Sandra Bullock FOTO Gallo Images/Getty Images

Sandra Bullock FOTO Gallo Images/Getty Images

Skoonheidstories

Pasop! Dié 5 grimeerfoute laat jou ouer lyk

Jou daaglikse grimeerroetine kan jou dalk jare ouer laat lyk! Ons kyk baie keer na Hollywood-sterre vir inspirasie vir ’n foutlose en glansryke voorkoms. Maar soms begaan dié bekendes onwetend ’n grimeerfout wat jare by hul voorkoms voeg. Maak jy dalk ook een van dié foute?

Hou nóú op met dié naelkleure dra

1. Jou onderlaag pas nie by jou natuurlike velkleur nie

Die fout? ’n Onderlaag wat ligter as jou natuurlike velkleur is, laat jou gesig vaal en leweloos lyk, terwyl ’n onderlaag wat te donker vir jou velkleur is jou gesig swaar en weggesteek laat lyk.

Die oplossing: Wanneer jy ’n nuwe onderlaag in die winkel toets, moet jy dit nie te veel in jou vel in skakeer nie. Tik dit liggies van die bokant van jou wangbeen afwaarts tot net onder jou kakebeen. Kies dan die skakering wat lyk asof dit in jou vel in “verdwyn”.

Die aktrise Mindy Kaling se onderlaag op dié foto is net een skakering te lig.

Hiér “verdwyn” haar onderlaag in haar vel in.

 

2. Jy dra lipstiffie-skakerings wat te donker is

Die fout? Soos ons ouer word, verloor ons lippe fermheid. Nes ’n klein swart rokkie jou meer slank kan laat lyk, kan donker lipstiffieskakerings met ’n mat-afwerking jou lippe ook plat en kleiner laat lyk.

Die oplossing: Mik eerder vir meer neutrale of rosige lipskakerings. As jy wel een van dié seisoen se gewilde bruin, bessie of wynrooi skakerings wil dra, kies formules met ’n romerige satyn- of glansafwerking. Selfs net ’n tikkie deursigtige lipglans in die middel van jou lippe laat jou jeugdiger lyk.

Aktrise Sandra Bullock se donker lipskakering lyk saam met haar dramatiese ooggrimering swaar op haar gesig.

Hiér laat haar sagpienk lipstiffie haar meer jeugdig lyk.

 

3. Jy wend donker oogomlyner aan die onderkant van jou oë

Die fout? As jy ’n donker oogomlyner aan die onderste waterlyn van jou oë aanwend, lyk jou oë maklik kleiner en meer ingesonke. Dit trek ook die aandag na fyn lyntjies en plooie rondom jou oë.

Die oplossing: Omlyn altyd jou oë se boonste wimperlyn ook vir ’n grootoog-voorkoms en kies eerder sagter skakerings soos bruin of grys.

Weens donker ooggrimering reg rondom haar oë vertoon aktrise Reese Witherspoon se oë kleiner.

Danksy ’n sagter bruin oogomlyner-skakering lyk Reese se oë op dié foto meer oop.

 

4. Jy gebruik die verkeerde skakering blos en wend dit verkeerd aan

Die fout? Baie vroue verkies soos hulle ouer word ’n meer neutrale kleur blosser in bv. ’n goue of ligbruin skakering, maar dit kan jou vaal laat lyk. Moet ook nie blosser onder jou wangbene aanwend nie. Dit kan jou gesig af trek.

Die oplossing: Almal het ’n spatsel kleur nodig en ouer vroue kan veral blosser gebruik om die illusie van fermer vel te skep. Kies ’n bruinpienk of rosige pienk skakering – dit pas by die meeste vroue. Skakeer die blos vanaf jou wange opwaarts tot by jou slape.

Die aktrise Cate Blanchett se oranjekleurige blos lyk op dié foto onnatuurlik.

Hiér lyk Cate se sagpienk blos natuurlik en jeugdig.

 

5. Jy vul nie jou wenkbroue in nie

Die fout? Fyn, dun wenkbroue laat jou moeg en ouer lyk, terwyl goedversorgde en ingevulde wenkbroue jou gesig raam en definieer en só jou gesig jonger laat lyk.

Die oplossing: Vir weliger wenkbroue, kies ’n skakering na aan die kleur van jou haarwortels. Vul jou wenkbroue in deur aan die onderkant ’n fyn lyntjie met jou potlood of oogskadu te trek. Skakeer dan die lyntjie met ’n hoekige wenkbrouborsel na bo.

Aktrise Kated Hudson se wenkbroue verdwyn op dié foto en dit laat haar voorkoms effens onafgerond lyk.

Met netjiese, ingevulde wenkbroue lyk sy supersexy en afgerond.

 Bronne: www.elle.com, www.realsimple.com, www.oprah.com

Vanieljekrisis vir roomys-liefhebbers!