Skoonheidstories

Kies die regte maskara vir jóú wimpers

Vra grimeerkunstenaars watter produk altyd in jou grimeersakkie moet wees, en hulle antwoord almal maskara. Hoekom? Dit beklemtoon een van jou beste bates: jou oë. Ons het almal verskillende behoeftes. Sommige soek langer wimpers, ander meer volume. En met soveel interessante maskara-formules en borselvorms weet jy soms nie wat jy vir jóú wimpers nodig het nie.

Gelukkig sê die naam en bewoording op die maskara-buisie gewoonlik presies wat dit doen.

Dis nie moeilik om aanloklike wimpers soos die supermodel Gigi Hadid te kry nie …

Volg dié vinnige gids om die beste maskara vir jóú te kies:

ONTWERP: Maresa Pretorius

ONTWERP: Maresa Pretorius

 

Probeer dié maskaras:

Volume en voller wimpers

Dié tipe maskaraborsels werk goed vir fyn wimperhaartjies. Die borsels het gewoonlik dikker haartjies wat dig op die borselkop gerangskik is. Dit stel jou in staat om jou wimpers makliker by te kom en verseker dat daar meer van die formule op ’n slag op jou wimperhaartjies aangewend word. Kyk vir woorde soos thickening en volumizing.

Probeer: Smashbox Full Exposure Mascara (R300). By uitsoekwinkels van Woolworths, Edgars, Red Square en Foschini

Verleng

Maskaraborsels soos dié is perfek vir korter wimpers. Die maskaraborsel het kort, eweredig verspreide haartjies wat net genoeg maskara optel en tot teenaan jou ooglid kom sodat die maskara die volle lengte van jou wimpers bedek. Kyk uit vir die woord lengthening op verpakkings.

Probeer: Clarins Be Long Mascara (R310)

Definisie sonder klonte

Jou wimpers kan lank en gedefinieerd lyk as jy ’n maskaraborsel gebruik waarvan die hare eweredig versprei is en spiraalvormig is. Dit sorg dat jou wimpers netjies gekam word en keer dat klonte vorm. So ’n borsel lyk gewoonlik baie soos ’n kam en gee nie veel volume nie. Soek vir woorde soos defining en non-clumping.

Probeer: Bourjois Volume Glamour Max Definition Mascara (R156). By Clicks

Ekstra krul

Gebruik dié maskaraborsels saam met ’n wimper-kruller as jy reguit wimpers het. Dié borsels het baie keer ’n vorm wat soortgelyk is aan die ronde kurwe van jou oog. Dit sal jou wimpers ’n pragtige krul in ’n opwaartse rigting gee. Dit maak jou oë oop en laat dit groter lyk. Dit help ook om selfs die fynste haartjies in die binnehoeke van jou oë te bedek.

Probeer: Maybelline Lash Sensational Lash Multiplying Mascara (R160)

Presiese aanwending

’n Maskaraborsel met té veel haartjies kan soms die maskara klonterig en oneweredig op jou wimperhaartjies laat lê. As jy meer beheer oor die aanwending van jou maskara wil hê, kies ‘n langer borsel met fyn rubber haartjies vir dramatiese, glansryke oë.

Probeer: Revlon Ultimate All-In-One Mascara (R160)

Bronne: www.popsugar.com

Lees nou

Minki deel haar mooilyk- en gesondwees-gewoontes

Werk houtskool vir aknee? Vind híér uit