Charis Labuschagne
Skoonheidstories

Op jou mooiste: Beskerm jouself teen die son, selfs in die winter!

Tydens die onlangse bekendstelling van Vichy se nuwe velsorgprodukte het dié skoonheidshuis die uitslae van nuwe navorsing onder vroue oor hul vel met ons gedeel. En wat het hierdie vroue die meeste begeer? ’n Perfekte, gloeiende, egalige vel.

Dit was geen verrassing om te hoor dat die son die sondaar is wat ons van hierdie ideaal beroof nie. En onthou, die winterson is net so skadelik soos in die somer. Dr. Hetesh Pitamber, ’n dermatoloog van Johannesburg, het tydens die bekendstelling benadruk dat blootstelling aan die son die meeste tekens van veroudering veroorsaak, veral donker vlekke. Hoewel ons hier in Suid-Afrika die vele sonnige dae geniet, weet min van ons hoe om onsself teen die son te beskerm.

Ek het dr. Pitamber gevra om ’n paar wenke te deel:

  1. Hoe ligter jou vel is, hoe hoër moet die SBF (sonbeskermingsfaktor) in jou sonskerm wees. As jou vel baie lig is, moet jy ten minste ’n SBF van 50 gebruik omdat jy vinniger rooi brand as iemand met ’n donkerder vel.
  2. Jy moet altyd sonskerm aanwend, al dink jy jy gaan nie die dag in die son deurbring nie. Sonstrale skyn selfs deur jou motorruit.
  3. Die blootstelling aan die son in ons jong dae veroorsaak vroeë veroudering later in ons lewe. Soos dr. Pitamber sê: “What you do in your youth is what you pay for later.” Beskerm jou kinders van kleins af.
  4. Onthou om jouself goed met sonskerm te smeer wanneer jy gaan swem. Omdat water sonstrale weerkaats, brand jy dikwels vinniger as jy in die water is. Dieselfde geld as jy gaan ski.
  5. Baie van ons wend te min sonskerm aan. Gebruik ’n teelepel vol op jou gesig. En moenie die res van jou lyf, soos jou nek en hande, afskeep nie.