Skoonheidstories

Raad vir jonger oë

Jou oë word nie sonder rede die vensters van jou siel genoem nie. Oë wat sprankel, trek maklik jare van jou ouderdom af. Maar ongelukkig is dit ook die deel van jou gesig waar jy dikwels spore van veroudering eerste sien. Dis daarom belangrik om jou oog-gedeelte goed te versorg. Volg ons raad vir oë wat jonger en varser lyk …

Kies jou oogroom wys

Dis die moeite werd om in ’n goeie oogroom te belê omdat hierdie produkte geformuleer is met bestanddele wat spesifieke kwessies, soos donker kringe en rooiheid behandel, sê Ingrid Katz, velsorgterapeut en eienaar van die velsorgkliniek Pure Aesthetics in Johannesburg. Dié rome se tekstuur is ook gewoonlik ligter as dié van ’n gewone vogroom sodat dit makliker deur die dun vel rondom jou oë geabsorbeer word.

Maar moenie wonderwerke van jou oogroom verwag nie, maan Ingrid. Dit kan bv. lyntjies minder opsigtelik laat lyk, maar nie van plooie ontslae raak nie. Hiervoor is meer ingrypende behandelings nodig.

 

Kies die regte oogroom vir dié probleme

1. Donker kringe

Die oorsaak: Genetika, swak sirkulasie en allergieë kan alles donker kringe veroorsaak. Swak sirkulasie onder jou oë kan daartoe lei dat bloed hier “saamhoop” en ’n donker skynsel veroorsaak. As die vel onder jou oë geneties dunner is en jy het meer bloedvate hier, is die kans ook goed vir donker kringe.

Die oplossing: Oogrome wat ontwikkel is om bloedsirkulasie aan te wakker, met bestanddele soos kaffeïen, sal help om donker kringe ligter te laat lyk, terwyl ’n bestanddeel soos vitamien C of ligweerkaatsende deeltjies help om die vel te verlig vir ’n helderder voorkoms.

2. Dehidrasie en droogheid

Die oorsaak: Daar is minder weefsel onder die vel van jou oë as die res van jou gesig. Dit veroorsaak dat die vel hier minder plomp is en ook nie baie vog kan behou nie.

Die oplossing: Soek ’n ryker oogroom met bestanddele soos hialuronsuur wat water soos ’n magneet aantrek en help om jou vel te bevog.

3. Fyn lyntjies en plooie

Die oorsaak: Omdat ons dikwels nie sonskerm rondom ons oë aanwend nie, wys lyntjies en plooie vinniger hier. Lyntjies kan ook begin vorm wanneer jy jou ooggrimering te hardhandig verwyder omdat jy die fyn vel rek.

Die oplossing: ’n Produk met bevogtigende bestanddele sal die vel opplomp. Kyk ook uit vir ’n produk met silikoon. Dit vul lyntjies in sodat dit minder opsigtelik lyk.

4. Rooiheid en pofferigheid

Die oorsaak: Rooiheid dui dikwels daarop dat jou vel sensitief of geïrriteerd is. Om met grimering te gaan slaap of dit nie ordentlik te verwyder nie, kan alles jou oë irriteer. Die vel is dan gewoonlik ook pofferig.

Die oplossing: Bly weg van rome wat te ryk is. Kies eerder ’n produk met ’n jel-tekstuur wat maklik absorbeer. ’n Room wat te swaar is en op jou vel gaan lê, kan die vel verder irriteer. Om pofferigheid te verminder, sit enigiets wat baie koud is, soos ’n koue teelepel, op die vel.

Probeer dié oogrome

Estée Lauder New Dimension Firm + Fill Eye System (R1 040)

Gebruik eers die oogjel om die vel onder jou jou oë te bevog en verferm. Dan die oogroom met ligweerkaatsende deeltjies om dié deel gladder te laat lyk.

Pond’s Dual Acion Eye Cream (R182)

’n Twee-in-een-formule! Wend die pienk room aan jou boonste ooglede om kollageenvervaardiging te stimuleer. Wend die wit room onder jou oë om onder meer pofferigheid te verminder.

Nivea Q10plus Anti-Wrinkle Energy Eye Roll-On (R150)

Die ronde balletjie maak dit maklik om die produk aan die fyn vel van jou oë te wend.

Chanel Le Lift Firming Anti-Wrinkle Eye Cream (R1 165)

Gis-ekstrak in dié luukse oogroom stimuleer mikro-sirkulasie sodat donker kringe ligter lyk.

Clinique Pep-Start Eye Cream (R330)

Die ligte oogroom verhelder en verferm die fyn vel onder jou oë om pofferigheid en donker kringe teen te werk. Wanneer jy die unieke proppie draai, word presies die regte hoeveelheid oogroom uitgespuit vir een keer se gebruik.

Lees nou

Só lyk die een haarstyl wat by álmal pas

Net 5 minute! Sjokoladekoek in die mikrogolfoond