Skoonheidstories

Moet-hê-produkte vir jou lessenaarlaai

Of dit nou in jou motor, handsak of lessenaarlaai is – die meeste van ons het altyd ’n sakkie vol staatmaker-skoonheidsprodukte naby. Ons het gaan kyk wat die SARIE-span in Johannesburg in hul laaie hou en deel dan die moet-hê-produkte wat ons dink elke vrou in haar laai by die werk behoort te hê.

FOTO’s: Bekendes eet wegneemetes in hul aandrokke

In Charis van den Heever, SARIE-skoonheidsredakteur, se laai …

Ek moet dikwels geleenthede ná werk bywoon en het nie altyd tyd om eers huis toe te gaan om my grimering en hare op te knap nie. Dit is hoekom ek ’n paar strategiese produkte in my laai by die kantoor hou. Binne tien minute is ek reg vir ’n aand uit!

charis laai skoonheid* Ek spuit ’n bietjie droë sjampoe op my haarwortels en kam dit deur die res van my hare om vinnig volume te skep.

* Ek maak altyd seker daar is ’n bekostigbare onderlaag in my laai om aan my vel te tik daar waar ek dit nodig het.

* Ek gebruik oogskadu-potlode om my ooggrimering op te knap. Ek skakeer die roomformule sommer met my vingers in.

* Al wat dan kort, is een of twee spuite parfuum.

In Phyllis Green, fotograaf en boekeredakteur, se laai …

phyllis laai skoonheid* My lewensredders is ’n swart oogpotlood en maskara, want daarmee kan ek vinnig ’n dramatiese voorkoms skep.

* My bevogtigende lipstiffie in ’n nude skakering werk hard, want ek gebruik dit op my lippe én as blosser op my wange.

* Poeier rond my voorkoms af.

* Ek hou ook altyd ’n klein botteltjie parfuum in my laai. As ek lekker ruik, voel ek sommer mooi!

In Monica Pienaar, SARIE-skoonheidsassistent, se laai …

Ek versamel graag toetsgrootte produkte om in my laai by die werk te hou. Jy weet nooit wanneer ’n werksgeleentheid of aand uit onverwags opduik nie.

monica laai skoonheid* My lippe is geneig om baie maklik uit te droog weens die lugversorging in die kantoor. Ek het altyd ’n lipsalf in my laai wat ek gereeld deur die dag aanwend.

* As ek onverwags na ’n geleentheid ná werk moet gaan, gryp ek altyd na maskara en ’n helderkleurige lipstiffie of lipglans. Dit kikker jou voorkoms in ’n kits op.

* In die winter wend ek gereeld deur die dag ’n handeroom met ’n SBF aan. Dit bevog én beskerm my hande teen sonskade.

* ’n Toetsgrootte parfuum is perfek om deur die dag jou geur op te knap.

Skoonheidstruuk: Só weet jy waar om kontoerlyne te skep

Hiér is ons keuse van moet-hê-produkte om in jou laai by die werk te hou

Chanel Chance Eau Fraiche (R1 580 vir 100 ml EDT)

Note van suurlemoen, pienk peper, jasmyn en iris sorg vir ’n vars en sprankelende geur, terwyl kuskusgras, sederhout, patsjoelie en wit muskus aan die geur ’n sensuele basis gee – perfek vir dag of aand.

Batiste Dry Shampoo in Cherry (R40 vir 50 ml)

Min produkte kan jou haarstyl binne ’n paar sekondes opkikker soos ’n droë sjampoe nie. Spuit dit aan jou haarwortels vir volume en olierigheid te absorbeer. Dié reisgrootte is boonop perfek vir jou laai. By Clicks

Smashbox Full Exposure Mascara (R280)

’n Buisie maskara in jou laai is ’n móét. Kies een wat jou wimpers volume en lengte gee vir ’n treffende voorkoms.

The Body Shop Almond Hand & Nail Cream (R130)

As jy nie jou hande gereeld bevog en beskerm teen sonskade nie is fyn lyntjies en donker vlekkies geneig om vroeër te verskyn. Beskerm jou hande en naels met dié gerieflike grootte handeroom. Boonop ruik dit hemels!

Clinique Chubby Stick Moisturizing Lip Colour Balm in Hefty Hazelnut (R230)

’n Bevogtigende lipstiffie in ’n nude-pienk skakering pas by enige uitrusting en gee lippe ’n tikkie kleur en subtiele glans.

Clarins Ever Matte Mineral Powder Compact (R455)

As jou vel geneig is om maklik olierig te word deur die dag is ’n deursigtige poeier in jou laai ’n goeie plan. Tik dit liggies aan om oortollige olie te absorbeer en jou gelaat ’n foutlose mat-afwerking te gee.

Uriage Thermal Water (R140 vir 50 ml)

Suiwer minerale water is tans baie gewild. Hou dié kannetjie in jou laai en spuit dit deur die dag aan jou gesig om jou grimering op te knap en jou vel te verfris en bevog.

Gosh Nail & Cuticle Oil (R99)

Hou jou naels en kutikels bevog en gesond met ’n kutikelolie wat jy in jou etensuur kan aanwend. By Edgars

Estée Lauder Modern Muse Le Rouge Pure Color Envy Sculpting Lipstick in Envious (R345)

Daar is niks wat jou voorkoms kan omtower soos ’n rooi lipstiffie nie. Maak jou gunsteling-helderrooi skakering vandag nog ’n stapel in jou laai. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd

Wat is altyd in jóú lessenaarlaai? Neem ’n foto en deel dit met ons op Instagram saam met die hutsmerk #SARIEskoonheid

Of vertel ons op ons Facebook- of Twitter-blaaie!

Kate Middleton gaan redakteur-redakteur speel