l_or_al
Skoonheidstories

Smeulend uit die see

Poëties, romanties, verkwikkend en misterieus.  Jare lank al fassineer en inspireer die see ons. Die Griekse mitologie was toeka behep met Atlantis, ’n eiland wat glo onder die water verdwyn het, en  vandeesmaand is die see opnuut in die kollig op 8 Junie – Wêreld-Oseanedag. Nederland se tendenskenner Li Edelkoort glo die tekstuur en kleur van alge gaan in die toekoms ál meer materiale en ontwerpe beïnvloed – die wintersee inspireer juis ’n grimeersakkie met elke skakering van swart.

Swart grimering
“Van al die grimeervoorkomste is smeulende, rokerige oë die een waarvoor ons altyd die meeste versoeke kry,”sê M.A.C se opleier Michelle-Lee Collins. Volgens haar is hierdie voorkoms so kragtig, omdat dit op elke gesig- of oogvorm kan werk en dit jou oë groot en sexy laat lyk.

Rokerige oë het egter baie meer met die tegniek as ’n spesifieke kleur te doen: “Vroue dink dikwels dat rokerige oë net swart of grys moet wees, maar jy kan eintlik enige kleur (ook bruine en diep bloue) gebruik – ‘rokerig’verwys na die potloodstreep wat jy skakeer om ín die vel te verdwyn. Jy kan die kleur en skakerings van jou rokerige oë verander soos dit jou bui en die geleentheid pas.