FOTO Getty Images / Gallo Images

FOTO Getty Images / Gallo Images

Skoonheidstories

Stileer só jou hare ná ’n oefensessie

’n Goeie oefensessie so net voor die somervakansie is altyd lekker! Maar agterna is daar meestal te min tyd om hare te was, uit te blaas én te stileer … om nie eens te praat van grimering nie. Tog hoef oefening nie te keer dat jy soggens met ’n stylvolle haarstyl werk toe gaan of saans ’n aand uit geniet nie. Dié drie supersjiek haarstyle kan jy in ’n kits skep met lang en korter hare.

1. Gevlegte lae poniestert of bolla

Dié styl werk goed as jy jou hare ná jou oefensessie wil was, maar nie noodwendig genoeg tyd het om dit ook nog uit te blaas en te stileer nie.

braidedbunStap 1: Begin deur jou klam hare met ’n wyetand-kam uit te kam. Wend ook ’n mousse aan om te verseker dat jou hare steeds tekstuur en volheid het wanneer dit droog word.

Stap 2: Maak jou hare in ’n lae poniestert agter jou kop vas.

Stap 3: Vleg die poniestert tot by jou haarpunte in ’n stywe vlegsel en maak dit vas met ’n dun haarrekkie.

Stap 4: Vir ’n gemaklike voorkoms kan jy die stywe vlegsel net so dra. Vir ’n meer professionele voorkoms, volg stap 5.

Stap 5: Draai die vlegsel om die boonste haarrekkie om ’n bolla te vorm en steek dit vas met haarknippies. As jy ekstra tekstuur wil skep, kan jy dele van die vlegsel in die bolla effens lostrek.

2. Omgekeerde poniestert met volume

As jy gewoonlik voor jou oefensessie jou hare in ’n poniestert vasmaak, is dié styl ’n maklike manier om ná die tyd jou haarstyl in ’n kits nuwe lewe te gee.

But first, a pony. I mean, coffee … Watch @NinaDobrev on @TheTalkCBS today   A photo posted by Riawna Capri (@riawnacapri) on

Stap 1: Blaas ná jou oefensessie rofweg met ’n haardroër deur jou hare om ontslae te raak van enige klammigheid wat tydens die oefenry in jou hare gevorm het.

Stap 2: Skep tekstuur deur ’n droë sjampoe van jou haarwortels tot by die middellengtes te spuit.

Stap 3: Maak dan jou hare in ’n poniestert agter jou kop vas.

Stap 4: Deel jou hare net bokant die rekkie in twee en druk jou poniestert van bo af deur om ’n omgekeerde poniestert te maak.

Stap 5: Trek ’n paar stukkies hare by jou ore uit om jou haarstyl ’n effens deurmekaar voorkoms te gee.

Het jy geweet?

Jou hare hoef nie reeds olierig te wees om droë sjampoe te gebruik nie. Wend dit vóór jou oefensessie aan skoon hare om oortollige olie te absorbeer soos dit vorm.

3. Stywe hoë bolla

Jy kan dié styl op droë of klam hare skep.

Stap 1: Borsel jou hare en maak ’n netjiese hoë poniestert aan die bokant van jou kop met ’n haarrekkie vas. Om jou haarstyl ’n sportiewe nat voorkoms (wet look) te gee kan jy vooraf ’n bietjie jel op jou haarwortels aanwend.

Stap 2: Verdeel jou poniestert in twee en draai die twee seksies om die haarrekkie om ’n bolla te vorm. Dit hoef nie noodwendig ’n netjiese bolla te wees nie.

Stap 3: Maak dan jou bolla vas met haarknippies of ’n dun haarrekkie. Laat van jou haarpunte skerp uitsteek om die styl modern en interessant te hou.

Bronne: www.instyle.com, www.thebeautydepartment.com, www.allure.com

Lees nou

Supermodel Gisele Bündchen se kookboek

Ja, rooikoppe lyk jonger – dis bewys!