Skoonheidstories

Jou onderlaag: troef dié 3 tameletjies

Die ideale onderlaag is een van jou belangrikste grimeerkeuses. Kry jy jou formule en skakering reg, lyk jou vel natuurlik en foutloos. Hier is wenke en oplossings om finaal tot siens te sê aan onderlaag wat aangeplak lyk.

Trotse Clarins-vrou bereik Everest-piek

Vra jouself af wat jou spesifieke behoeftes is voordat jy onderlaag koop. Kyk na jou veltipe en gelaatskleur. ’n Onderlaag met ’n mat-afwerking help om olierige vel in toom te hou, terwyl een met bevogtigende bestanddele ’n droë vel hidreer. Besluit ook watter soort bedekking jy verlang. Ligter formules verbloem net die nodigste. As jy velkwessies soos donker vlekke, merkies en rooiheid wil wegsteek, kies eerder ’n swaarder formule wat jou vel meer bedek.

Hoe weet jy as ’n onderlaag nie reg is vir jou nie?

As jy ’n kleurverskil tussen jou gesig en jou nek sien, moet jy jou kleurkeuse heroorweeg. Jou vel behoort natuurlik te lyk en moenie ’n grys ondertoon of skynsel hê nie. As die onderlaag onegalige kolle op jou gesig maak, kan dit wees dat die formule te intens olie beheer en jou vel droog laat. Die kolle kan ook ’n teken wees dat jy meer moet afskilfer. Gereelde afskilfering laat in elk geval enige onderlaag beter lyk!

Uitdaging 1: Hoe kies jy die regte skakering?

Dis moeilik om die regte skakering vir jou velkleur te vind, veral as jy in ’n winkel vol keuses staan met min tyd om elkeen uit te toets. Volg dié wenke:

• Wanneer jy ’n nuwe onderlaag toets, moenie dit te veel in jou vel in skakeer nie. Tik dit liggies van die bokant van jou wangbeen afwaarts tot net onder jou kakebeen. Kies die skakering wat lyk asof dit in jou vel in “verdwyn”.

• Toets altyd onderlaag in natuurlike lig. Vra vir ’n paar toetsbuisies wat jy huis toe kan neem om te sien hoe dit in natuurlike daglig op jou vel lyk.

Moenie onderlaag op jou hande toets nie. Jou hande is gewoonlik meer sonbruin as jou gesig.

Kenner gee raad:

“Is jou gunsteling-onderlaag skielik te lig of te donker vir jou vel? Jou gelaatskleur is geneig om van seisoen tot seisoen te verskil weens eksterne faktore soos sonblootstelling, wind en koue. Kry vir jou twee skakerings onderlaag wat jy tussen die winter- en somermaande kan afwissel. Kies ’n warmer skakering met ’n mat-afwerking vir die somer. Dit komplementeer jou sonbruin gelaat en sorg dat jou onderlaag op warm, vogtige dae hou. Tydens die kouer maande kan jy ’n ligter skakering kies in ’n formule wat jou vel ekstra bevog.”Jody Bunkell, plaaslike groep-kommunikasiebestuurder van Clarins.

Pour illuminer toutes les carnations, une seule solution : #TrueRadiance #MakeUp

A photo posted by Clarins France (@clarinsfr) on

Speel saam en doen ons toets: Soos watter bekende grimeer jy?

Uitdaging 2: Hoe kies jy die regte formule?

Dis belangrik dat jy duidelik weet wat jy van ’n onderlaag verwag. Jou formule moet jou leefstyl weerspieël en byvoorbeeld ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) bevat as jy baie in die son is of ekstra vog gee as jy in ’n lugversorgde omgewing werk. Deesdae is dié slim, innoverende formules gewild:

• Hoë definisie (HD): Hoëdefinisie-onderlae is tans een van die skoonheidswêreld se nuutste gunstelinge. Mikroskopiese ligweerkaatsende deeltjies in die formule sorg dat lig in alle rigtings van jou vel af bons. Dít skep die illusie van ’n egalige en foutlose veltekstuur sodat jy fyn lyntjies, plooie en vlekke moeiliker raaksien. HD-onderlae is ook baie bevogtigend en help so om jou vel plomp en stralend te laat lyk.

• Serum-formule: Serum-onderlae bied nie net sysagte bedekking nie, maar bevat ook ’n mengsel van aktiewe bestanddele wat velsorgkwessies soos donker vlekke, ’n onegalige veltekstuur, plooie en fyn lyntjies mettertyd verbeter. Die aktiewe bestanddele in dié onderlae absorbeer maklik sodat net ’n dun lagie pigment oorbly wat lig op jou vel voel.

• Mat-afwerking: ’n Onderlaag met ’n mat-afwerking help om oortollige olie te absorbeer vir ’n perfekte gelaat. Dié formules hou lank op jou vel in alle weeromstandighede.

• Douerige afwerking: ’n Stralende vel bly een van die grootste skoonheidstendense. Onderlaag met ’n douerige (dewy) afwerking het ’n veerligte, romerige tekstuur en bedek jou vel minimaal sodat dit natuurlik lyk.

FOTO: Facebook - Estée Lauder

FOTO Facebook – Estée Lauder

Uitdaging 3: Hoe wend jy jou onderlaag foutloos aan?

Wend altyd jou onderlaag in natuurlike lig aan en skakeer dit goed, sê Jody Bunkell van Clarins. Begin in die middel van jou gesig by jou neus en mondhoeke (omdat jou vel hier gewoonlik meer bedekking nodig het weens velkwessies soos verstopte porieë, pigmentasie en rooiheid) en werk na buite. Gebruik jou vingers as jy van ligte tot medium bedekking hou.

“Moenie die onderlaag in jou vel invryf nie, versprei dit net liggies met tikbewegings bo-oor jou vel,” sê sy. Jou vingers het natuurlike hitte wat die produk makliker laat aangly. As jy wil, kan jy daarna met ’n effens klam sponsie oor jou gesig vee om die afwerking verder te versag.

Gebruik ’n onderlaagborsel of sponsie vir medium tot volle bedekking. “Jy’t meer beheer oor die aanwending en jy versprei die onderlaag meer egalig sodat dit nie streperig lyk nie.” Onthou om jou onderlaagsponsie ná sowat twee maande te vervang om te keer dat bakterieë op die sponsie opbou.

Probeer dié onderlae:

Nuut! The Body Shop Shade Adjusting Drops Lightening en Darkening (R300 elk)

Die skoonheidshuis The Body Shop het onlangs dié twee nuwe produkte bekend gestel waarmee jy self die skakering van jou vloeibare onderlaag kan verstel om perfek by jóú gelaatskleur te pas. Wit en pienk pigmente in die Lightening-druppels verlig jou onderlaag en neutraliseer oranje ondertone, en ’n mengsel van swart en rooi pigmente in die Darkening-druppels maak jou onderlaag donkerder en keer dat jou gelaat vaal lyk.

HD-onderlaag

Dior Diorskin Forever Perfect Makeup Fluid Foundation SPF 35 – PA +++ (R815)

Serum-onderlaag

Nimue Pro Age Foundation (R495), in 4 skakerings. Beskikbaar by uitsoeksalonne

Mat-afwerking

Clarins Everlasting Foundation+ SPF 15 (R415)

Douerige afwerking

Estée Lauder Double Wear All-Day Glow BB Moisture Makeup SPF 30 (R450)

Britney Spears verras by Billboard-rooitapyt