Two Colour Singlet in die SARIE-winkel

Skoonheidstories

Selluliet: 8 dinge wat jy moet weet

Jy is nie alleen nie – so nege uit tien vroue het ’n lemoenskil-voorkoms op dele van hul lyf. Die goeie nuus is dat jy die voorkoms daarvan kan verbeter!

1

Selluliet ontstaan wanneer vet onder jou vel saampak en teen jou vel druk. Dít veroorsaak dan ’n lemoenskilvoorkoms, sê Meghan Less, opleidingsbestuurder van die velsorgreeks Mio.

2

Selluliet word in grade opgedeel, volgens ’n artikel wat in die internasionale tydskrif Scientific American verskyn het. Graad 0 Jy het geen sigbare selluliet nie en jou vel lyk glad. Graad 1 Jy kan net selluliet sien wanneer jy jou vel knyp. Graad 2 Jy kan selluliet op jou bene sien wanneer jy staan, maar dis nie sigbaar wanneer jy lê nie. Graad 3 Selluliet is duidelik sigbaar wanneer jy staan én lê. Dis baie moeilik om die voorkoms van graad 3-selluliet te verbeter.

3

Sowat 90% van vroue het selluliet, teenoor 10% van mans, volgens die artikel in Scientific American. Dis omdat vroue meer lae vet om hul heupe, boude en dye het – die dele waar selluliet meestal voorkom.

4

Die oorsake van selluliet word nog nie  heeltemal verstaan nie, sê Debbie Nel, opleidingsbestuurder van die velsorghuis Guinot. Dit wil voorkom asof die volgende faktore ’n rol speel, sê sy:

Genetika Jou genetika kan ’n invloed hê op jou metabolisme, die verspreiding van vet onder jou vel en die doeltreffendheid van jou bloedsirkulasie. Dít het alles ’n invloed op hoe glad jou vel is.

Dieet Vroue wat ongesond eet, het gewoonlik meer selluliet.

Leefstyl Selluliet is meer algemeen in vroue wat rook, nie oefen nie en vir lang tye van die dag sit.

Glo dit of nie . . . jou onderklere kan ’n rol speel! Onderklere wat te styf sit, beperk jou bloedsirkulasie en kan bydra tot die vorming van selluliet.

Hormone Estrogeen neem af soos ons ouer word en dit veroorsaak swakker sirkulasie, wat die voorkoms van selluliet kan vererger.

5

Dis nie net oorgewig vroue wat selluliet het nie. Omdat genetika ’n rol speel, kan maer vroue ook hiermee sukkel, sê Meghan.

6

Hoewel dit onmoontlik is om heeltemal van hierdie lemoenskil-voorkoms ontslae te raak, kan jy die voorkoms daarvan verminder deur byvoorbeeld jou dieet te verander, sê Meghan. “Vermy te veel kafeïen en suiker en drink baie water.” Eet ook vars vrugte en groente, sê Debbie.

7

Omdat swak bloed- en limfsirkulasie selluliet vererger, kan oefening en massering, wat albei sirkulasie aanwakker, help, volgens ’n artikel wat in die Amerikaanse tydskrif Life Extension verskyn het.

8

Jy kan selluliet ook behandel met produkte wat spesiaal hiervoor ontwikkel is. Die meeste van dié produkte help om jou bloedsirkulasie te verbeter, sê Meghan. Masseer die produk in ’n opwaartse rigting om sirkulasie aan te help en om jou limfstelsel te stimuleer om afvalstowwe te dreineer. Dis belangrik om steeds gesond te eet en te oefen as jy die produkte gebruik.

Probeer dié produkte