FOTO: M.A.C

FOTO: M.A.C

Skoonheidstories

Naweekwenk: Bring só jou beste uit (Deel 2)

Die nuutste mode- en skoonheidstendense word jaarliks onder meer deur die talle modeweke regoor die wêreld beïnvloed. Maar hoe laat jy dié nuwe voorkomste, skakerings en tegnieke vir jóú werk? “Skoonheid gaan hierdie seisoen daaroor om jou beste eienskappe op ’n slim manier te beklemtoon, eerder as om onperfeksies weg te steek,” sê Michelle Lee Collins, plaaslike senior grimeerkunstenaar vir M.A.C. Hiér gee sy en Keagan Cafun, interne senior grimeerkunstenaar vir M.A.C SA, hul topwenke vir hoe jy met die nuutste skoonheidstendense die fokus kan plaas op jou beste eienskappe.

Vir in-die-kol-oogskadu

Hou jou voorkoms eenvoudig, maar steeds indrukwekkend deur oogskadu in een skakering oor jou hele ooglid te gebruik. Probeer skakerings soos vaalbruin, sand, pastelpers of vuil-oranje, wat tans baie in die mode is.

“Verskeie modehuise het dié seisoen oogskadu laag onder die oog aangewend – dit laat jou oë groter en meer oop voorkom,” sê Michelle. Probeer hierdie tegniek met ligte skakerings oogskadu, omdat donker skakerings soos grys en swart meer soos donker kolle onder jou oë kan lyk.

Versprei die oogskadu op jou ooglid eweredig deur die kleur eerste aan die middel van jou oog aan te wend en dit dan na die hoeke van jou ooglid te skakeer, is Keagan se raad.

Probeer: Bobbi Brown Warm Glow Eye Palette (R1 365, beskikbaar vir beperkte tyd), black Ι Up Matte Eyeshadow in 12M (R195) of Almay Shadow Softies Eye Shadow in Lilac (R55)

Advertensie sit ons in Kersfees-bui – lees meer!

Vir welige wimpers

Nóg ’n ongewone neiging dié seisoen is om jou maskara dik en klonterig aan jou boonste en onderste wimpers aan te wend. “Dit gee jou die perfekte grootoog-voorkoms (doe-eyed) en skep definisie wat jou oë laat uitstaan,” sê Michelle.

Kry die voorkoms deur jou maskaraborsel vertikaal voor jou oë te hou en met die punt van jou borsel die maskara opwaarts aan jou wimpers aan te wend.

Krul ook jou wimpers met ’n krultang elke aand voor jy gaan slaap. Só leer jy jou wimpers om opwaarts te groei.

Probeer: Rimmel ScandalEyes Retro Glam Mascara in Black (R110), Clinique High Impact Mascara in Black (R230) of Avon SuperExtend Extreme Mascara in Black (R130)

Bring só jou beste uit (Deel 1)

Vir gewaagde oogomlyner

Werk van jou oë se buitehoeke na die binnehoeke wanneer jy oogomlyner aanwend. Só wend jy jou oogomlyner bo-oor die voue van jou oog aan, wat sorg vir ’n perfekte lyn, sê Michelle.

Dis ook ’n slim plan om twee oogomlyner-borsels te gebruik wanneer jy ’n jel-oogomlyner aanwend. Een waarmee jy jou oogomlyner aanwend en ’n skoon een waarmee jy foutjies maklik kan ‘uitvee’, sonder om alles oor te doen.

Probeer: M.A.C Small Angle Brush (R255) of Maybelline Eye Studio Gel Liner in Black Gold (R100)

Vinnige skoonheid vir propvol somerdae – lees meer hiér!