Skoonheidstories

Op jou mooiste vir ’n fees

1. Nuwe lewe vir jou vel
“Kies ’n produk met kafeïen en lemoen om ’n moeë, vaal vel aan die einde van die jaar te verhelder en die tekstuur te verbeter,” sê Val Garland, kreatiewe raadgewer van Yves Saint Laurentgrimering. YSL se nuwe Top Secrets Flash Radiance Skincare Brush vernuwe jou vel met koringproteïene, terwyl die aanwendingsborseltjie sirkulasie verbeter. Clarins Beauty Flash Balm hou jou mooi met rys-stysel en olyfboom-ekstrak.

2. Verbloem reg
“Donker kringe om die oë is iets waarmee baie vroue sukkel, maar met die regte behandeling sal jy dadelik die verskil sien,” sê grimeerkunstenaar Algria Ferreira.
Volgens haar is dit ’n groot fout om onderlaag ook om die oogdeel te gebruik: “Die tekstuur is te swaar vir jou oë en jy kan dit dadelik sien.”
Revlon ColorStay Under Eye Concealer SPF15, Almay Bright Eyes Eye Base Concealer of La Prairie Light Fantastic Cellular Concealing Brightening Eye Treatment.

3. Oggendvars oë
Donker kringe, pofferigheid en fyn lyntjies laat ’n mens ouer en moeg lyk. Gelukkig kan jy vinnig hiermee klaarspeel: Givenchy No Surgetics Plasti Sculpt Lifting Gel Eye De-Puffer en Garnier Nutritionist Caffeine Eye Roll-On sal jou oë vinnig opknap en is maklik om aan te wend. Die aanwendingsrollertjie van vlekvrye staal verkoel jou vel om pofferigheid verder teen te werk.

4. Wonder-wenkbroue

“Goed versorgde wenkbroue kan die illusie van ’n gesigontrimpeling skep – dit laat jou hele gesig oop en skoon lyk,” sê grimeerkunstenaar Lisa Cloete.

“Sorg dat jou wenkbroue in die regte vorm gepluk is en versterk die kleur met ’n oogskadu so na as moontlik aan jou wenkbrou-kleur. Wenkbrou-jel sal hulle perfek netjies hou.”

Estée Lauder Brow Perfecting Duo bevat ’n kleurpoeier en waks wat wenkbroue opknap. Of kies The Body Shop Brow & Lash Gel.

5. Lig vir ’n volwasse vel
 ’n Ouer vel vra ekstra vog en vitamiene, daarom is ’n room-onderlaag, wat jou vel eweredig laat lyk, ideaal. “Dit sal ook nie fyn lyntjies beklemtoon soos ander onderlae nie,” sê grimeerkunstenaar Lisa Cloete. L’Oréal Age Re-Perfect Re-Plumping Foundation bevat vitamien E en kollageen wat jou vel beskerm. Ook Clarins Super Restorative Tinted Cream sal droogheid en veroudering teenwerk.

6. Onthou die geur

’n Nuwe geur sorg dikwels vir ’n nuwe hoofstuk in jou lewe. Grimeerkunstenaar Adelle Jung waarsku dat jou wintergeur te swaar kan wees vir die somer. “Die warmer weer kan dit ook anders laat ruik,” sê sy.

Begin hierdie somer nuut met ’n vars blommegeur soos Marc Jacobs Daisy, of ander somergeure soos CK in 2U POP for Her of Davidoff Cool Water Woman.

7. Fotoperfekte vel
Vir merkies of vlekke op jou gesig het jy ’n onderlaag nodig wat goeie bedekking bied. “Kies een wat die probleemdele behandel en die jare terugdraai,” sê velsorgkenner Stephanie Hugo.
Chanel Lift Lumière Firming And Smoothing Fluid Makeup SPF15 speel op só ’n manier met lig dat fyn lyntjies en vlekkies minder sigbaar is. Kanebo Sensai Fluid Finish weerkaats weer glad nie lig nie – perfek vir jou Kersfoto’s!

8. Soenbaar
Wanneer jy partytjie hou, wil jy met min moeite heeltyd mooi lyk. Daarom is ’n gekleurde lip-opknapper ideaal. “Kies ’n gekleurde lipsalf. Dit behandel jou lippe en gee kleur met ’n romerige tekstuur,” sê M.A.C-grimeerkunstenaar Liz van der Merwe. Boonop is dié produk perfek vir jou strandsak: “Dit sal nie soos ’n lipglans aan jou hare vassit as die wind waai nie.”

9. Blou is die kleur

Wees gewaarsku: Blou is nie vir almal nie, maar as jy dit reg doen, is dit treffend. “Intense blou gee nuwe lewe aan oë,” sê grimeerkunstenaar Lisa Cloete. Gebruik ’n ligblou oogskadu oor jou hele ooglid (tussen die oogvou en die wimpers) en kleur die binneste hoekies met ’n donkerblou oogskadu in. Tik ook die donkerblou liggies teenaan jou wimpers – bo én onder. Wend dan swart of donkergrys in die middel van die oogvou aan en skakeer na binne en buite om die twee bloue te meng.

Koop ’n palet met al dié kleure, soos Dior 5 Couleurs Eyeshadow in Twilight of Lancôme Color Focus Palette.

10. Grootoog
’n Oogpotlood kan jou oë groter laat lyk en gee ekstra definisie. Só glo grimeerkunstenaar Algria Ferreira. “Gebruik ’n ligte (wit of goue) oogpotlood aan die binnekant van jou onderste ooglid om jou oë oper en groter te laat lyk.’n Donker kleur op jou boonste wimpers (jy trek die strepie ín jou wimpers) sorg vir ’n bietjie drama.” Almay Bright Eye Liner/Highlighter Duo in Dark Chocolate And Shell het twee nommerpas kleure in een, of probeer Clarins Eye Pencil in Mordoré Bronze.

11. Gladde tekstuur
As jy hou van ’n ligte bedekking met ’n feitlik onsigbare tekstuur is ’n goeie gesigpoeier noodsaaklik. “Gesigpoeier gee jou vel dadelik ’n egalige tekstuur,” sê Telma Gomes, bemarkingsbestuurder van Lancôme. “Wend dit met ’n borsel aan vir ’n veerligte afwerking of gebruik ’n sponsie vir ’n effens swaarder bedekking.”
Jy kan ook poeier bo-oor jou onderlaag gebruik om olie in toom te hou en ’n pêrelagtige afwerking te verkry. Probeer Lancôme Color Ideal Powder 03, Environ Colour Compact Powder of Elizabeth Arden Ceramide Skin Smoothing Loose Powder.

12. Bekoorlike wimpers
Maskara is die ‘klein swart nommertjie’ van die skoonheidswêreld. Kies een wat by jou styl en persoonlikheid pas. Estée Lauder Sumptuous Bold Volume Lifting Mascara sorg vir dramatiese wimpers, terwyl L’Oréal Oil Architecte Carbon Gloss Mascara jou wimpers netjies definieer.

13. Jy skitter
“Wanneer jy lyfblinkers dra, voel jy onmiddellik sexy,” sê grimeerkunstenaar Alex Botha. “Wend dit op jou sleutelbene aan – ’n baie sexy deel van ’n vrou se lyf – en trek aandag sonder dat jy te veel verklap.”
Probeer Kangol Clubbing Collection Body Glitter Gel. As jy ’n poeier verkies, is The Body Shop Brilliance Powder vir jou.

14. Verbruin vinnig

“Die son en sonbeddens is deesdae al hoe meer taboe. Daarom is ’n selfverbruiner die antwoord vir ’n langdurige sonbruin vel,” sê Adelle Jung. “Dis perfek vir die strand, waar ’n gekleurde lyfglans sal afwas.”

Clarins Delicious Self Tanning Cream.

Probeer Clarins Delicious Self Tanning Cream, Lancôme Flash Bronzer of Nivea Sun Self Tan Spray.

15. Lyfglans
As jy nog nie tyd gekry het om ’n bietjie kleur op jou lyf te kry nie, kan jy ’n lyfglans probeer. Een wat jou vel ’n sonbruin skynsel gee, is perfek. Dit was ook maklik weer af.
“As jou vel ’n gesonde goudbruin gloed het, voel jy sommer dadelik lewenslustig,” sê Grimeerkunstenaar Adelle Jung.
Wend Rimmel Sun Shimmer Instant Tan of The Body Shop Body & Leg Shine aan jou bene vir ’n  ligte sonbruin voorkoms. Dit bevog sommer terselfdertyd.

16. Blosend
“Kleur gee lewe. Daarom gee blosser jou gesig dadelik ’n vars voorkoms,” sê grimeerkunstenaar Alex Botha. Nuwerwetse blossers spog met meer as een skakering van pienk en sorg vir ekstra kleurdimensie. Beproef Clinique Blushing Blush Powder Blush in Bare Nudes en Chanel Blush Duo Tweed Effect in Tweed Pink.

17. Verfris jou grimering
Die somerhitte kan sy tol eis op grimering. “Laat ’n verfrissende sproei tot jou redding kom – dit bevat vitamiene en minerale wat jou vel bevog en sorg dat jou grimering nie afsmelt nie,” sê Liz van der Merwe van M.A.C. Laat Clarins Fix’ Make-Up Refreshing Mist Long-Lasting Hold en M.A.C FIX+ vir jou vel sorg wanneer die kwik styg.

18. Reguit dos
As jy van krullerigheid ontslae wil raak, kies ’n opknapper wat jy in jou hare kan los, verduidelik haarstilis Alwyn van Wyk, wenner van die L’Oréal Professionnel Color Trophy. “Probeer om nie jou hare te veel te vryf terwyl jy dit droogmaak nie.” Eksperimenteer met opknappers soos L’Oréal Vitamino Color Leave In Cream en Kérastase Nutridefense Spray. Gebruik GHD Smoothing Balm For Hair Straightening op klam hare voor jy dit droogblaas.

19. Pragtige krulkop
Gedefinieerde krulle soos in die 70’s is groot modenuus, en volgens Alwyn van Wyk is dit nie moeilik om hulle te skep nie. “Moenie jou hare kam nadat jy dit gewas het nie. Gebruik net ’n sproei wat jou krulle sal definieer, soos Kérastase Oleo-Curl Spray. Gebruik daarna ’n tweede sproei wat jou krulle sal laat hou. Probeer L’Oréal Tecni Art Curl Up Spray. Moet dan nie aan jou hare vat voor dit byna heeltemal droog is nie.”

20. Geniet jou fyn hare
Moenie kla as jou hare baie dun is nie. Volgens Alwyn is die geheim van fyn hare om nie taai haarprodukte te gebruik nie en hare te beskerm teen hitte. “Gebruik ’n opknapper wat jou hare effens laat swel, soos Kérastase Volumactive Expanseur Spray, en begin deur die wortels eerste droog te maak – jy kan dit kop onderstebo doen vir nog meer volume,” sê hy. Probeer ook Redken se nuwe Body Full Carbo-Bodifier vir ekstra volume.