Skoonheidstories

Op jou mooiste: Parfuum – 5 van die bestes

Ek is gek oor ’n mooi storie. En die skoonheidswêreld is vol wonderlike stories, veral as dit by parfuum kom. Ek het verlief geraak op een van my gunsteling-parfuums, Angel, nie net oor die geur nie, maar ook oor die storie daaragter.

Elke stukkie van die Angel-verhaal is ’n stukkie inspirasie: Van die ontwerp van die stervormige bottel tot die parfuum se kosgeure.  Van kleins af was die Franse ontwerper Thierry Mugler se kop in die hemelruim. Dit het hom aan ’n ander wêreld laat dink. Daarom móés die bottel van sy eerste parfuum in die vorm van ’n ster wees, al was dit nodig om ’n spesiale tegniek te gebruik om die bottel te maak. Die geur self moes sy kinderherinneringe aan pretparke weerspieël: die spookasem en malvalekkers wat hy so dikwels daar geëet het. Toe is Angel grensverskuiwend omdat dit, met sy vanielje- en karamelnote, die eerste parfuum met kosgeure was.

Onlangs weer het ’n parfuumstorie my verlei. Die verhaal van Chanel se 1932, sedert Maart op die rak, neem jou terug na die jaar toe Coco Chanel haar eerste juwelereeks geskep het. Ook sy was mal oor die hemelruim en hierdie reeks diamant-juwele in die vorm van sterre, die maan en komete was die skepper van 1932, Jacques Polge, se inspirasie. Om Chanel se diamantjuwele en die parfuum bymekaar te bring, het hy besluit om die stervormige jasmyn in 1932 in te span.

Natuurlik lê parfuum se grootste aantrekkingskrag in die reuk daarvan. Maar omdat dit die storie is wat my keer op keer verlei, deel ek ’n paar geure met interessante verhale.

In ons Mei-uitgawe gesels ek oor die emosie agter jou skoonheidskeuses – hier’s ‘n voorsmakie:



Crabtree & Evelyn se Evelyn Rose (R900 vir 50 ml EDP)
’n Nuwe roos is jare gelede spesiaal vir hierdie parfuum ontwikkel. Ná agt jaar en 30 000 saailinge het die Britse rooskenner, David Austin, dit uiteindelik reggekry om die perfekte roos, die Evelyn-roos, te skep. Die olie van hierdie rose word op so ’n manier onttrek dat dit nie nodig is om die roos in die proses te sny nie. Daarom ruik die parfuum net soos die roos!
Dior se Miss Dior (R850 vir 50 ml EDT)
Toe Christian Dior in die 1940’s sy eerste parfuum geskep het, het hy gesukkel om aan ’n naam te dink. Toe, op ’n dag, terwyl hy en sy muse, Mitzah Bricard, aan idees gedink het, het Christian Dior se suster, Catherine, soos ’n vars bries by die trappe afgekom. “Ah, hier is Miss Dior,” het Mitzah gesê. En Christian se antwoord? “Miss Dior: Nou dít is ’n naam vir ’n parfuum!”
*Chanel 1932 (R1600 vir 75 ml EDT). Beskikbaar by Chanel Sandton, Clearwater & V&A Waterfront
Estée Lauder se Youth Dew (R995 vir 67ml EDP)
Hierdie ikoniese parfuum vier vanjaar sy sestigste verjaardag. Die storie lui dat Estée Lauder jare gelede ’n bottel Youth Dew op die mat in die gesogte Paryse modewinkel, Galeries Lafayette se parfuum-afdeling uitgegooi het toe hulle nie dit nie wou verkoop nie. Die vroue was toe mal oor die reuk!

NUUT! Flora by Gucci Glorious Mandarin (R1060 vir 100 ml EDT)
Rodolfo Gucci het in 1966 spesiaal ’n blompatroon vir prinses Grace van Monaco laat ontwerp omdat hy gevoel het nie een van die serpe in sy Gucci-winkel is mooi genoeg vir haar nie. Vandag is Gucci se Flora-patroon welbekend.

Dit was hierdie blompatroon wat die inspirasie was vir Gucci se reeks parfuums Flora by Gucci: The Flora Garden Collection. Die nuutste geur in die reeks, Glorious Mandarin, is sedert April in SA beskikbaar.