Skoonheidstories

Ondeunde Engel

Blonde energie – met iets smeulends in die donker.
Uma Thurman is bekend vir die donker karakters wat sy vertolk. Dink aan Pulp Fiction of Kill Bill. Nou is sy die gesig van Givenchy se nuwe parfuum, Ange ou Démon Le Secret,’n geur wat twee komplekse fasette van vrouwees vier: donker en lig.

Die storie agter die parfuum het te doen met die engel en die duiwel in elke vrou.
Watter rol verkies jy?
Albei pas my! As jy die engel speel, raak jy mettertyd verveeld en dan is dit nodig om weer die duiwel te
wees, of andersom. Maar die inspirasie vir Ange ou Démon Le Secret se donker kant is nie regtig ’n
duiwel nie – dit verwys eerder na daardie sensuele, ondeunde kant van ’n vrou. Ons almal het dit, maar
ek glo elke vrou het ook ’n suiwer, goeie hart. So die konsep is baie gepas.

Jy’t al baie uiteenlopende karakters in jou loopbaan vertolk (sy kry ook lof vir haarmeer komiese rolle soos in Prime). Ervaar jy ooit teenstrydigheid binne jouself?
Dalk is my hele loopbaan ’n voorbeeld van hoe ek myself al 20 jaar lank weerspreek: komedie, drama,
goed, kwaad . . . Is ons nie maar almal tog ’n bietjie van ’n paradoks nie? As iemand jou nie goed ken nie, dink hulle dalk een ding van jou, maar wanneer iemand jou regtig ken, verstaan hulle jou verskillende fasette – dat jy miskien hartseer onder ’n glimlag wegsteek.

Jy het nie altyd selfvertroue in jou voorkoms gehad nie en jy’s selfs geterg toe jy jonk was.
Hoe het jy dit oorkom?

Ek het steeds nie werklik selfvertroue in my skoonheid nie. Ek dink nie enige vrou het nie. Veral
nie in my bedryf waar mense heeltyd jou foute uitwys nie. Ek dink dit is ’n bedekte seën dat ek nie as een
van die mooi meisies beskou is toe ek jonger was nie. Ek het steeds dieselfde gelaatstrekke gehad, maar op ’n klein koppie met ’n klomp vet daarom. Selfs toe ek op 15 modelwerk begin doen het, is my voorkoms as “vreemd” beskryf. Eers toe ek my babavet verloor het, het my gesig begin sin maak.
Omdat ek oorskadu was deur my ma se opvallende skoonheid (sy was ’n model), het ek regtig nooit gedink dat my voorkoms een van my sterk punte sou word nie. Ek het aan ander dinge gewerk, soos my humorsin, talent en intelligensie! Later toe ek ouer was en in die filmbedryf gewerk het, het mense skielik begin sê ek is mooi en dit was vir my nogal wonderlik om te hoor.

Dra jy elke dag grimering?

As ek uitgaan vir ete of ’n vergadering vat ek my mineraalpoeier, wat ek dink ’n geniale produk is, tik dit aan en dan lyk ek baie beter (probeer Givenchy Matissime in Mat Ivory, R495). En dan sit ek net ’n bietjie maskara aan. Maar ek verf myself nie elke dag nie.Nou en dan word ek deur die paparazzi afgeneem wanneer ek my seun skool toe neem en dan is ek kwaad vir myself dat ek nie meer moeite gedoen het nie.

Dink jy parfuum het die krag om te verlei?
Ek dink mans glo soms parfuum het daardie krag. Ek hoor meer hoe mans oor reuk praat as vroue.Vroue kies moontlik ’n geur vir hulself, maar ek dink mans reageer sterker op reuk. Vir my is dit ’n simbool van iets kleins wat jy vir jouself doen in ’n wêreld waar vroue selde tyd het vir hulself. Iets wat jou dadelik laat beter voel.

Waarom voel jy ’n verbintenis met Givenchy?
Toe ek tien jaar oud was, het my ma my gevat om Breakfast at Tiffany’s te kyk. Ek was meegevoer deur
die elegansie, styl en moeitelose skoonheid van Audrey Hepburn – die romanse én daai rokke! Ek het
begin verlief raak op die idee van aktrise wees. Hubert de Givenchy het al Audrey se uitrustings vir die
rolprent ontwerp, so dit voel nou asof hierdie perfekte sirkel in my lewe voltooi is.

Waarmee is jy tans besig?
Ek werk aan ’n rolprent met die naam Percy Jackson in Vancouver. Ek speel Medusa, so my hare hoef nie
gedoen te word in die oggend nie – dis als slange! ’n Ander fliek waaraan ek gewerk het, Motherhood, word binnekort bekend gestel.

*Uma Thurman woon in New York met haar twee kinders,Maya (10) en Levon (6), uit haar huwelik
met die akteur Ethan Hawke. Sy’s verloof aan die beleggingsbestuurder en filantroop Arpad Busson. Sy
vier volgende jaar haar 40ste verjaardag.

Lees nóg vrae uit ons eksklusiewe onderhoud met Uma by sarie.com > skoonheid.skoonheid nóú

*Ange ou Démon Le Secret (R600 vir 30 ml
EDP) is op 12 Oktober in Suid-Afrika
bekend gestel.