Skoonheidstories

Mooi uit Afrika

As die temperatuur begin daal, ontgeld ons voorkoms dit dikwels. Die goeie nuus is ons is geseën met skoonheidswonders met hul wortels diep in Afrika.

Eeue lank al word aalwyn, maroela-olie, galambotter, ilang-ilang en moringa-olie in skoonheidsrituele gebruik vir hul unieke bestanddele.

“In veral afgeleë gebiede gebruik mense hierdie kure al honderde jare, maar dis eers in die laaste jare dat ons werklik begin begryp waarom hierdie bestanddele so voordelig vir ons vel is,” het dr. Aubrey Parsons, ’n navorsingswetenskaplike van SA, in ’n vorige onderhoud aan SARIE gesê.

Hy het al tyd in die Kalahari deurgebring waar hy saam met die Khoisan navorsing gedoen het oor grondstowwe vir skoonheidsprodukte. Volgens hom het hy nooit gedink hy sou ’n sangoma vir sy navorsing raadpleeg nie!

“Maar hulle is briljant. Hoewel hulle nie die chemie verstaan nie, weet hulle presies watter deel van ’n plant vir watter kwaal gebruik moet word.” Elke element van ons kontinent het ’n unieke “vingerafdruk”, verduidelik hy, en verskille tussen elemente kan reeds by die inhoud van vitamiene, spoorelemente en aminosure waargeneem word.

“Dís waarom skoonheidsprodukte dikwels ’n vermenging van ’n paar botaniese ekstrakte bevat: een in isolasie sal nie noodwendig aan al jou vel se behoeftes voldoen nie.” Om na Afrika te kyk vir skoonheidsinspirasie word ’n al hoe groter neiging, en dr. Parsons glo die grootste deel van ons ontdekkingstog begin nou eers.

“Suid-Afrika het meer plantspesies as die res van die wêreld saam! Selfs ons agter-agterkleinkinders sal nie genoeg tyd hê om al die skoonheidsvoordele van ons land se plantegroei te ontdek nie.”

SARIE.com deel ’n paar van dié Afrika-wonders.

Magiese moringa-olie

Een van die kosbaarste besittings van die antieke Romeinse, Griekse en Egiptiese beskawings was die moringaboom se olie. Dit is veral vir velbeskerming en parfuum gebruik. Só beïndruk was hulle deur die olie se resultate dat hulle selfs hul eie skoonheidsproduk (byna soos die rome wat ons vandag ken) gemaak het om hul vel glad te hou. Die skoon, satyngladde olie van die saad van die moringaboom word in Tanzanië as ’n gesogte teenverouderingsbehandeling ingespan, en staan hier bekend as die “wonderboom” omdat elke deel (blare, neut, blom en bas) gebruik word vir hul genesende en voedende eienskappe. Wat moringa-olie in die skoonheidswêreld onderskei, is dat dit oor meer antioksiderende krag beskik as enige ander kosmetiese olie. Dis ook ryk aan kalsium, vitamien C en A, kalium, koper en yster. Dis boonop ’n stabiele draer-olie, wat dit die perfekte verbindingsmiddel vir velsorgprodukte maak. Parfuummakers is versot op hierdie olie se vermoë om die vlugtigste geur te absorbeer en te behou.

Goue ilang-ilang

Dis danksy ilang-ilang dat die Comore aan die ooskus van Afrika as die “parfuum-eilande” bekend staan. Dié blom van die canangaboom, die bron van die olie, geur selfs die seebries in daardie deel van die wêreld!

Tydens die Victoriaanse era is ilang-ilang gebruik om die kopvel te masseer en haargroei te bevorder, terwyl die Chinese dit aangewend het om bloedsomloop te verbeter en die hart gesond te hou. In Indonesië, waar die canangaboom ook wyd voorkom, word die ilang-ilang-blom op die bed van pasgetroude paartjies gestrooi – die geur is glo seksueel stimulerend. Die vlugtige ilang-ilang-olie word vandag kommersieel vir aromaterapie gebruik, omdat daar geglo word dit verlig hoë bloeddruk en stabiliseer velprobleme. Hierdie goudkleurige olie beloof ook om jou ’n emosionele hupstoot te gee. Ilang-ilang word algemeen in Oosterse en blomparfuums gebruik omdat dit uitsonderlik goed met vrugte-, blom- en woudgeure meng.

Strelende galambotter

Die galambotterboom is inheems in Afrika se savannas en groei net wild. Dit het ’n leeftyd van honderde jare, maar dra slegs een keer per jaar vrugte en galambotterneute. Dié eetbare botter is al eeue lank in Sentraal- en Wes-Afrika ’n integrerende deel van die mense se daaglikse lewe en word veral as huishoudelike kookolie gebruik. Afrika-vroue gebruik ook galambotter (shea butter) om hul vel te bevog, velirritasie te voorkom en littekens te behandel. Die gelerige botter met sy neutgeur is ryk aan proteïene, vitaminene, minerale, kalsium, yster en vetsure. Geen wonder dat galambotter vandag algemeen in die skoonheidswêreld gebruik word nie, want dit beskerm en bevog die vel. Omdat botter smelt wanneer dit met jou vel in aanraking kom, is dit ’n perfekte masseerolie vir moeë of seer spiere. Galambotter word ook in goeie haaropknappers gebruik en help om gebreekte haarpunte te herstel.

Maroelaboom, towerboom

Olifante en ape in Suider-Afrika vergryp hulle gereeld aan oorryp maroelavrugte – met bedwelmende gevolge! Die mens was vinnig om dié neiging na te aap en likeur of mampoer daarvan te maak. In die skoonheidsbedryf is hierdie boom belangrik veral vir sy olie, wat in die neut van die maroelavrug gevind word. Dis ryk aan oleïensuur – een van die beste versagmiddels bekend in dié bedryf. Afrika-vroue gebruik al eeue lank maroela-olie teen rekmerke tydens swangerskap en dié geheim het vinnig onder produkontwikkelaars se aandag gekom. Hulle het bevind die olie help ook om die vel te versterk en is ryk aan antioksidante en vitamien E. Vandag weet ons dat dit die horlosie kan help terugdraai wanneer dit by jou vel kom. Maroela-olie se hoë voedingswaarde en stabiele samestelling maak dit ook ’n gesogte bestanddeel in aromaterapie-formules. 

Onsterflike aalwyn

Die gebruik van dié kanniedood strek so ver terug as 6 000 jaar gelede toe vroeë Egiptiese beskawings die plant in steensketse uitgebeeld het. Die aalwyn staan bekend as die plant van onsterflikheid en is in antieke beskawings as ’n grafgeskenk aan die farao’s gegee. Dis ook hier, in Noord-Afrika, waar die aalwyn sy oorsprong het. Toe Europeërs in die 10de eeu aan hierdie plant bekend gestel is, het hulle dadelik begin om dit as ’n bestanddeel in kruiemedisynes te gebruik. Hulle het bevind dat aalwyn die vel se verdedigingsmeganismes versterk en beskerm teen irritasies – wat dit ’n natuurlike keuse vir ’n sensitiewe vel maak. Vir die Egiptiese koninginne Nefertiti en Cleopatra was dit wel nie nuus nie – hulle het dit eeue tevore reeds hoog aangeslaan as ’n skoonheidsbehandeling om die vel vogtig te hou. Die aalwyn staan ook bekend as die wonderplant, natuurlike heler en brandplant – lg. omdat dit gereeld gebruik word om brandwonde te behandel. Daar word geglo die jel van die aalwyn vorm ’n lagie oor ’n wond en verminder só die kanse op infeksie.

Vandag is daar meer as 300 verskillende soorte aalwyne, waarvan Aloe vera die algemeenste in die skoonheidswêreld gebruik word. Onthou net, nie sommer enige aalwyn kan deel word van jou skoonheidsroetine nie, want sekere spesies, soos Aloe venenosa, is giftig!

 

BRONNE
www.southafrica.info
www.wikipedia.org
www.aroma-essentialoilstherapy.com
www.traderscity.com