Skoonheidstories

SA vroue bly lief vir lipstiffie – selfs as ekonomie knyp

Vroue het reeds in antieke tye instinktief die krag van lipstiffie besef. Dis net eenvoudig onweerstaanbaar. En vandag nog is vroue se drang om mooi te voel so sterk dat baie van ons selfs in die moeilikste omstandighede nie sal skroom om onsself met ’n lipstiffie te bederf nie. Ja, ook in SA sien ons nou dié verskynsel, wat die lipstiffie-effek genoem word!

Life is short. Buy the lipstick. #BlackFriday

A photo posted by Max Factor South Africa (@maxfactorsa) on

Ontleders sien al dekades lank keer op keer dié verskynsel tydens ekonomiese krisisse raak: Ten spyte van ’n algemene afname in die verkope van byna alle verbruikersprodukte, neem die verkope van skoonheidsprodukte steeds toe, volgens ’n aanlyn artikel van die Amerikaanse tydskrif Psychology Today.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die plaaslike verkope van skoonheidsprodukte die afgelope jaar met sowat 4% gestyg, ondanks die ekonomie wat knyp, berig www.globalcosmeticsnews.com. Volgens Janine van der Walt, plaaslike handelsmerkbestuurder van Max Factor en Bourjois, word die plaaslike aanvraag na lipstiffies in helder pienk of rooi skakerings die afgelope paar maande al hoe groter. Verskeie skakerings van die Franse skoonheidshuis Bourjois se gewilde Rouge Edition Velvet-lipstiffiereeks is al sedert die reeks se bekendstelling dié handelsmerk se topverkopers in SA. Die lipstiffies met hul mat-afwerking het selfs al ’n paar keer heeltemal uitverkoop.

Volgens ’n studie wat onlangs in die sielkundejoernaal Journal of Personality and Social Psychology verskyn het, meen navorsers dat vroue dikwels ’n skoonheidsbederf gebruik om hulself op te kikker in moeilike tye. Lipstiffies is veral gewild – dis bekostigbaar en net een veeg is nodig om jou voorkoms en bui te omtower. Met ’n lipstiffie wys jy jy’s selfgeldend en reg om die wêreld in die oë te kyk.

Let your beauty shine through with some red lipstick and a smile this weekend #TGIF #ColourElixirLipstick #glamfriday

A photo posted by Max Factor South Africa (@maxfactorsa) on

Het jy geweet?

’n Britse luitenant-kolonel, ’n man, het kort ná die Tweede Wêreldoorlog in ’n pas bevryde konsentrasiekamp in Duitsland eerstehands beleef watter verskil ’n lipstiffie kan maak, volgens ’n artikel wat verlede jaar in die nuustydskrif Newsweek verskyn het. Die gees van die vroue in die kamp was gebreek. Maar toe ’n groot aantal rooi lipstiffies onverwags daar afgelewer word en hulle dit aanwend, het elkeen weer soos ’n individu gevoel, nie net soos ’n nommer nie. “Daardie lipstiffie het begin om hul menslikheid vir hulle terug te gee,” het die luitenant-kolonel in ’n destydse verslag geskryf, het Newsweek berig. Dit is dus nie sonder rede dat ons vandag nog soms na rooi lipstiffie as oorlogsverf verwys nie.

Hiér is van ons gunsteling-lipstiffies:

Estée Lauder Pure Color Envy Liquid Lip Potion in True Liar (R295)

Clarins Rouge Eclat Lipstick in Nude Rose (R300)

Max Factor Lipfinity Long Lasting Lipstick in Just Deluxe (R170). By Clicks

Bourjois Rouge Edition Velvet Lipstick in Hot Pepper (R160). By Clicks

Avon Ultra Color Lipstick in Burnished Red (R130). Skakel 0860 102 345

Bronne: www.psychologytoday.com, www.globalcosmeticsnews.com

Lees nou

Rooikoppe lyk jonger – dis bewys!

Mooier in ’n drup