Skoonheidstories

Probeer dié nuwe velsorg-trend: #multimasking

Het jy ’n olierige T-sone, maar droë wange, ’n veluitslag op jou ken en fyn lyntjies rondom jou oë, of ’n vel wat sensitief en rooi is met donker vlekke? Die meeste van ons sukkel met meer as een velprobleem. Jou antwoord is dalk multimasking – ’n nuwe trend wat al tot talle kleurryke Instagram-selfies gelei het!

Multimasking behels die gelyktydige gebruik van twee of meer maskers op verskillende dele van jou gesig om spesifieke velsorgprobleme op dié dele te takel. Die tegniek word dikwels deur skoonheidsterapeute gebruik tydens ’n gesigbehandeling. Jy wil immers nie ’n olierige T-sone en pofferigheid onder jou oë met dieselfde aktiewe bestanddele behandel nie.

Deur jou eie unieke kombinasie van produkte te gebruik kan jy byvoorbeeld ’n veluitslag op jou ken en kakebeen, oortollige olierigheid op jou voorkop én rooi, sensitiewe wange op een slag behandel. Begin deur die grootste probleemareas op jou gesig te identifiseer en skep dan daarvolgens jou eie unieke multimasking-aksieplan.

Volg dié wenke vir jou eie masker-aksieplan:

Dele met olierigheid en ’n veluitslag… *Gewoonlik op jou voorkop, neus en ken (jou T-sone). *Kyk uit vir maskers met bestanddele soos houtskool, klei en salisielsuur. Dit los oortollige olie en onsuiwerhede in porieë op.

Dele wat droog en rooi is… *Jou vel is geneig om maklik droog en sensitief op jou voorkop en wange te wees. *Kies bevogtigende maskers wat kalmerende bestanddele soos galambotter en vitamien E bevat wat jou vel streel en jou velwand help om doeltreffend vog in te seël.

Dele met fyn lyntjies, plooie en verlies aan fermheid… *Oor jou hele gesig, maar veral rondom jou oë en mond. *Maskers met hope antioksidante, seramiede en peptiede is jou antwoord. Sorg dat enige masker wat jy rondom jou oë gebruik spesiaal daarvoor geformuleer is sodat dit nie die fyn vel daar irriteer nie.

Dele met donker vlekke en ’n vaal, oneweredige veltekstuur… *Oor jou hele gesig, maar veral op jou wange. *Kyk uit vir maskers wat vitamien C, ensieme of sure soos melk- en fitiensuur bevat om jou vel te verhelder en liggies af te skilfer vir ’n stralende gelaat. Pas op! Hoe meer produkte jy op jou gesig gebruik, hoe groter is die kans dat een van die produkte jou vel sal irriteer. Toets elke masker vooraf op ’n klein deel van jou vel voordat jy dit op jou gesig aanwend.  

Probeer dié maskers:

The Body Shop Tea Tree 3-in-1 Wash.Scrub.Mask (R140)

Die masker bevat teeboomolie wat help om ’n veluitslag in bedwang te hou.

Filorga Scrub & Mask Reoxygenating Exfoliating Mask (R770)

Die jelmasker skilfer jou vel liggies af, terwyl dit vel bevog en ’n plompende effek het. By uitsoekwinkels van Edgars en Red Square

Placecol Optimum Hydro Mask Weekly Booster (R280)

Gebruik veral in die winter ’n ryk masker soos dié een. By Placecol-salonne

Theravine Vitavine Booster Face Mask (R364)

Danksy ’n kragtige mengsel van vitamiene en plantbestanddele streel dié masker ’n moeë verouderde vel. Besoek www.theravine.co.za.

Gatineau Clear & Perfect Tonimasque Purifying Mattifying Mask (R395)

Gebruik die kleimasker om oortollige olie te absorbeer vir ’n mat-afwerking.

Bronne: www.popsugar.com, www.marieclaire.com

Lees nou

Speel saam en toets jou skoonheidskennis!

Beste kaaskoek nog? 8 miljoen mense sê ja!