Skoonheid
Skoonheidstories

Ons beantwoord jou skoonheidsvrae

SARIE-lesers vra, en ons kry die antwoorde

Anita du Plessis vra op Facebook:

Wat werk vir donker kringe onder my oë?

Dit is een van die algemeenste vrae wat ek kry. ’n Oogroom kan help om die voorkoms van donker kringe te verminder, en ek glo elke vrou behoort ’n teenveroudering-oogroom te gebruik. Donker kringe kan ook met grimering weggesteek word. ’n Verbloemer is die beste produk om te gebruik. Kies ’n romerige formule een skakering ligter as die vel onder jou oë. Só lyk dit helderder. Vermy ook donkerblou oogskadu as jy sukkel met donker kringe, want dit laat die vel onder jou oë net nog donkerder lyk.

Gina Myers, grimeerkunstenaar van Elizabeth Arden

Janina Symens Steyn vra op Facebook:

Hoekom sukkel ek in my dertigs nog met puisies?

’n Veluitslag in jou dertigs kan deur enigiets van ’n baie olierige vel en skommelende hormone tot jou dieet veroorsaak word. Produkte wat spesifiek werk om onsuiwerhede te behandel is gewoonlik die beste opsie, sê Natasha Bennett, kommunikasiebestuurder van Clinique. Jou velsorgroetine is baie belangrik en die produkte wat jy gebruik, kan ’n groot verskil maak. Die internasionale skoonheidskenner Paula Begoun verduidelik in haar boek 20 Beauty Myths Busted! What Really Works for Clear, Younger-Looking Skin watter produkte jy behoort te gebruik: Kies ’n sagte reiniger, skilfer jou vel af met ’n produk wat salisielsuur (salicylic acid) bevat – dis antibakterieel en antiinflammatories – en wend ’n vogroom aan met bensoïel-peroksied (benzoyl peroxide), want dit vernietig die bakterieë wat aknee veroorsaak.

Anelise Schoonraad vra op Facebook:

My wenkbroue is yl. Hoe kan ek dit ’n bietjie voller laat lyk?

Kies ’n oogskadu wat dieselfde kleur as jou wenkbroue is. Gebruik dan ’n wenkbrou-borsel (gewoonlik een met ’n skuinspunt) en kleur dit liggies met oogskadu in. Begin waar die haartjies die minste is en gebruik kort hale om jou wenkbroue voller te laat lyk. Staan verder weg van die spieël om te kyk dat albei wenkbroue se vorm en kleur natuurlik lyk.

Alicia Schutte, grimeerkunstenaar van Bobbi Brown

Liz-Mari Vos vra op Facebook:

Vanaf watter ouderdom moet ek nag- en oogroom gebruik?

Vanaf 25. Soek ’n oogroom of –serum wat pofferigheid en donker kringe teenwerk, maar wat ook fokus om die voorkoms van fyn lyntjies te verminder. Omdat ’n nagroom se doel soveel anders is as een vir die dag, is dit belangrik om ’n nagroom te gebruik. Die meeste teenveroudering-voordele lê in die bestanddele van ’n nagroom.

– Jody Hyam, kommunikasiebestuurder

Yolandi Dreyer, leser van Alberton, vra:

Ek dra nooit my hare los nie, want ná 10 minute val dit plat. Hoe kry ek volume wat hou?

Om volume te skep begin by hoe jy hare droogblaas. Nadat jy dit gewas het, moet jy dit droogblaas in die teenoorgestelde rigting as wat dit natuurlik lê. Hou aan tot dit sowat 75% droog is. Wend dan ’n produk aan wat spesifiek ontwikkel is om volume by jou wortels te skep. Gebruik ’n ronde borsel en blaas jou hare by die wortels droog. Jy kan ook jou hare laat sny sodat dit meer volume het. Só ’n styl het korter lae bo wat langer word na onder, of ’n paar versteekte korter lae tussenin om hare ekstra oemf te gee.

– Matthew Monsoor, haarkapper en ambassadeur van TRESemmé

Emmerentia Coetzer Olivier, leser van Southbroom in KwaZulu-Natal, vra:

Ek moet kort-kort lipstiffie aanwend, want dit hou net nie. Wat kan ek doen?

Gebruik ’n lipomlyner wat lank hou (long-wearing) – kies een met ’n sagte punt en in dieselfde kleur as jou lipstiffie. Kleur jou hele bo- en onderlip in. Dit sal die lipkleur wat jy boor aanwend beter laat klou. Dit sorg ook dat jy steeds kleur op jou lippe het, al sou jou lipstiffie afkom. Wend dan lipstiffie met ’n borseltjie aan.

–Natasha Zeeman, grimeerkunstenaar en opleier, CK One Color Cosmetics

Donett Havenga, leser van Rustenburg, vra:

Ek sukkel baie met ’n droë vel, ongeag die seisoen.

’n Droë vel beteken die buitenste beskermingslaag is beskadig en te veel vog ontsnap. Lyfrome met natuurlike olies, soos amandelolie, en bestanddele wat ’n soortgelyke samestelling as jou eie vel het, is ideaal. Soek vir bestanddele soos aminosure, urea en gliserien, want dit vang vog in die boonste laag van jou vel vas.

Marlini Govender, handelsmerkbestuurder van Eucerin