sr1009gucci_00
Skoonheidstories

Soos ‘n storie

Die inspirasie
Dis die begin van die somer in Italië en daar is ’n geskarrel in een van Rome se bekendste strate, die Via Veneto, die straat wat sterstatus gekry het danksy Federico Fellini se rolprent La Dolce Vita. Daarna het dit die tuiste geword van heelparty glanspersoonlikhede in die 1960’s, en in 2010 kry jy die beste hotels en restaurants in dié straat.  Dit word juis beskryf as die Champs Élysées van Rome.

Maar vandag is die Via Veneto gewild om ’n heel ander rede: Gucci se kreatiewe direkteur, Frida Giannini, en die gesig van die nuwe advertensieveldtog, die aktrise Evan Rachel Wood, is hier om te gesels oor hul nuutste parfuum: Gucci Guilty. “Skuldig kan soveel dinge beteken,” filosofeer die 38-jarige Frida in haar swaar Italiaanse aksent. “Dit beteken ook plesier, dit het nie net ’n negatiewe konnotasie nie.  Ek dink daar is ’n donker, gevaarlike kant in ons elkeen. Ek is baie gedissiplineerd, maar om hierdie effens gevaarlike kant te hê beteken dat ek soms terselfdertyd net wil ontsnap en vry wees. Ek’s mal daaroor om iets te doen wat buite die lyne is van die lewe wat ek gewoonlik leef.” Dít het sy ook ’n jaar en ’n half gelede gedoen toe sy ná sestien jaar in Florence teruggekeer het na Rome, haar grootwordstad, waar sy nou saam met haar man van vyf jaar, die Italiaanse web-ontwerper Giovanni Battista Guidi, bly. “Ek kry weer van voor af inspirasie uit dié stad,” sê sy en verduidelik wanneer sy skep, kan sy soms dadelik aanvoel wanneer iets ’n groot sukses gaan wees. “’n Mens weet dit dalk nie altyd nie,maar wanneer ek baie lief raak vir ’n voorwerp glo ek dat iemand daarbuite dit net so lief sal hê. Ek sien myself net as die eerste liefhebber van daardie item.”

Rome se geskiedenis, argitektuur, smake, die mense . . . alles is so besonders dat dit geen wonder is Frida kan haar kreatiwiteit hier uitleef nie. Haar inspirasie kom uit vele oorde. Soos die Borghetto Flaminio-mark.  “Dis ’n ou depot vir busse wat Saterdae in ’n mark verander,” vertel sy. “Hier kan jy enigiets van lampe tot klere kry. Ek het selfs al vintage Gucci-items hier gevind, wat ’n onlangse Cruisereeks geïnspireer het.” Haar bobaas-winkel waar sy skoene vind, is Nuyorica. “Die eienaars is
jonk en verkoop klere en interessante bykomstighede.” En ja, die Trevi-fontein is ook vir háár ’n gunsteling, nes vir vele toeriste. “In hierdie marmerfontein, waarin toeriste munte gooi om vir nóg ’n besoek aan Rome te wens, word jaarliks meer as 120 000 euro gevind, wat aan liefdadigheid geskenk word. “Die geboue in Rome is in die algemeen oud, maar die EUR-distrik aan die suidelike punt van die stad is die moeite werd om te sien vir die argitektuur – ’n bietjie moderne inspirasie,” sê sy.

Die inspireerder
Teen hierdie tyd is Gucci deel van Frida Giannini se DNS – dis nou al agt jaar sedert sy die leisels as kreatiewe direkteur by Tom Ford oorgeneem het. Hoewel Tom groot sukses met die handelsnaam behaal het, het skeptici verniet hul asem opgehou, want Frida het die winste nóg meer laat styg. Maar dis wanneer ons weer oor parfuum begin praat dat haar passie na vore kom, haar liefde om te skep, die waardering vir goeie vakmanskap en haar obsessie met gehalte.

Wat soek verbruikers vandag in ’n parfuum?
Iets unieks en onkonvensioneel. Daar is groot mededinging in die parfuumwêreld en wanneer jy ’n nuwe  produk bekend stel, het jy ’n sterk konsep daaragter nodig. Dis nodig om die verbruiker op ’n kragtige manier aan te raak, anders gaan jou produk verlore tussen al die ander geure op die rak. Hoe meer jy iets kan bied wat regtig fassinerend, nuut en van goeie gehalte is, hoe suksesvoller sal jy wees.

Hoe gaan jy te werk wanneer jy ’n parfuum skep?
Baie konserwatief, maar op ’n positiewe manier, veral in terme van  respek vir tradisie en geskiedenis. Terselfdertyd moet ek daarop fokus om ’n onafhanklike denker te wees om baanbrekerswerk te doen.

Al die ou modehuise se hoofontwerpers is mans: Galliano vir Dior, Marc Jacobs vir Louis Vuitton en Karl Lagerfeld vir Chanel. Hoe voel dit om as vrou vir ’n gevestigde modehuis te werk?
Dit was eintlik ’n natuurlike uitvloeisel van my loopbaan. Ek was nog altyd gelukkig om vir handelsname te werk waar die teenwoordigheid van vroue baie prominent is. Een van my eerste ervarings was om saam met die vyf susters van die modehuis Fendi te werk.

Ook by Gucci was daar nie soveel mans in my afdeling nie. Ek het dus nog nooit die diskriminasie gevoel wat daar is nie, veral in ’n land soos Italië.

Sou jy sê dit is innerlike krag wat jou suksesvol maak?
Ja, ek kan myself nie toelaat om nié sterk te wees nie. Soms rus die gewig van my werk swaar op my skouers, want elke fout wat ek maak, beteken ’n verlies van miljoene dollars. Ek moet baie versigtig wees in alles wat ek doen. Om te glo in jou werk is van uiterste belang. As jy nie vertroue in jou eie besluite het nie, kan hierdie soort werk jou vernietig.

Die ster

Waaghalsig, invloedryk en verleidelik – dit is die eienskappe wat die aktrise Evan RachelWood die noodwendige keuse gemaak het as die gesig van die nuwe parfuum. Die 23-jarige Evan het reeds op 15 gematrikuleer nadat sy tuisonderrig ontvang het en is verloof aan die onortodokse metal rocker Marilyn Manson (41). Miskien is dit hoekom jy verwag dat sy ’n ietwat donker persoonlikheid sal hê, maar sy verras met haar opgewekte siening oor die lewe en haar voorliefde vir skerpskertsery (stand-up comedy). Sy glo mense lag nie meer genoeg nie . . .

Het jy enige skuldige plesiertjies?
Vir seker! Almal het.  Ek dink dis ’n universele ding. Myne is werklikheidstelevisie. Ek is byvoorbeeld mal oor Top Chef en Project Runway. Eintlik enigiets met drama!

Wat dink jy van die konsep van die parfuum?
Dis vernuwend om ’n rigting in te slaan met parfuum waarin niemand anders regtig gaan nie. Dis edgy en ’n bietjie donker. Dis sexy,maar ook jonk en vars. Ek is mal oor hoe Frida daarin slaag om iets so klassieks te meng met iets so hip.

Wat beteken skoonheid vir jou?
Dis ’n persoonlike ding en vir my is die mooiste die onperfekte dinge. Ek soek nie iets wat een of ander
ideaal van perfek is nie. Ek kyk na iemand se houding – dit is die mooiste ding vir my, iemand wat selfvertroue het en hulself ken en nie nodig het om dit uit te blaker nie. Hulle is net wie hulle is.

Wat is jou raad om swart oogomlyner te bemeester?
Kyk reguit in die spieël, maar probeer om nie té naby aan die spieël te staan nie, want dan probeer jy dit te perfek doen. Die geheim van goeie, rokerige oogomlyner is om nie bekommerd te wees dat dit ’n bietjie smeer (smudge) nie.Wend dit onder jou oë aan en sorg dat jy pret het daarmee.

Watter struikelblokke moes jy in jou loopbaan oorkom?

Om vasgevang te wees tussen ’n kind en ’n volwassene, en nie heeltemal te weet waar jy inpas nie.  Sommige mense behandel jou as volwasse en ander kan weer baie minagtend wees, sodat jy vir hulle wil sê: “Ek doen dit al die afgelope 17 jaar!” So, geduld is beslis een ding wat ek moes leer.  Ook om te onthou dit maak nie saak hoeveel ouer ek voel nie,maar om steeds my jeug te geniet en te probeer
om nie te gou groot te word nie.

Het jy trouplanne?
Ek is verloof,maar ons het nog nie trouplanne gemaak nie. Ek gaan net die verlowing geniet. Ons het besluit ons het baie tyd. Ek het geweet hy is die man vir my nadat ons ’n jaar uitmekaar was – toe ons mekaar weer sien, was ons steeds malverlief.  Maak nie saak waardeur ons gaan nie, uiteindelik kan ons steeds na mekaar kyk, glimlag en lief wees vir mekaar.