan maskara ’n geheime troefkaart in ’n vrou se grimeersakkie wees.
“Met die regte maskara kan jy jou oë herskep om die voorkoms te kry wat jy begeer: van dramaties tot glansryk en van natuurlik tot bekorend.”
Een van haar huidige gunstelinge is Lancôme se nuwe Virtuôse. Dié maskara gee wimpers ’n perfekte ronding, terwyl dit spog met ’n formule wat nie sal smeer nie én maklik is om te verwyder.
Vir die avontuurlustiges is daar produkte in metaalkleurige tinte.’n Gekleurde maskara vestig die aandag op die oë en kan die skakering van jou oë of uitrusting beklemtoon. As jy skrikkerig is vir kleur aan jou wimpers, wend ’n lagie swart aan en tik dan die kleur aan die punte van jou wimpers.

Probeer gerus ook Yves Saint Laurent se Everlong Mascara, ’n persblou (nommer 4), en Chanel se Inimitable in Noir-indigo. Dit gee volume, lengte en krul.
Maar as jy veilig wil speel, wat van Clinique se Lash Power Mascara in Black Onyx? Dit laat wimpers langer lyk en hou heeldag lank!