FOTO Instagram / @minkivanderwesthuizen

FOTO Instagram / @minkivanderwesthuizen

Skoonheidstories

Minki deel haar mooilyk-gewoontes

Die afgelope paar maande het Minki van der Westhuizen harte verower as aanbieder van kykNET se gewilde realiteitsreeks Boer soek ’n vrou. En vanjaar sluit sy ook by die joernaalprogram Kwêla aan as veldaanbieder. Met haar natuurlike sjarme en groot glimlag blý sy inspireer. Die SARIE-skoonheidspan het vinnig met Minki gesels en haar uitgevra oor haar gesondwees- en mooilyk-gewoontes. Hiér is haar top-wenke.

Ek glo in ’n gesonde vel

Velgesondheid is vir my baie belangrik. Ek reinig, verfris en bevog my gesig elke oggend en aand. Ek glo jou gesig is soos ’n skilderdoek en as die basis nie reg is nie, gaan jou grimering ook nie mooi lyk nie.

Kindness is the language which the deaf can hear and the blind can see – Mark Twain #bekind #worldkindnessday @claudiadenobrega

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

Ek’s nooit sonder my staatmaker-grimeerprodukte nie

Ek hou van ’n stralende, douerige vel. Om dié voorkoms te kry wend ek eers ’n basislaag met fyn weerkaatsende deeltjies oor my hele gesig aan en daarna net ’n getinte vogroom bo-oor. Ek’s ook verslaaf aan maskara en gaan nêrens daarsonder nie!

Grateful heart!!! Thank you 2016, you were spectacular!! All the glory to God!!! #myfamilymyworld #katerienlief #elisehartjie

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

My grootste velsorgprobleem is …

Op die oomblik is een van my grootste velsorgprobleme pigmentasie. Ek het dit ontwikkel toe ek swanger was met my eerste kind. Ek dink dit maak ’n groot verskil om velsorgprodukte te gebruik wat spesiaal geformuleer is om donker vlekke en pigmentasie te behandel. Ek gaan ook gereeld vir ’n chemiese afskilferingsbehandeling (peel) en dit werk wonderlik.

Ek laat sny gereeld my haarpunte

Ek laat sny so elke agt weke my haarpunte sodat my hare gesond en glansend bly. As ek dit nie doen nie, begin my hare strooierig lyk.

Ek’s mal oor droë sjampoe

Ek het fyn hare, maar báie daarvan en sukkel dikwels om dit volume te gee. Ek gebruik dan ’n droë sjampoe sommer as ’n stileringsproduk. Dit werk fantasties om my hare meer volume te gee én dit help om my blonde haarkleur langer te laat hou omdat ek my hare dan ook minder was.

Ek eet graag koolhidrate …

… en sal dit nie sommer uit my dieet kan sny nie. Ek hou egter altyd my porsies klein. Ek probeer ook om voor sesuur saans aandete te eet. Dis goed vir jou metabolisme en help vir ’n goeie nagrus.

Die beste skoonheidsraad wat ek iemand kan gee?

Sit elke dag van jou lewe sonskerm op jou gesig. Selfs in die winter!

Lees nou

Watter tipe selfie-nemer is jy?

6 skoonheidsgewoontes om aan te leer in die nuwe jaar