Skoonheidstories

Op jou mooiste: Ons gunsteling-sakpasprodukte

Charis Labuschagne, skoonheidsredakteur

Ek glo jy moenie jou wenkbroue afskeep wanneer jy grimeer nie. Elke oggend kleur ek my wenkbroue noukeurig in, kam dit netjies en smeer ’n tikkie was aan om dit in plek te hou. Ek is mal oor GOSH Eye Brow Kit (R155) omdat dit ’n enkele produk is met alles wat jy nodig het om jou wenkbroue op hul beste te laat lyk – drie oogskadu-skakerings spesifiek ontwikkel vir jou wenkbroue, was en ’n borseltjie. (Beskikbaar by Edgars en Red Square).

 

Liesl du Toit, skoonheidsassistent


 In die winter word my vel verskriklik droog en ’n heerlike lyfroom is my grootste bederf. Hoewel daar ’n wonderlike verskeidenheid op die mark is, bly my gunsteling Johnson’s Baby Moisturising Lotion (R55 vir 500 ml). Ek is mal oor die sagte babapoeier-reuk wat nie ander geure soos my parfuum oorweldig nie. Die formule is ook lig genoeg dat dit nie my vel olierig laat nie, maar die hele dag bevog en sag laat voel.

 

 Phyllis Green, senior-fotograaf en boekeredakteur

Ek gaan nie uit die huis uit sonder om oogomlyner en maskara aan te sit nie. My gunsteling-maskara? Maybelline Great Lash Mascara (R100). Dis bekostigbaar en dit wérk, want dit maak nooit klontjies op my wimpers nie.

 

 Gloria Edwards, senior-joernalis

Ek het lanklaas onderlaag gedra omdat my vel so sensitief is. Voordat ek ’n nuwe produk probeer, moet ek nogal moed opbou, want enigiets kan my vel maklik laat uitslaan. Toe ek saam met een van die SARIE-uitgawes ’n monstertjie van Revlon se nuwe Nearly Naked Makeup  (R169) gekry het, het ek huiwerig, maar nuuskierig die pakkie oopgeskeur om dit te toets. Dit was ’n goeie besluit! Die kleur was toevallig perfek vir my vel, maar dit is die sagte, ligte tekstuur wat die truuk gedoen het. Dit voel én lyk natuurlik. Ek het dit sommer die volgende dag vir my gaan koop.

Elmari de Vos, intern

 Lipglans is ’n moeilike produk om te koop. Jy betaal baiemaal ’n fortuin vir ’n produk wat veronderstel is om lank op jou lippe te bly, net om te ontdek – nadat jy jou oggendkoffie gedrink het, dat jou lipglans op jou koffiebeker sit. ’n Vriendin het my aangemoedig om essence XXXL Shine Lipgloss te probeer. Vir net R25 kry jy ’n lipglans wat jou lippe bevog en kleur gee sonder om dit taai te maak. Dit hou ook lekker lank op jou lippe. Ek is mal oor die skakering, Big Night Out. Dis neutraal genoeg om in die dag te gebruik, maar gee jou lippe genoeg glans om elegant te lyk in die aand.