Skoonheidstories

Sonskerm-oplossings vir dié wat sonskerm haat

Een van die belangrikste stappe wat jy kan doen om jou vel jonk en gesond te hou, is om sonslim te wees. Ons weet ons moet sonskerm dra, maar soms kry ons maklik ’n hele paar redes om dié belangrike stap in ons velsorgroetine oor te slaan. Tog is dit moontlik om die regte sonskerm-formule vir jóú te vind.

FOTO Unsplash / Aral Tasher

FOTO Unsplash / Aral Tasher

Rede #1: Sonskerm maak my vel olierig

As jy ’n olierige vel het, weet jy hoe moeilik dit is om ’n sonskerm te vind wat nie vetterig voel nie.

Oplossing: Kies ’n sonskerm met ’n jelformule, een met ’n melkerige tekstuur (lotion) of ’n sproei, sê dr. Marianne Duvenhage, ’n dermatoloog van Pretoria. Dié formules absorbeer maklik en voel nie swaar op jou vel nie. Kyk ook uit vir ’n sonskerm met ’n mat-afwerking en met woorde soos oil-free, for oily skin, non-greasy of dry touch op die verpakking.

Rede #2: Die SBF in my grimering beskerm reeds my vel teen die son

Hoewel dit beter is om ’n grimeerproduk soos onderlaag of ’n gesigpoeier met SBF te gebruik as een daarsonder, bied dit nie naastenby genoeg beskerming nie, sê Marianne. As jy bv. ’n gesigpoeier met ’n SBF gebruik, moet jy gemiddeld 14 keer meer daarvan aanwend as wat jy doen om voldoende sonbeskerming te kry, sê sy.

Oplossing: Probeer ’n sonskerm met ’n hoë SBF wat getint is. Dit sal jou vel liggies bedek, terwyl dit die nodige beskerming bied.

Rede #3: Ek wil verbruin (tan)

Daar is nie so iets soos veilige verbruining (tanning) nie. Jy verbruin wanneer UVA-strale jou vel se DNS beskadig en jou vel in reaksie donkerder verkleur om verdere skade te voorkom, volgens die webwerf skincancer.org.

Oplossing: Met ’n magdom selfverbruiningsprodukte beskikbaar is dit makliker as ooit tevore om ’n sonbruin lyf tuis te skep. Probeer ook ’n sonskerm wat oor tyd jou vel effens verbruin.

Rede #4: Dit laat my gesig wit lyk

Baie vroue vermy fisieke sonskerms wat bo-op jou vel gaan lê omdat dit dikwels jou gesig wit laat lyk. Dié sonskerms bevat gewoonlik óf sinkoksied óf titanium-dioksied.

Oplossing: Die moderne formulering van baie produkte sorg dat jou vel nie wit lyk nie. Bekyk die bestanddelelys en verruil ’n sonskerm wat groot hoeveelhede sinkoksied of titanium-dioksied bo-aan die bestanddelelys bevat vir een sonder dié bestanddele.

Rede #5: Dit vat te lank om sonskerm aan te wend

Oplossing: Kies ’n sonskerm met ’n SBF van 50 wat ook as ’n vogroom kan dien – daar is dan geen ekstra stap in jou velsorgroetine nie. ’n Sonskerm met ’n SBF50 bied die langste beskerming vir die minste moeite omdat jy dit minder gereeld moet opknap, het Dr. Dagmar Whitaker, ’n dermatoloog van Kaapstad en voorsitter van die Suid-Afrikaanse melanoom-adviesraad, verlede jaar by ’n media-geleentheid gesê.

Probeer dié produkte vir elke oplossing:

#1 Sorbet Salon Skin Sun Protection Face Cream SPF 50 (R200). By Clicks

#2 Nimue Sun-C Sunscreen & Antioxidants SPF 40 Tinted Sunscreen (R459). By uitsoeksalonne

#3 BioNike Defence Sun Self-Tanning Face and Body Moisturising Milk (R100)

#4 Palmer’s Eventone Suncare Cocoa Butter Moisturizing Sunscreen Lotion SPF 50 (R125)

#5 Nivea Sun Protect & Moisture Moisturising Sun Spray 50+ (R156)

*Dele van dié artikel het oorspronklik in SARIE se Januarie 2016-uitgawe verskyn.

Lees nou

Dié bekendes sweer by rooibostee

Hou partytjie sonder alkohol