Skoonheidstories

Naellak-idees vir kort naels + roosgoud dié kleur vir Kersfees

Korter en goed versorgde naels is ideaal vir somer. Of jy verkies om jou naels kort te dra en of dit van nature klein is, hier is ’n paar idees om kort naels dié somer steeds glansryk te laat lyk.

1. As jou naels geneig is om kort en klein te wees, kies ligte of nude skakerings, want donker skakerings is geneig om jou naels nog kleiner te laat lyk. Gelukkig is pastel en neutrale skakerings soos grys, ligpienk, sagblou en oranje klassiek en altyd in die mode.

2. Versier jou naels met vertikale strepe of kolle. Dit skep die illusie van lengte.

3. Probeer ’n omgekeerde Franse manikuur deur ’n subtiele wit halfmaan aan die onderkant van jou naels te verf en die res van die nael deursigtig te hou.

4. As jy van naelkuns hou, wend die ontwerp eerder aan die basis van jou naels aan. Dit trek die aandag weg van jou kort naelpunte. Wend ook eerder kleure wat helder of donkerder is aan die onderste helfte van jou naels en ligter kleure aan die punte.

5. Laat een of twee naels uitstaan deur dit met ’n helder of metaalskakering te verf sodat die skakering eerder as die lengte van die nael die aandag trek.

6. Metaalskakerings werk ook goed op kort naels omdat die glans lig weg van jou naels af weerkaats en dit só groter laat lyk. Boonop sal dit, as jou naels begin krakies kry, nie so sigbaar wees soos wanneer dit op langer naels is nie.

 

Die top-naelkleure vir somer

Wat is Kersfees sonder goud, roosgoud, silwer en rooi? Ook vir jou naels! Metaalskakerings soos goud en silwer lyk veral mooi by ’n donkerder velkleur en ’n klassieke rooi of ’n glinsterende roosgoue skakering pas by ’n ligte vel. Jy kan selfs die kleure prettig kombineer en bv. al jou naels rooi verf, en goud of silwer op jou ringvingers.

Probeer dié naellakke:

Sorbet South African Collection in City of Gold (R90)

Roosgoud is al ’n ruk lank hoogmode in die skoonheidsbedryf. Dra die kleur ook op jou naels! By Sorbet-salonne en Clicks

LCN Nail Polish in Oh My! Sea Treasure Ahead (R150 vir 16 ml)

Tooi jou naels in rooskoper blinkers. By uitsoeksalonne of besoek shop.lcn.co.za

Sally Hansen Hard as Nails Xtreme Wear Nail Color in Golden-I (R60)

Dié formule lyk soos fyn goue blinkers op jou naels nadat jy dit aangewend het

Wet n Wild Wildshine Nail Color in Ready to Propose (R25)

Probeer dié naellak as jy van ’n soliede goue kleur op jou naels hou. By Clicks

Chanel Le Vernis Longwear in Liquid Mirror (R450)

Dié mooi silwer skakering is deel van die skoonheidshuis Chanel se Kersgrimeerreeks. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd

Revlon Colorstay Gel Envy in Queen of Hearts (R119)

’n Dieprooi skakering soos dié herinner ook aan Kersfees

Dior Diorific Vernis in Splendor (R440)

Die allerfynste goue deeltjies gee subtiele glans. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd

Lees nou

7 dinge wat jou vel beskadig sonder dat jy dit besef

Selluliet: Probeer dié oplossing vir ’n gladder lyf