Skoonheidstories

Spa by die huis

Dis een ding waaroor jy nie skuldig hoef te voel nie: ’n spa-bederf. Want vir dié van ons wat nie die pamperlang van ’n régte spa kan bekostig nie, is daar maklike moontlikhede: Jy kan die spa na jou eie huis bring!

’n Paar jaar gelede al het die Nederlandse neigingskenner Li Edelkoort voorspel ons sal ons vakansies toenemend rondom spa’s beplan – ontspanning en ontvlugting het baie belangrik geword. Heelparty nuwe spa-produkte word spesifiek só ontwerp dat jy jou spa-behandeling tuis kan geniet. Dis die nommerpas en ideale teenvoeter vir die jaar wat voorlê . . .

Om kop bo water te hou in ons gejaagde lewens is ’n spa-behandeling ’n noodsaaklikheid. Dit sorg nie net vir jou liggaam nie – jou emosionele welstand kry ’n hupstoot wanneer jy kan afskakel en ontspan.

Troetel die stres weg
In SA is hoë stresvlakke die grootste rede waarom mense spa’s besoek, vertel dr. Nadine de Freitas, besturende redakteur van die spa-tydskrif Les Nouvelles Esthetiques in SA. “En jy kan natuurlik nie die bederf- en ontsnapping-aspek ignoreer nie,” voeg sy by. “Gooi ’n paar druppels essensiële olie in jou bad,” sê Julia Kelley, opleidingsbestuurder by Dermalogica. “Dis ’n baie goeie manier om jou gemoed te lig en het ook heelwat ander gesondheidsvoordele.”

Volgens Julia word essensiële olies (baie gekonsentreerde, geurige plantolies) die beste in die bad geabsorbeer, want jy kry ook kans om die olies deur die stoom in te asem. So word dit baie vinniger deur die bloedstroom opgeneem.

1. Gebruik Dermalogica Stress Relief Treatment Oil direk op jou vel, in die bad of saam met jou vogroom om stres te beveg.

2. Ontspan met ’n gegeurde kers soos Crabtree & Evelyn Kalahari Scented Candle.

3. Herlaai jou kragte met The Body Shop Pure Detox Rejuvenating Bath Soak.

4. Kasjmier-olie in Palmolive Pure Cashmere Shower Creme behandel jou vel terwyl jy stort.

5. Die organiese Badger-reeks is die ideale ekstra vir jou grimeersakkie, met produkte wat sorg vir jou naels en voete en selfs goggas weghou!

Onthou jou rug en skouers
Die maksi-rok is hierdie somer hoogmode, wat beteken jou rug en skouers sal in die kollig wees. Volgens Caro Copeland, uitvoerende hoof van Tocara Skin and Body Science, kan ’n uitslag op jou rug behandel word deur bloot die regte lyfwasmiddel te gebruik: “’n Reiniger met ’n neutrale pH wat sagkens werk, sal dit beheer.”

1. Kies ’n organiese lyfwas soos Dr. Hauschka Rose Body Wash – dit bevat geen sintetiese bestanddele nie en is ideaal vir ’n uitslag op jou rug.

2. Behandel geïrriteerde vel met Thalgo Micronized Marine Algae Sachets en Thalgo Plasmalg Gel. Hierdie 2 produkte werk saam om ’n probleemvel met alge-ekstrakte te behandel.

Ligter vogroom

Wanneer die seisoen verander, moet jy die tekstuur van jou vogroom by die klimaat aanpas, glo Jody Hyam, groepopleidingsbestuurder by Clarins. “’n Roomjel of ’n ligte dagroom sal jou vel in warmer weer beskerm, maar steeds gemaklik voel.”

 

Helder vel
Aan die einde van ’n jaar het jou vel ekstra helderheid nodig om die tekens van spanning te beveg, sê Jody. “Begin deur jou vel goed af te skilfer en ’n serum onder jou vogroom te gebruik.” Velsorgkenner Stephanie Hugo van Johannesburg glo ’n masker is die antwoord op veroudering en velkwale soos sensitiwiteit, pigmentasie en dehidrasie – dit voed jou vel en help met probleme wat gewoonlik nie in jou gewone velsorgroetine aandag kry nie. ’n Masker sorg ook dat ander velsorgprodukte beter geabsorbeer word, én dis maklik om tuis te gebruik.

1. Vinnige resultate: Skin Doctors Instant Facelift beloof om jou vel se elastisiteit binne 5 minute te verbeter!

2. Gee jouself ’n vinnige gesigbehandeling met Clinique Turnaround Instant Facial Masque met ’n afskilfer-effek.

3. Kry jou gesigontrimpeling in ’n bottel met Elemis Pro-Collagen Quartz Lift Mask.

Daaglikse kleur

“Sorg dat jy jou vel se behoeftes verstaan en die regte produkte gebruik,” sê Stephanie Hugo. ’n Getinte vogroom is ’n natuurlike keuse in die somer: “Veral vir ’n olierige of kombinasievel is ’n vogroom wat ook kleur gee ideaal. Heelwat onderlae, daarenteen, het ’n oliebasis.” Ook jonger velle wat nie soveel bedekking nodig het nie, sal hiervan hou.

“Jy kan ’n getinte vogroom oor jou hele gesig gebruik en dan probleemgebiede met jou onderlaag bedek. En onthou, indien die warm weer jou vel dehidreer, kan jy selfs jou getinte vogroom bo-oor gewone vogroom dra.”


1. Beveg dieper lyntjies met Revlon Age Defying Sculpt-Logic Night Cream, ’n voedende room om jou vel op te knap.


2. Vanielje se uitsonderlike vermoë om selvernuwing aan te wakker word in Chanel Précision Sublimage Essential Regenerating Cream benut.


3. Gee jou vel kans om asem te haal en vervang jou onderlaag met ’n getinte vogroom soos La Mer The SPF 18 Fluid Tint.

 

Keer die son
Produkte bied deesdae heelwat meer as net sonbeskerming. Dit kan jou vel bevog, ouderdom teenwerk en selfs keer dat bloublasies en jellievisse jou takel, soos Everysun Safe Sea Sunscreen Lotion SPF 30. Caro Copeland glo ’n sonblok met organiese bestanddele is die antwoord op ’n probleemvel: “’n Sonblok met mineraalpigmente keer die son op ’n natuurlike manier weg deur die lig terug te kaats.” Probeer Dr. Hauschka Sunscreen Spray as jy geneig is tot ’n uitslag.

Stralesorg

Herhaalde blootstelling aan die son sonder beskerming kan lei tot ’n verdikte, growwe vel, asook pigmentasie: “Die vel verloor sy elastisiteit en fyn lyntjies sal voortydig verskyn,” waarsku dr. Daniel Maes, senior

adjunkpresident van wêreldwye navorsing en  ontwikkeling by Estée Lauder. Sowel UVA- as UVB-strale is skadelik vir jou vel – maak dus seker dat jou sonblok albei soorte keer.


1. Draai die wysers terug terwyl jy die son weghou met Estée Lauder Sun Performance SPF 30 Anti-Aging Sun Lotion for Face.


2. Probeer RoC Minesol Triple Defense SPF50+ as jy ’n sensitiewe vel het. Dit is parfuumvry en waterbestand.

 

 

Minder skade
Selfs al het jy ’n selfverbruiner gebruik, beteken dit nié jou vel is daarna meer sonbestand nie. “Vroue is geneig om te glo hulle het dan minder beskerming nodig, maar ’n selfverbruiner werk slegs met die aminosure op die vel se oppervlak. Jy het steeds dieselfde sonbeskerming nodig,” waarsku Jody Hyam, opleidingsbestuurder by Clarins. Hoewel jy nie jou vel wil beskadig nie, is dit tog slim om ’n produk te gebruik wat jou sonbruinvoorkoms langer sal laat hou met die minimum sonblootstelling, soos Piz Buin Tan Intensifier UVA/UVB In Sun Spray.

1. Beskerm jou vel met Dermalogica Solar Defense Wipes SPF15. Hierdie gesigdoekies is ideaal om jou sonskerm op te knap nadat jy geswem het.

2. Kalmeer en herstel jou vel ná ’n dag in die son met Clarins After Sun Replenishing Moisture Care.

3. Kry ’n goue voorkoms met Rimmel Sun Shimmer Maxi Bronzing Powder in Sun Goddess.

4. Ruik vars soos die see met Estée Lauder Bronze Goddess.

Spabehandelings
Die SARIE-span het ’n paar splinternuwes probeer

Cindy Nell.

Hammam Ritual by Parisspa, Wembley Square-sentrum, Kaapstad
Modder en ’n massering kan jou vel weer laat gloei. In dié moderne hammam (die woord verwys na die behandeling met stoom en modder én die kamer wat aan ’n Turkse badhuis herinner) is die dak donker, met klein liggies wat soos sterretjies vonkel. Jy word van kop tot tone met spesiale modder, ’n Ahava-produk, bedek. Dit voel soos dik handeroom. R980 vir sowat 2 ure, 021 462 0021. Alida Vos

Phyto-Aromatic massage, Arabella Spa, Westin Grand Arabella Quays Hotel, Kaapstad
’n Vollyf-massering wat die liggaam ontgif en herlaai. Die geheim lê in die kombinasie van essensiële en botaniese olies en spoorelemente wat met ’n klassieke tegniek aangewend word. Die terapeut werk intens van jou skouers tot die punte van jou tone – ideaal vir vroue wat ure lank agter ’n lessenaar sit of met stywe rugspiere sukkel. R695 vir 50 minute, 021 412 8200. Lou-Ann Stone

The Dawning Journey, Camelot Spa, Villa d’este, Saxonwold, Johannesburg
Dié behandeling met Thalgo-produkte begin met ’n lyfskrop sodat jou liggaam die olies van die  aromaterapiemassering ten volle kan absorbeer. Daarna help die refleksologie-behandeling jou liggaam om van gifstowwe ontslae te raak. R1 300 vir 2 ure, 086 111 4075. Mariska van Rooyen

Vind ’n spa in jou omgewing by www.healthspas.co.za of skakel die SA Spa Association by 011 447 9959, of besoek www.saspaassociation.co.za. Besoek ook www.spafinder.com as jy oorsee ’n spa-vakansie wil gaan hou.