FOTO: Instagram (@marchesafashion)

FOTO: Instagram (@marchesafashion)

Skoonheidstories

Skoonheidsinspirasie vanaf die loopplank vir bruide

Die warmseisoen is een van die gewildste tyd vir troues in SA. En met die New Yorkse bruidsmodeweek wat vroeër dié maand plaasgevind het, het die SARIE-skoonheidspan die komende seisoen se groot haar- en grimeer-tendense vir bruide gaan uitsoek.

Só lyk ons Bruidspaar van die Jaar!

Blomme

Jy kan nooit genoeg blomme op jou troue of in jou hare hê nie! Skep ’n sagte opstyl en weef stringe kunsblomme in skakerings van wit of pienk deur jou hare. Voeg ’n tiara by vir ’n bietjie drama. Helder jou voorkoms op met ’n donkerder pienk skakering vir jou lippe en rosige wange. ’n Sterk swart oogomlyner om jou oë die fokuspunt te maak was ook gewild op die loopplank.

 

 

Golwend sag

Ongedefinieerde golwe met minimale stilering was groot tydens die ontwerper Reem Acra se modevertoning. Vir ‘n bietjie glans kan dié eenvoudige haarstyl met mooi bykomstighede opgehelder word. Versier sagte golwe met ’n bonkinge haarband of een met fyn blaar- of blommotiewe. Kam jou golwe uit om dit te versag en trek dan ’n haaryster deur die punte om dit glad te stryk. Hou jou grimering sag met enkele aksente op jou oë en lippe met uitgewaste skakerings van pers, pienk en rooi.

 

 

Drew Barrymore se raad aan bruide

Vlegsels

Dié styl is prettig, boheems en veelsydig. As jou hare baie lank is, maak ‘n middelpaadjie en vleg dit in twee vlegsels weerskante van jou kop. Versier dit met kristalkrale, pêrels en kant of trek ’n paar haartjies liggies uit vir ’n effense deurmekaar voorkoms. Jy kan ook ’n kleiner deel van jou hare al langs jou voorkop vleg, dit vassteek en die res van jou hare in ’n los bolla opvat of al jou hare in ’n klomp vlegsels vleg en alles opsteek. Subtiele rokerige oë sal goed pas by dié vrygeestige haarstyl.

 

 

Klassieke elegansie

’n Opstyl soos ’n Franse rol of bonkige bolla is tydloos en stylvol. Jou hare moet minstens skouerlengte wees vir dié styl en hope haarsproei is nodig om dit in plek te hou. Kombineer die styl met sag en subtiele grimering en kies neutrale skakerings vir jou oë, ’n paar lae maskara en pienk lipglans.

 

 

Lees meer in SARIE Bruid 2015/2016 wat nóú landwyd beskikbaar is!

SARIE Bruid: Droomrokke