sr1301_skoonhoof_203_
Skoonheidstories

Strand-mooi en smeulend in die soel someraande

See, strand, skoonheid. Kyk maar na glanstydskrifte en veral die skoonheidsblaaie en wenke om meer positief te wees en te voel, en die oseaan is dikwels die inspirasie. Net die gedagte aan blou branders en ’n vars seebries lig dadelik die gemoed. Die moet-hê-voorkoms dié somer is juis om te lyk asof jy pas van die strand af kom, al was jy nie eens naby die water nie. Dis makliker en slimmer om dié voorkoms met grimering na te boots.

STRAND-MOOI

“Jy kan in die somer wegkom met minder grimering, 
maar die formules wat jy gebruik, is belangrik,” sê 
plaaslike grimeerkunstenaar Melissa van Zyl.

Onthou, die vogtiger lug en meer sweet kan veroorsaak dat jou grimering vinnig smeer. “’n Getinte vogroom is daarom ideaal vir die somer. Dié kombinasie van ’n vogroom en onderlaag is lig, bevat gewoonlik ’n sonskerm en jy kan dit deur die loop van die dag herhaaldelik aanwend sonder dat dit swaar voel,” sê sy.

“Daarby is ’n laag waterbestande maskara perfek.”

Gedurende die dag is ’n bietjie pienk ook ál wat jy nodig het vir ’n natuurlike kleur.

“Kies ’n blosser in ’n warm pienk skakering en wend dit aan op jou wange. Gebruik dan dieselfde grootte kwas en tik die laaste bietjie blosser op jou ooglede aan. Dit skep ’n voorkoms wat sag en gebalanseerd lyk.”

Wend ’n lipglans met ’n SBF aan en jy is reg vir die somer.

SMEULENDE SOMERAAND

’n Aand uit vra vir ’n bietjie meer glans. Jy kan jou strandvoorkoms binne minute ’n sexy kinkel gee, sê Riëtte van Tonder, nasionale opleier by Clinique. “Kies ’n oogskadu in ’n silwer, goue of pêrelkleurige skakering en wend dit in die binnehoeke van jou oë tot teenaan jou neus aan om dié gedeelte te verlig.

Gebruik die bietjie wat op die kwas oorbly en vee dit reg onder jou wenkbroue. Jy moet dié blinkheid net sien as die lig daarop val.”

Vir die res van jou oog het jy  ’n oogskadu in ’n donkergrys of bruin nodig wat nie die blink gaan oorheers nie. “Wend dit in die vou van jou ooglid en in die buite-
hoeke van jou oë aan vir definisie en diepte. Gebruik ’n groterige kwas om die verskillende oogskadu’s te smeer vir ’n sagte rokerige voorkoms,” sê sy.

Rond jou smeulende kykers af met ’n swart of donkerbruin oogomlyner wat jy teenaan jou boonste en onderste wimpers trek. Smeer die omlyner liggies met ’n oorstokkie en jy’s reg vir jou aand uit.   

* Kry nóg wonderlike somer-skoonheidswenke in jou Januarie-uitgawe, vanaf Maandag 17 Desember te kry.

  • Marianna

    Jip dit is eintlik baie maklik. Veral as jy bietjie ouer is en nie so baie in die son wil of kan kom nie. Dankie Sarie vir al die lekker wenke en raat.