Skoonheidstories

Rio-inspirasie: Só dra jy helder oë en lippe

Sonder twyfel kom van die wêreld se mooiste vroue uit Brasilië. Dink maar net aan die supermodelle Gisele Bündchen, Adriana Lima en Alessandra Ambriosa. Een van hul geheime is eenvoudig: KLEUR! Ja, helderkleurige grimering ís vir almal en ons wys jou hoe!

Al drie spog met ’n sonbruin gelaat, kyk-na-my-grimering en ’n dik bos hare. Met al die aandag op Brasilië en die Olimpiese Spele, put ons inspirasie uit dié goedversorgde vroue se skoonheidsarsenaal.

Kleur óf jou oë óf jou lippe

“Helder grimeerkleure het nie ’n ouderdomsbeperking nie. ’n 50-jarige vrou kan dieselfde voorkoms as ’n tiener dra, maar die verskil is in die tekstuur van die grimering. Vir ouer vroue werk ooggrimering met ’n mat-afwerking goed, eerder as iets wat glinster. Enige grimering wat blink beklemtoon plooitjies of laat porieë meer opvallend lyk.”

Só sê Ryno Mulder, plaaslike handelsmerkbestuurder van die internasionale grimeerhuis Bodyography.

– As jy graag helderkleurige grimering wil beproef, onthou om ’n helder kleur net op een plek op jou gesig aan te wend, soos op jou oë of lippe. Dis minimalisties en modern.

 

Ryno gee ook dié wenke:

Kleur vir jou oë

Vermy kleure soos pienk of rooi vir jou oë, want dit kan jou oë geswel laat lyk. En geel oogskadu lyk gewoonlik net mooi in modetydskrifte. Kies eerder grimeerkleure wat jou oogkleur beklemtoon.

Dit is gewoonlik kontraskleure eerder as ’n skakering wat dieselfde kleur as jou oë is. ’n Potblou skakering lyk bv. mooi by bruin oë en groen oë is treffend met pers. As jy ’n oogpotlood in ’n helder kleur gebruik, trek die lyntjie effens dikker as gewoonlik op jou boonste ooglid sodat dit sigbaar is. En onthou ’n paar lae pikswart maskara om definisie aan jou oë te gee.

Alessandra Ambrosio

Marion Cotillard

 

Kleur vir jou lippe

Wanneer jy ’n helder kleur op jou lippe dra, hou jou oë neutraal met net ’n ekstra laag maskara. Lipstiffies met ’n mat-afwerking is groot nuus. As jy nie spesiaal so ’n lipstiffie wil koop nie, kan jy jou lippe met lipomlyner in ’n helder skakering inkleur vir dieselfde effek.

Adriana Lima

Julianne Moore

In Brasilië is daar ’n klem op natuurlike skoonheid, maar natuurlik is Brasiliaanse vroue lief daarvoor om hul skoonheid met grimering uit te druk. Helder oranje, rooi en pienk komplementeer ’n Brasiliaan se velkleur. Jy kan nooit verkeerd gaan met ’n klassieke helder lipkleur en ’n douerige vel nie.”

– Brasiliaanse model Adriana Lima aan die internasionale tydskrif Harper’s Bazaar

Probeer dié kleur-produkte:

Estée Lauder Pure Color Envy Defining Eye Shadow in Hyper Teal (R365)

Jy kan dié oogskadu ook nat aanwend vir meer intense kleur.

Clinique Skinny Stick in Demi-Grape (R285)

Wend met die dun punt jou oogpotlood maklik en presies aan.

L’Oréal Paris False Lash Sculpt Mascara (R190)

Dié unieke maskaraborsel help om maskara tot teenaan jou wimperlyn aan te wend.

Bodyography A Kiss To The Classics Matte Lip Color in Lolita (R230)

Dié helder pienk lipstiffie het ’n mat-afwerking. By uitsoektakke van Placecol-, Dream Nails- en Perfect 10-salonne

Max Factor Lip Colour Elixir Lip Liner in Red Rush (R140)

Kleur jou lippe met ’n gekleurde lippotlood in om die kleur langer te laat hou. By Clicks

*Dele van dié artikel het oorspronklik in die Augustus 2016-uitgawe van SARIE verskyn.

rolene strauss augustus 2016

Lees nou

Rolene Strauss is swanger!

Pas jou parfuum by jou persoonlikheid? Doen ons toets!