Skoonheidstories

Trouwenke: Kies ’n geur vir jou groot dag

Wonder jy nog watter geur om vir jou groot dag te kies? Kies ’n parfuum wat heerlik ruik, mooi lyk op ’n foto en jou jare later aan jou troue sal laat terugdink.

In die algemeen is ligter, varser geure ’n goeie keuse. As jy steeds wonder, kan jy ’n geur kies wat inskakel by die omgewing waar jy gaan trou – of dit nou op die strand, in ’n tuin of woud, of in die stad is.

Hou ook dié wenke in gedagte …

• Moenie te vinnig op ’n geur besluit nie. Parfuum kom eers ná ’n hele paar minute tot sy reg wanneer die basis en hartnote geruik kan word. Dis juis die hartnote waaraan jy geur onthou.

• Moenie ’n geur kies na aanleiding van hoe dit op die papierstrokie ruik nie. Dis belangrik dat jy dit op jou vel spuit aangesien die chemiese samestelling van ons vel anders is en dit beïnvloed hoe ’n parfuum op jou vel ruik.

• Met uniseks-geure wat deesdae so ’n groot tendens is, hoekom nie ’n parfuum met jou maat deel en sommer ook geld spaar nie? Besoek saam ’n parfuumtoonbank en koop een waarvan julle albei hou. En moenie bekommerd wees nie, julle gaan nie eenders ruik nie. Boonop sal julle albei jul troue aan dié geur onthou.

Hiér is ons keuse van die mooiste en geurigste parfuums vir jou troudag:

1. Ted Lapidus White Soul (R785 vir 100 ml EDP)

Dié sensuele Oosterse blomgeur is aan die een kant lig en sag met sprankelende note van lemoenbloeisel, pruim en geelnartjie. Ná ’n paar uur op jou vel ruik jy sterker, ryker note soos saffraan en amber. Elke bottel spog boonop met ’n Swarovski-kristal op die doppie.

2. Montblanc Lady Emblem (R1 195 vir 75 ml EDP)

Dié mooi bottel het die vorm van ’n diamant en die parfuum self is vol vrugte en rose.

3. Dolce & Gabbana Dolce (R1 840 vir 75 ml EDP)

Wit blomme soos narsinglelie, waterlelie en lemoenblom is die hart van dié vroulike parfuum.

4. Oscar de la Renta Extraordinary (R1 1395 vir 90 ml EDP)

Die sprankelende geur is speels en elegant, met vars note van sitrus, pinksterroos, lemoenblomolie en ’n warmer houtbasis. Beskikbaar by Dis-Chem en Truworths

5. Avon Dreams (R370 vir 50 ml EDP)

Propvol vrugte en blomnote soos pruim, roos en jasmyn – dié splinternuwe geur is ideaal vir ’n tuintroue. Skakel 0860 102 345

6. Victoria’s Secret xo, Victoria (R999 vir 50 ml EDP)

Lente se sonnige weer en nuwe bloeisels is die inspirasie agter dié nuwe geur met note van sitrus, roos en orgidee. Beskikbaar by Victoria’s Secret Beauty and Accessories

7. Chanel No 5 L’Eau (R1 600 vir 50 ml EDT)

Sitrus gee ’n vars en moderne kinkel aan die nuwe weergawe van ’n ikoniese gunsteling.

8. Prada La Femme Prada (R1 455 vir 50 ml EDP)

Die soet geure van frangipani-blomme, soetemaling en ilang-ilang pas perfek by ’n elegante eilandtroue.

9. Louis Vuitton Mille Feux (R3 500 vir 100 ml EDP)

Pure bederf! Dié bekende modehuis se eerste parfuumreeks is nou beskikbaar in SA. Dir geur kombineer soet framboos met sensuele leer. By Louis Vuitton in Sandton City, Johannesburg

10. Gucci Intense Oud (R2 155 vir 90 ml EDP)

’n Oosterse geur vir albei van julle met wierook, leer en agarhout.

 

Vir nóg trouwenke, kry die nuwe uitgawe van SARIE BRUID – nou te koop!

Bruid2016 fader

Lees nou

Leandie deel haar wenke vir selfvertroue

Mooiste hare- en grimering-idees vir jou troudag