Skoonheidstories

Parfuum 101 – jou eie parfuumgids DEEL 3

Al ooit gewonder wat beteken basis- en hartnote, of EDP en EDT? Ons beantwoord die belangrikste vrae oor parfuum.

Wat beteken top-, hart- en basisnote?

Die topnote bevat die mees vlugtige bestanddele wat die gouste verdamp. Dis gewoonlik sitrusnote (soos nartjie, suurlemoen en pomelo), ligte blomnote (soos freesia en dallelie) en waternote. Dis ook die note wat jy eerste ruik  wanneer jy parfuum aanspuit.

Die hart van ’n parfuum bevat bestanddele wat vir ’n uur of twee langer op jou vel hou. Dis gewoonlik die  ryker blomnote (soos roos, soetemaling en ilangilang), speserynote (soos naeltjie, kaneel, peper en neutmuskaat) en sommige ligter houtnote.

Die basisnote vorm die grondslag en bly op jou vel vir tussen 4 tot 6 uur. Algemene basisnote sluit in houtnote (soos patsjoelie, sandelhout en sederhout), soet note (soos vanielje en tonkaboontjie) en mos-note. Jy ruik dié note  eers heelwat later nadat jy die parfuum aangespuit het.

FEIT: Daar word jaarliks sowat 1 000 nuwe parfuums wêreldwyd bekend gestel – Max Priebatsch, bemarkingsbestuurder van P&G Prestige in SA.

Wat beteken EDP, EDT en EDC?

Parfuum bevat verskillende bestanddele, waaronder parfuumolie wat sorg vir die heerlike reuk. Die konsentrasie   olie het ’n invloed op hoe sterk jou parfuum ruik en hoe lank dit op jou vel hou.

EDP staan vir Eau de Parfum en bevat ’n hoër konsentrasie olie as EDT en EDC. Dit is dus  sterker en gaan langer hou. EDP is ook gewoonlik duurder as EDT en EDC.

EDT As jy van ’n ligter parfuum hou, is ’n EDT, oftewel Eau de Toilette, met ’n laer konsentrasie olie ideaal. Dit hou net nie so lank soos EDP op die vel nie.

EDC (Eau de Cologne) bevat die laagste konsentrasie olie en is ’n baie ligte geur. Omdat dit nie  so lank op jou vel hou nie, is dit heerlik om in die somer te gebruik, want jy kan dit gereeld deur die dag aanspuit.

Bykomende bron: Fragrance Foundation

Lees hier die ander hoofstukke in dié reeks: