Skoonheidstories

Supermodel mooi in net 4 stappe

Naomi Campbell en Claudia Schiffer is te sien in Louis Vuitton se lente 2008-advertensies. Linda Evangelista is die gesig van Prada herfs 2008 terwyl Christy Turlington Escada 2008 bemark.

DIE GEHEIM VAN HUL VOORKOMS?
’n Helder gelaat, ’n goeie verbronser en smeulende, rokerige oë. Dié grimeervoorkoms pas die meeste veltipes en aksentueer enige oogkleur. En dis glad nie moeilik om dit self reg te kry nie…

Smeulende oë

Die geheim: Rokerige oë is sagter as in die 80’s, sonder harde lyne. Omlyn jou oë met ’n oogpotlood. Versag dié lyn met swart of grys oogskadu, aangewend met ’n kwassie. Wend ’n donkerder skadu (soos bruin of pers) op jou ooglid en ’n ligte aksentkleur (selfs ’n glansende metaalkleur) op jou oogbank aan.

Gebruik die dun aanwendsponsie van Chanel Professional Eyeliner Duo in 10 Noir-Lamé om oogskadu netjies aan die buitehoeke van jou ooglede aan te bring.

 

 

Probeer ook Estée Lauder Signature Eyeshadow Quad in Blue Smoke.
Smeulende oë verdien lang wimpers. Verleng joune met tot 80% met L’Oréal Double Extension Beauty Tubes – dieselfde maskara wat in advertensies op 80’ssupermodel Linda Evangelista se wimpers pryk.
Nuwe tegnologie verseker dat die maskara elke wimper soos ’n buis omvou. Die wit onderlaag verleng en bevog, terwyl die swart bolaag wimpers egalig kleur.

 

 

 

Vlekkelose vel

Die geheim: “Water!” sê David White, grimeerkunstenaar van Givenchy. Dis die eerste stap tot ’n mooi vel. Die regte onderlaag verseker perfekte afronding. Neem jóú velkleur en -tipe in ag wanneer jy kies, sê Liz van der Merwe, senior grimeerkunstenaar by M.A.C.
’n Poeieronderlaag werk beter vir ’n olierige vel terwyl ’n droër vel ‘n vloeibare onderlaag vra. Dit moet natuurlik lyk en die vel se tekstuur wys.
En jou geheime wapens teen merke en lyntjies? Bobbi Brown Hydrating Face Cream, met bestanddele soos alge-ekstrak en kukui-neutolie om jou vel te versag en voor te berei vir soomlose grimering.

 

 

Givenchy se Wrinkle Defy Intensive Wrinkle Correcting Sheet Mask kan plooie met tot 92% versag.

 

 

Songekuste wange

Die geheim: “Jy kan ’n verbronser (bronzer) óf ’n blosser op jou wange gebruik, afhangend van die voorkoms wat jy wil hê,” sê Liz. “Vir ’n sterk, sexy voorkoms is ’n verbronser ideaal.
Vir ’n oulike, girly voorkoms is ’n ligpienk blosser die geheim.”

Dior Bronze Harmonie de Blush Sunshine Tones in Spicy Desert se aardse kleure maak van dié blosser ook ’n verbronser – gebruik dit ook op jou sleutelbene om jou somerbruin vel te beklemtoon.

 

 

 

Sexy lippe

Die geheim: ’n Glanslose, pienkerige skakering op die lippe is die truuk by sterk ooggrimering, sê grimeerkunstenaar Adelle Jung. “Maar dit hang van jou persoonlikheid af. Sommige vroue kan sterk oë én lippe dra, maar dan moet jy bereid wees om aandag te trek!” Vir ’n natuurlike, smeulende lip, probeer M.A.C Cremesheen in Crème D’Nude.