Skoonheidstories

‘n Geur met gewete

Jou parfuum ruik nie meer bloot lekker nie – dit het ’n “gewete”bygekry . . .
pureDKNY
(R425 vir 30 ml EDP) gee nie net terug aan die Ugandese vroue wat die vanielje daarvoor pluk nie.  Dís net die begin, sê Trudi Loren, visepresident van parfuumontwikkeling wêreldwyd vir Aramis en  Designer Fragrances. Dié geur lei ’n hele nuwe denkwyse in die parfuumwêreld in.

Hoe was die proses om hierdie parfuum te skep anders as vir vorige geure wat jy geskep het?
Vir pureDKNY moes ons eers ’n volhoubare bestanddeel identifiseer en toe die geur rondom dié enkele bestanddeel bou.

Hoekom het jy vanielje as die hoofbestanddeel gekies?
Eerstens is die vanielje van Uganda ’n wonderlike, natuurlike rou materiaal. Daar was ook reeds ’n sterk volhoubare program wat plaaslike vroue-vanieljeplukkers ondersteun. DKNY help nou saam met die liefdadigheidsorganisasie CARE die vroue van Uganda.

Wat moet parfuum vir ’n vrou doen?
Dit moet haar styl en bui aanvul en haar onmiskenbare kenmerk word.

Watter aspek van pureDKNY maak dit tydloos?
Hoewel die parfuum vele fasette het, is die karakter daarvan vanielje in water. Dit skep ’n klassieke gevoel van gemak en vloeibaarheid.

Wat is jou gunstelingbestanddeel, en waarom?
Ek het heelparty gunstelinge. Elkeen het ’n spesiale plek, afhangend van die soort geur wat ek skep. Slegs een gunsteling sal nie goed werk vir die talle verskillende geure nie.

Watter soort vrou sal van pure DKNY hou?
Ek dink verskillende vroue sal daarby aanklank vind. Daar is eenvoud in ’n geur wat ’n gemaklike aantrekkingskrag het. Boonop is vanielje gerusstellend en dit skep ’n sagte, sensuele gevoel. Dis ’n geur met ’n gewete en sal daardeur spreek tot vroue van alle ouderdomme.

Hoekom was dit vir jou belangrik om ’n geur met ’n gewete te skep?
Daar is soveel dinge in ons wêreld wat ons nie kan beheer nie. ’n Geur met ’n gewete gee ons ten minste, op ’n klein manier, ‘n kans om terug te gee aan die gemeenskap, om vroue van ‘n ander kultuur te help en ‘n verskil te maak in die wêreld – terwyl ons ‘n parfuum geniet!

Dink jy dit sal ’n trend word?
Ek sien dit beslis as ’n nuwe tendens en ek dink dit sal só groei dat ’n bietjie goed gedoen word tydens elke stap in die maak van ’n parfuum.  Ons skep nie meer produkte vir ’n verbruiker wat nét gedryf word deur die idee van verbruik nie. Hulle wil hulself bederf, maar hulle wil ook sien dat die omgewing of iemand anders voordeel trek uit wat hulle koop. 

Is daar ’n wêreldwye skuif in hoe mense parfuum waarneem en kies?
Met die ekonomiese krisis kyk mense vir egtheid en betekenis wanneer hulle iets koop. Dit sal byvoorbeeld ’n parfuumverbruiker lei na meer klassieke, gestruktureerde parfuums met bestanddele waarvan die gehalte hoër is, en wat ekstra voordele inhou.

Was jy spesifiek aangetrokke tot die feit dat juis vroue sou voordeel trek uit pure DKNY?
Om vroue te help word deur die Donna Karan- en DKNY handelsname aangemoedig. Om vroue positief te beïnvloed en hulle die geleentheid te gee om entrepreneurs  te word was dus ’n groot trekpleister om Uganda-vanielje te gebruik.

Buiten om die vroue van Uganda te help, was daar ’n ander rede waarom jy besluit het om egte vanielje te gebruik? Sinteties vervaardigde vanielje is tog meer stabiel.
 Uganda-vanielje het ongelooflike dimensie en diepte. Om dié rou materiaal sowel as die spesiale projek daaragter lief te hê was vir pureDKNY belangrik.