Skoonheidstories

Soos goud

Weer dié winter die koue en droogheid af met goue olies, want die skoonheidswêreld glo jy hoef nie verder te soek om’n vaal vel te laat glinster nie. Hoewel sommige vroue lank reeds hul lywe pantser met olies om ontslae te raak van selluliet, uitdroging te voorkom en seer spiere te kalmeer, is die idee van olie op jou gesig dalk vir sommige vroue nog te vreemd. Maar lees verder …

DIE SKUIF NA OLIE
Charlene Weidner, direkteur van Comfort Zone in Suid-Afrika, glo opvattings oor olies is vinnig besig om te verander. “Die skoonheidsbedryf sal nooit weer dieselfde wees daarsonder nie. Deesdae het heelparty skoonheidshuise ’n hele reeks met essensiële olies, omdat daar soveel krag in net één druppel is.
“Kliënte wil vandag resultate hê en soek ’n produk waar ’n klein bietjie ’n groot verskil kan maak.”
In baie lande gebruik vroue lank reeds olies in hul skoonheidsroetine:
Tieners in Indië gebruik neem-olie (neem oil),’n bitter, bruin olie wat help om van merkies ontslae te raak, terwyl die Japannese glo in kamelia-olie om met fyn lyntjies klaar te speel.
Charlene sê ’n olierige vel (veral een wat maklik uitslaan) sal juis baat vind by die olies, aangesien bakterieë in ’n alkaliese omgewing floreer. Daarom sal ’n produk wat jou vel se pH verlaag dit onmoontlik maak vir jou vel om te ontsteek.
In Comfort Zone se Active Pureness-reeks word lemoen- en pomelo-olies gebruik om ’n vaal en olierige vel te kalmeer en te herstel.
Jody Hyam, Clarins se bestuurder vir groep-opleiding, beaam dit. “As jy ’n olierige vel het, is olie gewoonlik die laaste ding wat jy op jou gesig wil hê, maar dit kan júis help om olieproduksie op jou vel te beheer. Sekere olies kan ook ander olies oplos en gee verligting van verstopte porieë.”
Essensiële olies – wat slegs uit plante gedistilleer word – is volgens Charlene ook nie werklik ’n “olie” soos ons daaraan dink nie. “Dis in werklikheid nie olierig nie. Wanneer jy dit op ’n snesie of materiaal drup, sal dit nie ’n merk los wanneer dit droog is nie. So kan jy ’n goeie olie onderskei van een wat “gerek” is met ander onsuiwer bestanddele.”
Die Britse velsorgreeks Elemis gebruik ook olie as ’n sleutelbestanddeel in heelparty van sy produkte.
Noella Gabriel, direkteur van behandeling en produkontwikkeling by Elemis in Brittanje, glo in olie se vermoë om ’n geïrriteerde vel te kalmeer. “Olie versag jou vel en laat dit ontspan. Dit is dus ideaal vir ’n olierige vel en help ook om jou vel te verjong.”

SMEER EN ABSORBEER
Noella sê veral olie se vermoë om maklik deur die vel opgeneem te word is uitsonderlik. “Lyfolies is noodsaaklik in ’n skoonheidsroetine. ’n Oliemolekule word die maklikste deur die vel geabsorbeer en sal jou vel voed, elastisiteit bevorder en dadelik die gehalte daarvan opknap. As jy heeljaar ’n lyfolie gebruik, behoort jy nie ’n skok te kry wanneer jy dit weer in ’n bikini wil waag nie!”

 

Volgens Charlene is dit dié kenmerk wat olie in ’n klas van sy eie plaas. Sy sê essensiële olies is vetoplosbaar en kan deur die vel se porieë na die basis van ’n haarfollikel beweeg en van daar in die bloedstroom opgeneem word. Daarom kan spoorelemente van ’n essensiële olie binne 20 minute ná aanwending reeds in die bloedstroom gevind word.Olies wat ons vandag op skoonheidsrakke vind, is ook heelwat meer gesofistikeerd in samestelling en spog met ’n ligter tekstuur danksy nuwe tegnieke om dit te vervaardig.
Essensiële olies is só kragtig dat dit dikwels verdun word met ’n draerolie. Sommige essensiële olies kan in hul suiwerste vorm jou vel brand, terwyl net 3 teelepels bloekomolie ’n volwassene se dood kan beteken!
Maar as dié olies reg gebruik word, verskaf dit die beste anti-oksidante, vitamiene en minerale per druppel.
Daarom gebruik die SA skoonheidshuis Annique ook olies soos die suiweringsmasseerolie Cellulite Relief wat selluliet beveg.
Suzette Ferreira, die bemarkingsbestuurder, sê hulle het dié produk ontwikkel omdat die terapeutiese werking van aromatiese olies (’n mengsel van essensiële olie en ’n draer-olie) een van die oudste en doeltreffendste metodes is om liggaam en siel te behandel.
“’n Badolie soos dié is ’n natuurlike en gebruikersvriendelike manier om ’n produk aan te wend. Aromatiese olies is veeldoelig: Cellulite Relief bied byvoorbeeld heelwat meer as sellulietbehandeling – dit bevog, werk veroudering en rekmerke teen, en help met die verligting van stres,” sê sy.

WATTER OLIE VIR WATTER KWAAL?

 

Suzette verduidelik dat die denne-, basiliekruid- en arnika-olies in die formule van Cellulite Relief die liggaam help om te detoks, terwyl pomelo en vinkel sorg vir limfdreinering.
Ander Annique-produkte wat olies bevat, is die vitamien E-oliekapsules wat help om die vel te vernuwe en te herstel, asook ResQue Sproei wat natuurlike, aromatiese witblomolie en rooibos bevat om sinusitis te verlig.
Charlene sê van háár gunsteling-essensiële olies is jasmyn (vir die kalmerende en balanserende eienskappe), roosolie (vir die vermoë om stres te verlig) en sitrusolies soos suurlemoen en pomelo (dis opbeurend, vars en skoon).
Volgens haar is olie altyd haar eerste keuse vir die meeste van haar skoonheidsprobleme, soos pigmentasie, veluitslag, sinusitis, selluliet, spierpyne of ’n vaal en moeë vel.
Sy beveel olies aan wat reeds deur kenners vir ’n spesifieke doel vermeng is, soos Comfort Zone Emergency Blend, wat onder meer patsjoelie-, suurlemoen- en teeboom-olie bevat.
“Dit word onder jou nag- of dagroom aangewend, en jy sal reeds ná net een aanwending sien hoe dit ’n uitslag kalmeer,” sê sy.
Vir stres en moegheid is Elemis De-Stress Massage Oil by uitsoek-takke van Woolworths en Elemis Spa’s die antwoord.
Smeer hierdie mengsel van suiwer laventel, kamille, rooshout en marjolein direk op gespanne areas (soos jou nek en skouers) net voordat jy gaan slaap.
As jy weer vog wil terugsit in jou vel, probeer Nimue Treatment Body Oil, wat onder meer roosblom- en spanspeksaad-olie bevat.
Behandel wintershande met The Body Shop Almond Oil Refining Hand Scrub. Dit bevat soja om jou hande jonk en sag te hou.
Decléor se twee nuwe gesigprodukte, Expression De L’Âge Radiance Smoothing Cream en Expression De L’Âge Relaxing Eye Cream, bevat albei dié skoonheidshuis se unieke vermenging van essensiële olies wat spesifiek geformuleer is om jou vel teen uitdroging en besoedeling te beskerm.
En as jou gedagtes in ’n warboel is, probeer SpaRitual Infinitely Loving Oil van Chinese jasmyn.
Masseer dit in jou kopvel, hande, voete of lyf om die balans in jou lewe te herstel. (Skakel 021 552 6999 vir meer inligting.)
Charlene sê dis ook slim en deesdae gewild om olie as ’n parfuum te gebruik. “Essensiële olies verdamp vinnig en kan daarom dadelik op die vel geruik word. Maar dié reuk gee ook ’n rustige en kalmerende gevoel. Dan word dit natuurlik ook in jou bloedstroom opgeneem om verdere voordele te gee,” verduidelik sy.
Comfort Zone Tranquility Blend met kuskusgras-, vanielje- en lemoenolie is een van haar gunstelinge. “Dié olie word aan jou gewrigte en nek gesmeer en help jou om stadiger en dieper asem te haal.”
Sy glo ook dit sal jou kalmeer en selfs ’n koue winter bietjie opwarm!

 

Suiwer genot
Jody Hyam, groep-opleidingsbestuurder by Clarins, verduidelik die eienskappe wat ’n essensiële olie van ander onderskei:
•    ’n Essensiële olie kan van verskillende dele van ’n plant ontgin word, soos die blom, vrug, wortel of blare. Dit word ook die “hart” van die plant genoem omdat dit ’n plant in sy suiwerste vorm voorstel.
•    Omdat plantolies so kragtig is, word dit verdun of vermeng met ’n draer-olie voor dit aangewend word.
•    Essensiële olies se molekules is kleiner as dié van ’n gewone olie en voel daarom nie so olierig nie. Dit word ook makliker deur jou vel opgeneem.
•    Hul krag lê ook daarin dat jy dit kan inasem en dit ’n emosionele én fisieke uitwerking op jou het. Byvoorbeeld, wanneer jy gestres is, sal laventel-olie die hormoon noradrenalien vrystel en jou kalmeer.
•    ’n Gewone olie met groter molekules, soos sonneblom-, avokado- en olyfolie, voel olieriger, maar is veilig om direk op jou vel te gebruik en is steeds uitstekend vir ’n droë vel.