Skoonheidstories

Sensueel soos ’n kraakwit hemp

Selfversekerd, vroulik, sterk, grasieus. Elke vrou leef vandag haar eie definisie van sensualiteit. Onnodig is die ontwerpersrok, ongevraag die swaar grimering en duur juweliersware. Oorbodig selfs die teenwoordigheid van ’n geliefde. Vandag kan vroue van enige ouderdom sensueel voel, op haar eie en in ’n doodgewone wit hemp.

So gesels Aerin Lauder, senior visepresident en kreatiewe direkteur van Estée Lauder, by die bekendstelling van dié kosmetiekhuis se eerste eie parfuum in vyf jaar. Met ’n hart van “gesmelte hout”en ryk amber is Sensuous uniek genoeg om ’n splinternuwe parfuumkategorie te skep: houtagtig-amber.
Maar volgens Karyn Khoury, die parfumeur agter Sensuous, is die geur veel meer: Dis die vergestalting van ’n nuwe, fenomenale vrou. Haar visie vir hierdie parfuum was juis die moderne, sensuele vrou in Maya Angelou se gedig “Phenomenal Woman”.
“Die wêreldwye wegbeweeg van blomgeure na meer manlike, moderne houtgeure vir vroue, parfuums wat minder veilig en meer onverwags is, gebeur nie oornag nie. Dis deel van ’n evolusieproses. Vandag se vrou toon ware groei in selfversekerdheid en ’n diep bewustheid van haar eie sensualiteit. En sy is gemaklik daarmee. Die parfuum-bedryf verander om met hierdie vrou tred te hou en Sensuous is deel hiervan.”

Elke element van die nuwe parfuum – die geur, verpakking én bemarking – weerspieël hierdie moderne sensualiteit.

Die geronde bottel lê gemaklik in die holte van jou hand.

En soos Aerin sê:

“Wat is meer sensueel as ’n eenvoudige wit hemp?”

 

Die vier vroue in wit hemde in die parfuumadvertensie straal inderdaad iets unieks uit. Bekende model en akteur Elizabeth Hurley se selfversekerde en wyse blik is die besondere sensualiteit van ’n vrou in haar veertigs, en dié van die brunet Hilary Rhoda (22 jaar jonger as Elizabeth) spreek van jeugdige aantreklikheid. By Hollywood-ster Gwyneth Paltrow bespeur ons ’n emosionele sensualiteit, terwyl model Carolyn Murphy elegant en klassiek-sensueel is.
Om sensualiteit in woorde vas te vat is nie maklik nie, maar ongetwyfeld strek dit veel verder as jeug, skoonheid, perfeksie – of selfs seks. So, lê dit in ’n kraakvars wit hemp, ’n effe uitdagende houding, lang, verleidelike hare, die suggestie van vel en vroulike rondings, soos die advertensie uitbeeld?
Of is dit soos Aerin sê: “Daar is nie net één definisie van sensualiteit nie. Dis persoonlik en uniek aan elke vrou.”

Vir baie Suid-Afrikaanse vroue is sensualiteit iets wat mettertyd ontwikkel, soos ’n goeie rooiwyn. Die kosfoendi Jenny Morris sê: “Alle vroue word met sensualiteit gebore, maar elkeen moet dit ontdek.”Matthew Growdon, algemene produkbestuurder van Estée Lauder SA, glo sensualiteit is iets wat ’n vrou met haar hele wese uitstraal.
Jy hét dit, of jy het dit nie! is die mening van prof. Joan Hambidge, genderkenner en hoogleraar in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Tog stem sy saam dat alle mense inherent sensueel is.
“Marilyn Monroe kon ’n hele vertrek tot stilstand ruk. So ook Angelina Jolie. Maar sommige is te skaam, te bang, of nie gekondisioneer om dit te wys nie. Sensualiteit het te make met ’n onselfbewuste gemaklikheid met jouself en jou liggaam.”
Sensualiteit is mooi en behoort vertoon te word, sê prof. Amanda Gouws, feministiese kommentator van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Dis iets anders as die kru seksualiteit wat ons deesdae in die moderne media, dikwels in TVadvertensies, kry. Dis die verskil tussen erotika en pornografie. Die een is subtiel, die ander onsmaaklik.“
Kunstenaars soos die Vlaamse Barokmeester Rubens was lief daarvoor om modelle met ronde dye en sagte wit borste te skilder. Ontwerpers soos Marc Jacobs vir Louis Vuitton het vanjaar weer die vroulike vorm laat skitter op modeskoue in Parys en Milaan, en fotograwe laat kom die vroulike vorm al dekades lank tot haar reg in inspirerende modetydskrifte wêreldwyd.

 

Ouer vroue weet hoe om hul seksualiteit te gebruik omdat hulle meer sensueel – dus meer in voeling met hul liggame en met hulself – is

                – Lindi Heinecken, sosioloog

 

Hoe voel die feminisme hieroor?
Joan sê sekere soorte feminisme kom in opstand teen die verobjektivering van die vrou en sien sensualiteit as ’n manlike onding.
Amanda verduidelik: “Daar’s ’n wanindruk dat feminisme nie vroulikheid aanmoedig of respekteer nie. Baie feministe is baie vroulik. Maar daar word dikwels van vroue in die sakewêreld verwag om soos mans te wees, soos om te power dress om hul onafhanklikheid te bewys. Feministe wil ook nie gesien word as vroue wat hul vroulike streke gebruik om te vorder, soos om hul cleavage te gebruik om die baas te verlei nie. Feministe word dus vasgevang in ’n wêreld van mans en die ‘verleidelike vroulikheid’ waaraan hulle nie deel wil hê nie.”
Destyds was baie vroue bang om uiting te gee aan hul sensualiteit.
“In Victoriaanse tye moes vroue hul liggame bedek, want koningin Victoria het voorbehoude oor naaktheid gehad,” vertel Amanda. “Wanneer vroue binne streng godsdienstige norme grootword, ontwikkel hulle dikwels ’n afsku van die liggaam, maar sensualiteit gaan oor die skoonheid van die liggaam en dit kan op baie maniere gewys word.
Modelle is nie noodwendig die norm nie. Dis belangrik om te verstaan dat sensualiteit, nes seksualiteit,’n konstruksie is van wat mense mooi of aantreklik of seksueel stimulerend vind. Dit sal verskil van mens tot mens, maar die massamedia hou deesdae kru seksualiteit voor as die norm.”
Sy brei uit: “Vroue van enige liggaamsbou kan sensueel wees. Maar dan moet hulle hulle nie steur aan wat máns wil hê nie – soos om rietskraal te wees of om bloot aan te trek om vir mans mooi te wees nie. Dit moet gaan oor hul eie seksuele identiteit.”
Prof. Lindy Heinecken van die departement sosiologie aan die US reken ons kan baie by Afrika-vroue leer oor sensualiteit.
“Hulle is spontaan en het nie so baie hang-ups oor hul voorkoms nie. Hulle is nie so op die sélf ingestel nie, maar het ’n groot samehorigheidsgevoel en werk saam in groepe. En dít gee hulle ’n groter gevoel van identiteit.”
Sy gee toe: “Voorkoms en hoe jy oor jou liggaam voel, speel beslis ’n rol by sensualiteit, want dit gee selfvertroue. Daarsonder sal jy nie sommer sensueel voel nie. Maar dis óók so dat ouer vroue gewoonlik meer sensueel is, terwyl jonger meisies meer sexy is. Ouer vroue weet hoe om hul seksualiteit te gebruik omdat hulle meer sensueel – dus meer in voeling met hul liggame en met hulself – is.”

Wat sê hulle?


Hilary Rhoda (21)


 

“’n Wit hemp en jeans kan sensueel wees. Dis hóé ek van binne voel. Ek dink aan sensueel as sterk en selfversekerd. Dis ’n vrou op haar natuurlikste. Ook om aangeraak te word en iemand aan te raak is sensueel. Al wat ’n vrou hoef te doen om sensueel te voel, is glimlag.”

 

Gwyneth Paltrow (36)

 

 

“Daar is verskillende maniere om sensueel te voel. In die somer is daar ’n vrye, strandsensualiteit. Of  ’n misterieuse, meer sexy soort sensualiteit in ’n mooi rok. Ek voel altyd baie sensueel met ’n effense sonbruin en as ek nie té veel klere dra nie. In voeling met die omgewing . . .”

 

Carolyn Murphy (34)

 

 

“Om gemaklik te voel in jou vel. Is dit nie waaroor sensualiteit gaan nie? Onafhanklik. Geesdriftig. Bewus van jou eie vroulike krag. Dit maak ’n vrou sensueel. Ek voel nou op 34 meer sensueel, en ek dink dit gaan selfs verbeter soos ek ouer word.”

 

Liz Hurley (43)

 

 

“Vroegaand is ’n sensuele tyd. Met sonsondergang is daar ’n ander soort energie in die lug. Ek hou daarvan om platteland toe te gaan, strand of berge toe. Dis wanneer ek die meeste ontspanne voel. Om sensueel te wees, moet jy ontspanne wees. ’n Vrou is sensueel wanneer sy gemaklik en selfversekerd is. Soos vroue deur die lewe beweeg, het hulle sensuele oomblikke langs die pad. Daar’s nie ’n ouderdomsperk op sensualiteit nie.”

 

Bron: www.esteelauder.com/sensuous, waar al vier Sensuous-modelle meer vertel oor wat vir hulle sensueel is.

 

Nuwe gesig van geur

 

Karyn Khoury

 

 

“Sensuous bring ’n nuwe sensualiteit na die wêreld van geur,”sê parfuumneus Karyn Khoury. “Vroulike houtgeure is splinternuwe terrein. Hout was nog altyd sinoniem met mansgeure of swaarder Oosterse en nisvrouegeure, maar vir die eerste keer word hout op ’n eg vroulike manier ingespan.”

Die towerkrag van Sensuous lê daarin dat die handjievol bestanddele perfek in proporsie is.“Die dae van bo-, middel- en ondergeurtone is verby. Ons keer terug na hoe parfuums in die begin geskep is: ’n Paar bestanddele van die hoogste gehalte wat in volmaakte balans saamwerk.” 

Die hart van die parfuum herinner aan “gesmelte hout” en ryk amber. Óm die houtgeure sweef blomgeure.

Soos Karyn sê: “Dis die geur wanneer jy die deur van ’n kweekhuis oopmaak. Jy ruik blomme, maar nie een spesifieke blom nie.”Jasmyn, lelie, magnolia en eksklusiewe ilang-ilang van Madagaskar is saam verantwoordelik vir dié sensasie. En vir die eerste keer gebruik Estée Lauder ook ’n palet van swartpeper, heuning en sandelhout vir ’n bietjie misterie, én so ’n skeutjie mandarynpulp vir varsheid.

 

Hoor wat sê óns mense . . .

 

MARYKE RIFFEL
Skakelpersoon, getroud met sjef Reuben Riffel van Franschhoek
Emosionele vroue wat selfvertroue uitstraal, is sensueel. Met die ouderdom kom lewenswysheid en gemak, en jy is meer in voeling met die natuur. Dís deel daarvan.

 

MARIANNE CAMPBELLl
Skoonheidsredakteur

Sensualiteit is ’n energie, dis organies, ’n dieper bron waaruit ons krag put in stiller oomblikke. Dis dán wanneer ons dinge om ons begin vier en ontdek wat ons mooi en verleidelik maak. Die oomblik wanneer ons vroue begin fotografeer in ’n modesessie en die waaier aansit, raak hulle bewus van die lug op hul hare en vel. Hulle waardeer hul unieke liggaamsvorms en gesigte. Wanneer die ateljee stil is en die fokus op die model val, dán lyk dié vroue op hul allermooiste. Vol selfvertroue en baie sensueel.

 

JENNY MORRIS
The Giggling Gourmet, koskenner en aanbieder van koskursusse

Kos is iets wat jy kan voel en sien. Dit laat jou anders beweeg en praat. Dit neem al jou sintuie oor. Die neus word gevul met aroma. Soms wil jy sommer ’n pragtige, blosende perske liefkoos. Neem ’n wonderlike ryp vy, breek dit oop. Dis soos ’n baarmoeder, vrugbaar, vol belofte. Wat ’n sensuele belewenis om dié vrug te eet! As jy jou tong oor die pitte rol en die sap in jou mond opvang, is dit pure, sensuele passie. Die brein is ’n ongelooflike ding wat sensuele energie versprei na die res van die liggaam. Vroue word met sensualiteit gebore, maar elkeen moet dit ontdék.

 

LEANA SCHOEMAN
Vryskut-stilis

Sensualiteit is eintlik ware skoonheid. Dis soveel meer as jou uiterlike. Dis ’n vrou wat gevul is met liefde vir haarself en haar medemens. Dit neem tyd om te ontwikkel, soos goeie rooiwyn. Dis hoe jy “gemarineer” is in jou persoonlike ervarings. Jy’s nie skaam om uniek te wees nie. Jy probeer nooit te hard nie en het nie vals naels of “maskers”nie. Jy lyk elegant, selfs in ’n sweetpak.

 

GWEN GILL
70-plus rubriekskrywer van die Sunday Times

Sensualiteit is een van die wonderlikste gawes van die Man daarbo. Dit het niks te make met über-maer dye nie, eerder met rondings, die geur van soetemaling, sy, pasjminas, skoonheid sonder wreedheid en mooi gebare . . .  Dis om ’n geliefde se kop te streel, om deur jou wimpers na iemand te loer, om ’n bietjie cleavage te wys. Sit ’n rooi aarbei in jou minnaar se mond, voer hom garnale . . .

 

En die manne?


NICO PANAGIO
Mede-aanbieder van Top Billing

Hoe sy haar kop eenkant toe kantel en haar lip ingedagte kou, hoe haar oë volumes verklap en jou met een sagte kyk in jou spore laat vassteek . . .

 

REGARDT VAN DEN BERGH
Rolprentregisseur

Vroue is sensueel in klassieke rokke, soos in die Franse flieks van die laat 1950’s. En wanneer hulle nederig is oor hul skoonheid.

 

NEELS VAN JAARSVELD
Akteur

’n Vrou wat wyn met waardering drink en hoë hakke dra by ’n power-pakkie. As sy lekker ruik, help dit ook en sy moet iets uitstraal sonder om woorde te gebruik.

 

VICTOR MATFIELD
Springbokslot

Die hele pakket. As sy trots is op hoe sy lyk, sal sy vir ander omgee.

*Sensuous is reeds op die rak en is te kry in Eau de Parfum – 30 ml, 50 ml en 100 ml  – en Satin Body Lotion en Silk Shower Créme.