mei08artikel2c
Skoonheidstories

Prag en praal

Ons het al vele skoonheidsneigings beleef: die natuurlike voorkoms, die grunge-voorkoms, die minimalistiese voorkoms en onlangs die slummy-mummy-slonskous-voorkoms. Nou is daar die gesofistikeerde rooitapytvoorkoms – dink Katharine Hepburn, Vivien Leigh, Marilyn Monroe. En met moderne produkte is alles moontlik. Boonop is die koestering wat dié sjiek, afgeronde voorkoms vereis, nét die doepa om vaal winterdae ’n sexy sprankel te gee. ’n Vlekkelose vel (of die skyn van een!), guitige oë, ’n glimmende kroon en hande en voete wat perfek versorg is – wie weet, as jy jouself vertroetel soos Audrey Hepburn of Marlene Dietrich, kom jou innerlike diva dalk ook na vore.

KROON … Wat is meer kenmerkend van ’n silwerdoekskoonheid as haar glansende haredos? Die goudstandaard van afgeronde haarstyle is sekerlik ou Hollywood se golwende lokke, of anders die sjiek chignon (lae bolla). Maar selfs al het jy seuntjiekort hare, is die wagwoord glans. En daarmee saam sorg. Almal weet dis gesonde hare wat daardie glinstering van lig het, maar jy kan allermins jou versorging by jou genoeg-water-en-vrugte-gewoonte laat ophou. Dit is belangrik om te kyk na nuwe versorgingsprodukte, serums en ligreflekterende sjampoes. Verleng volgende keer jou blitsbesoek aan die haarkapper en vra jou stilis om ook ‘n haarbehandeling te doen. As jou hare skitterblink, straal jy die boodskap uit: ek is sexy en ek weet dit! En begin jy dalk al grys word? Kies om die grys weg te steek óf dra jou silwer kroon met trots, solank jy dit nóg beter as voorheen behandel. Kyk byvoorbeeld vir Judie Dench: die glam is nog daar, al is sy nie meer vandag se kind nie.

FLUWEELVEL
’n Kolletjie hier, lyntjies daar, ’n growwerige tekstuur: almal van ons het vel-kwelpunte.

Terselfdertyd is baie van ons afgesit deur onderlaag wat die vel te swaar bedek. Met vandag se nuwe formules en gevorderde bestanddele kan die regte onderlaag vir jou veltipe egter jare – en die tekens van bekommernis, stres en laat nagte – verdoesel. Jy wil immers jou toetrede tot die daaglikse rooi tapyt uitgerus, komkommerkoel en fluweelsag maak.

Jou naaste skoonheidstoonbank sal goeie raad kan gee oor jou spesifieke velprobleme, en vir elkeen is daar vandag raad in ’n botteltjie. In Estée Lauder Face Primer Plus word byvoorbeeld ligweerkaatsende deeltjies gebruik om jou gelaat te verhelder en glad te vee. Wil jy met ’n geïrriteerde, rooi vel klaarspeel, kan jy Clinique Redness Solutions Urgent Relief Cream voor jou onderlaag aanwend, en as jy net ’n paar merkies het om te verbloem is Chanel Éclat Lumière Highlighter Face Pen die antwoord.

Deesdae bevat onderlae ook dikwels silikoon vir ’n soepel teekstuur, en bestanddele om jou vel te bevogtig, reining en beskerm – net wat jy nodig het om nog jare lank sjiek en afgerond te lyk. Die raad van Eduardo Ferreira van Bobbi Brown se internasionale skoonheidspan om jou beste fluweelvoorkoms te verkry, is om van sponsies te vergeet as jy onderlaag aanwend:

“Jou vingers is jou beste gereedskap, aangesien jou liggaamshitte die formule op jou gesig laat smelt.” En as jy sukkel om ’n onderlaag te kry met ’n kleur waarvan jy hou, kan jy deesdae jou eie meng met Revlon Custom Creations.   Maar moenie net op jou gesig fokus nie. Al is dit winter, sal jy nooit sprankelend voel as jou hele lyf nie sysag is nie. Dis immers die perfekte tyd vir lang, koesterende badsessies met luukse skropmiddels, olies en aromaterapie – en sommer ’n voedende gesigmasker ook.

KLEUR JOU IN
Nadat jy die doek vervolmaak het, is dit tyd om die kwaste en buisies uit te pak. Maak nie saak dat jy jare laas oogomlyner gedra het nie – waag ’n bietjie in die naam van luuksheid. Die katoog is terug, soos Amy Winehouse dit dra, óf bietjie getemper, meer soos Bette Davis, vir elke dag, maar beslis mét oogomlyner. Kenners sê die geheim van hierdie verleidelike voorkoms is om die lyn in lae op te bou. Gee ook aandag aan jou wenkbroue. Hulle raam jou gesig en moet net so afgerond soos jou haarstyl wees. Laat pluk hulle verkieslik professioneel en kleur hulle in as joune ylerig is – dis ongelooflik watter verskil mooi gevormde wenkbroue aan ’n gesig kan maak. Saam met jou sorgsaam geaksentueerde oog-grimering kan niks meer dramaties en treffend wees as bloedrooi lippe nie.

Dis tog die toppunt van luuksheid – om soveel tyd aan jouself te bestee as wat die perfekte rooi lip vereis. Van die nuutste skarlaken-treffers is Lancôme Color Fever Shine in Prune Flush en Clarins Rouge Appeal Sensuous Long Lasting in Scarlet. Onthou, selfs al hou jy nie van rooi lipstiffie nie, is lipkleur noodsaaklik, al is dit dan ’n neutrale skakering. Sou Marilyn Monroe dit uit die bed gewaag het sonder kleur op haar lippe?

TOT JOU TOON
Hande en voete kry swaar in die winter. ’n Droë vel en ’n vaal lagie is allesbehalwe sjiek. Jy is meer werd: skrop, bevog en behandel totdat jou vingers en tone wys jy sorg vir jouself, tot op die puntjies. Dis nog ’n taak vir jou lang, luukse winterbad, en die verskeidenheid voetprodukte en gespesialiseerde rome vir hande en naels is verstommend. Soek een wat jou soos ’n godin laat voel, al kry jy net ’n glimp van jou groottoon terwyl jy jou winterstewels aantrek. En hoe kan jy bloedrooi femme fatale-vingernaels hê as jou naelvelletjies nie perfek versorg is nie?

Jy doen soveel moeite op allerhande terreine – maak hierdie winter jousélf jou eerste prioriteit en wys die wêreld hoeveel sjarme in jou skuil met ’n glimmende, glansende, perfek versorgde jy.