Skoonheidstories

Hou op om dié velsorgproduk te vrees

Daar’s ’n goeie rede hoekom olie die velsorgwêreld se nuwe obsessie is. Nie net is dit voedend en veerlig nie, dit het ook die perfekte tekstuur om jou vel diep te penetreer en selfs silwerskoon te reinig. Maar baie van ons is skepties om olieprodukte deel van ons velsorgroetine te maak, veral ’n oliereiniger: Sal dit nie my olierige vel nog meer olierig laat nie? Hoe maak dit jou vel behoorlik skoon? Verstop dit nie jou porieë nie? Ons beantwoord jou vrae!

Jou vel word bedek deur natuurlike olie wat sorg dat vog behoue bly. Wanneer jy water en reinigingsprodukte op jou vel gebruik, word dié lipiedelaag afgewas, volgens die velsorghuis Lipidol in ’n persverklaring. Die vog in jou vel ontsnap dan vinniger en dit kan lei tot ’n sensitiewe gelaat wat rooi, droog en vaal lyk.

Oliereinigers is spesiaal geformuleer om jou vel se lipiedelaag aan te vul, terwyl dit oortollige vuilheid verwyder.

A #Ceramide triple threat: Replenishing Cleansing Oil, Youth Restoring Serum Capsules, and Lift & Firm Eye Cream

A photo posted by Elizabeth Arden (@elizabetharden) on

Hoe werk ’n reinigingsolie?

Olie trek olie aan, byna soos ’n magneet, verduidelik Sonette Donker, velsorgkenner van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg. ’n Oliereiniger bevat wateroplosbare olie en dit bind met die vetterige vuilheid en oortollige olierigheid op jou vel se veloppervlak. Sodra jy die reiniger met water meng, los die olie daarin op en vorm ’n melkerige vloeistof wat jy van jou gesig afspoel.

Hoekom moet jy dit gebruik?

Dit werk sagkens op jou vel sonder om dit van sy natuurlike olie te stroop. Dit help om die sebum in verstopte porieë op te los en verwyder grimering doeltreffend – veral onderlaag – omdat dit gewoonlik ook ’n oliebasis het.

Hoe gebruik jy ’n oliereiniger?

Masseer dit in sirkelbewegings op jou droë gesig vir twee tot drie minute. Hoe langer jy dit doen, hoe meer vuilheid verwyder jy. Meng dit dan met water tot dit melkerig word en masseer dit vir nog ’n minuut om seker te maak al die olie los op voordat jy dit afspoel.

Maar maak dit nie jou vel vetterig nie?

Nee. Omdat die olie in water oplos, bly daar nie olie op jou gesig agter as jy dit afspoel nie. Jou vel kan selfs minder olie vervaardig omdat dit nie van die natuurlike lipiedelaag gestroop word nie.

Kyk uit vir dié gewilde olies in reinigers:

• Appelkoospit-olie beveg irritasie en voed jou vel.

• Vitamien E in olie is ’n ryk antioksidant en verbeter jou vel se tekstuur.

• Sonneblom- en jojoba-olie is veral doeltreffend om olierige vuilheid te verwyder.

Probeer dié oliereinigers:

Lipidol Cleansing Face Oil (R80). By Clicks

Die olieformule bind aan enige grimering op jou vel en spoel maklik af.

Vichy Pureté Thermale Beautifying Cleansing Micellar Oil (R262)

’n Oliereiniger met ’n ligte tekstuur - net drie spuitjies is nodig vir ’n skoon gelaat.

Elizabeth Arden Ceramide Replenishing Cleansing Oil (R495)

Dié luukse reiniger bevat omega 3-, 6- en 9-olie asook vitamien E vir intense bevogtiging.

The Body Shop Camomile Silky Cleansing Oil (R175)

Sonneblom- en amandelolie is strelend en help om van olie ontslae te raak sonder dat jou vel droog voel.

Dermaquest Universal Cleansing Oil (R650)

Vir alle veltipes! Dié oliereiniger bevat onder meer vitamien A-olie om vel ook liggies af te skilfer.

Confidence is key. #QuoteOfTheDay

A photo posted by Vichy USA (@vichyusa) on

Bykomende bronne: www.huffingtonpost.com

* Dele van dié artikel het oorspronklik in SARIE se Julie 2013-uitgawe verskyn.

Lees nou

Vadersdag-spyskaart so uit die boeke

Pas jou haarkleur? Vind met dié truuk uit