Skoonheidstories

Op jou mooiste: Die 3 belangrikste fokuspunte wanneer jy grimeer

Ons skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, blog:

Estée Lauder se grimeerkunstenaar, Chris Williams, het vandeesweek ’n paar grimeerwenke gedeel wat jy daagliks kan inspan om op jou mooiste te lyk.

Sy belangrikste wenk is om nooit die 3 L’e af te skeep wanneer jy grimeer nie: “lashes, lips en luminosity”.
“Geen vrou moet by die deur uitstap sonder dat sy aandag hieraan gegee het nie.” Wend dus ’n lagie maskara en ’n mooi lipkleur aan! Donker pers-kleure soos pruim en bessie is die volgende groot tendens, sê hy.
Omdat soveel aandag op jou lippe gevestig word wanneer jy ’n donker lipkleur dra, is dit belangrik om dit perfek aan te wend. Gebruik ’n lippotlood op die buitelyne van jou lippe voordat jy lipstiffie aanwend. As jy nie van ’n lippotlood hou nie, kan jy die buitelyne van jou lippe met lipstiffie en ’n lipkwassie omring.

Van links na regs: Revlon Super Lustrous Lipstick in Berry Couture (R120); Lancôme Rouge in Love in Midnight Rose (R285); Clarins Rouge Eclat in True Aubergine (R255) FOTO: Elmari de Vos

Van links na regs: Revlon Super Lustrous Lipstick in Berry Couture (R120);
Lancôme Rouge in Love in Midnight Rose (R285);
Clarins Rouge Eclat in True Aubergine (R255)
FOTO: Elmari de Vos

Gebruik verbloemer om ’n stralende vel te skep, veral onder jou oë om donker kringe ligter te maak en waar jy merkies en vlekkies het.

“Tik jou verbloemer met ’n kwas aan pleks van om jou vingers te gebruik. So ‘druk’ jy die verbloemer in jou vel en lyk dit egaliger.

Catrice Camouflage Cream in Ivory (R40) FOTO: Elmari de Vos

Catrice Camouflage Cream in Ivory (R40)
FOTO: Elmari de Vos

Moet nooit jou wenkbroue afskeep nie. As jy dit met ’n potlood inkleur is dit belangrik om dit met poeier of oogskadu te set, anders gaan dit oor jou gesig smeer wanneer jy per ongeluk daaroor met jou hand vee.