Skoonheidstories

Só bly hulle mooi

Jo-Ann Strauss
aanbieder van Top Billing op SABC3

Eet Alles, veral Maleisiese kos en my ma se brijani. Maar met matigheid voor oë! Baie vrugte, muesli en aarbeie is lekker. Ek peusel aan appels as ek honger raak. Drink bottels vol botaniese water met kruie om my gestel te suiwer.

Oefen As jy lekker wil eet, móét jy oefen. As ek byvoorbeeld drie sjokolade-roompoffers geëet het, moet ek daardie week vyf keer oefen – 45 minute op die trapklim-masjien per sessie. Ek stap ook gereeld Leeukop uit en drink ’n klein bottel vonkelwyn as beloning wanneer ek bo kom. Ek skubaduik en stap op Seepunt se promenade saam met my vriendin Charlene Truter. Oefening moet opwindend wees!

Spa As beloning vir gereeld oefen in die gimnasium, gaan ek so een keer per week vir ’n lekker gesig- of lyfbehandeling, of ’n manikuur.

Vel Ek het my ma se goeie gene en gebruik net Oil of Olay vogroom. Ek reinig my vel met die sagte gesigwasmiddel Avene, wat ek in Europa koop.

Wenk Net soos jy ’n afspraak met jou belastingkonsultant maak, moet jy minstens vier of vyf keer per week ’n afspraak met die gimnasium hê – en daarby hou.

Nádine
sangeres

Nádine.

Eet Dit gebeur ongereeld, maar ek probeer soggens ’n piesang en jogurt eet, en baie slaai deur die dag. As ek saans nie tyd kry vir eet nie, drink ek ’n glas warm melk. Ek probeer gesonde kos met min olie eet. Ek drink nooit energiedrankies nie, want ek glo dit kan die liggaam benadeel.

Oefen In die gimnasium werk ek met gewigte om my armspiere te versterk. As ek tyd  kry, speel ek muurbal. Ek’s baie aktief op die verhoog – dis soos ’n kardiosessie.

Vel Velsorg is báie belangrik. Al kom ek wátter tyd in die bed maak ek altyd my vel skoon, verfris en bevog dit met Dermalogica-produkte. Ek drink baie water voor ek gaan slaap én wanneer ek soggens opstaan.

Hare Ek sal nooit haarverlengings gebruik nie en ek glo in ’n goeie haarstilis.

Wenk Genoeg slaap, water en gesonde kos sorg vir ’n mooi vel en gesonde naels.

Vicky Davis
aktrise

Vicky Davis.

Eet Ses klein maaltye om my metabolisme aan die gang te hou. Ek probeer koolhidrate saans uitsny. Ek luister na my liggaam en probeer dit nie van té veel dinge ontneem nie. Drink báie water vir vet-afbreking.

Aanvullings Multivitamien, vitamien C (’n natuurlike vet-verbrander) en kalsium (goed vir beendere).

Oefen Ek het ’n persoonlike afrigter, omdat ek min tyd in die gimnasium wil bestee, maar maksimum resultate wil hê. Ek speel ook netbal en geniet rotsklim – dis vir my lekker en só bly ek positief oor oefening. Gereelde Bikram-joga-sessies van 90 minute help my om te detoks en te ontlaai. Dit doen jou organe goed en verbeter spiertonus. (Bikram-joga word gedoen in ’n kamer wat tot 40 °C verhit word.)

Vel Environ-produkte is tops. Ek gebruik daagliks ’n sonskerm, ook op my nek en ooglede. Soms gebruik ek Bio Oil pleks van ’n nagroom. Ek het onlangs ’n 46-jarige vrou ontmoet wat 30 lyk danksy dié olie. Min grimering vir my – ’n bietjie maskara, blosser, onderlaag en ’n lipstain.

Hare Belê in ’n goeie haarkapper. Ek laat my hare natuurlik droog word en koop goeie salonprodukte. Wanneer jy ’n behandeling opsit, gaan slaap die aand daarmee. Moenie jou hare self probeer kleur nie en gebruik eerder organiese kleursel as dié met ’n peroksiede-basis, wat hare kan beskadig.

Wenk Jou liggaam en psige is spieëlbeelde van mekaar. Al my spanning sentreer in my nek en skouers en ek sien ’n kinesioloog en energieheler om my hart en kop in balans te bring met my liggaam. Jy raak bewus van negatiewe emosies wat na vore kom as fisieke kwale, sodat jy dit kan konfronteer. Só kan energie weer vloei. Dan verstaan jy jouself weer beter en leef gelukkiger.

 Lee-Ann Liebenberg
model en skoonheid wat die hoogste plek onder SA vroue op Heat se Hot 100 vir 2008 beklee – 15de

Lee-Ann Liebenberg.

Eet Baie rou vis, veral salm. Dit werk veroudering teen.

Oefen Ek gaan gimnasium toe wanneer ek ’n kilogram of twee aangesit het. Ek hardloop of stap op die trapmeul. Dit hou my fiks en maak my kop skoon.

Vel My ma het my van kleins af goeie velsorg geleer. Soggens en saans reinig en bevog ek my vel (my bevogtiger is ook ’n sonskerm) en ek gebruik oogroom. As my vel leweloos lyk, wend ek ’n gesigmasker aan en ek gebruik een keer per week ’n afskilferroom om die porieë oop te maak. En elke dag ’n lyf-vogroom. Ek probeer uit die son bly, behalwe as ek op ’n eiland is vir werk! Noudat ek 25 is, is dit selfs belangriker om aandag aan my lyf en gesig te gee. Ek beloof myself gereeld ek sal vir ’n gesigbehandeling gaan, maar ek kry nie altyd tyd nie. Dis eintlik ’n móét.

Wenk Vermy te veel alkohol. Dit bevat baie leë kilojoules.

 

Rolanda Marais
aktrise

Rolanda Marais.

Hare My hare is geneig om droog te raak, daarom gebruik ek een keer per week ’n vogbehandeling. Vakansietyd probeer ek dit minder was en laat dit natuurlik droog word. Ek het ’n hele kas vol oulike kopdoeke en hoede – dis nuttig as ek ’n slegte haredag het en dit beskerm my hare teen die son.

Vel Ek reinig, verfris en bevog twee keer per dag. In die winter dra ek meer voggewende dag- en nagrome. Met ’n sonskerm elke dag (ook aan my hande) voel ek veilig. Ek gebruik Dermalogica se produkte en min grimering – dit laat ’n mens vinnig oud lyk. Wanneer ek grimering dra, is dit meestal organiese produkte.

Eet Water, water, water – in die winter ’n koppie warm water met vars uitgedrukte suurlemoensap, ’n bietjie heuning en ’n vars menttakkie uit die tuin.

Spa Een keer per maand probeer ek ’n gesigbehandeling kry, of ek gee vir myself een tuis. Ek is ook versot op Bio Oil en smeer dit sommer oor my hele lyf en nek. ’n Mengsel van suiker en room is ’n heerlike afskilferroom vir voete en hande.

Oefen Joga hou my lyf soepel en masseer my ingewande. Dit help om ontslae te raak van gifstowwe in ’n mens se organe en spiere.

Wenk Bikram-joga is ’n heerlike manier van detoks, want jy sweet al die gifstowwe uit – dit dwing jou ook om meer water te drink.