FOTO: Facebook

Skoonheidstories

Vat dié haarsorg-raad kop toe

Frédéric Fekkai beantwoord ons vrae

Wat is die grootste fout wat vroue maak wanneer dit by hul hare kom?
Beslis deur te veel te wil doen: kleur wat te veel behandel word en hare wat in baie, happerige lae gesny word. Vandag gaan dit oor lieflike tekstuur, met minder lae en subtiele ligstrepe.
’n Goeie stileerder sal jou help om jou beste gelaatstrekke te beklemtoon. Jy wil stylvol en afgerond lyk; nie soos ’n slagoffer van jou eie styl nie. Werk met jou natuurlike tekstuur en sorg dat jou hare in die beste toestand moontlik is – dan sal jy altyd goed lyk.

Werk ’n bob vir krulhare?
Die bob is een van die veelsydigste style en vlei die meeste gesigvorme.
Afhangend van jou gesigvorm, moet die bob verskil in lengte. Hoe steiler jou hare, hoe beter lyk jou bob. Vroue met krulhare kan steeds goed lyk met ’n bob, maar dan beveel ek ’n langer bob aan om op te maak vir die krul.

Met watter sterre werk jy graag?
Ek het al saam met Debra Messing, Mischa Barton, Heidi Klum, Salma Hayek, Gisele Bündchen en Nicollette Sheridan gewerk. Hulle is pragtige, sexy vroue wat al soveel in hul beroepe bereik het – dit maak dit onmoontlik om gunstelinge te hê.

Jou raad vir lang hare dié winter?
Dit gaan oor volume, tekstuur en krul. Vroue dra hul hare los en gekartel.
Dit is belangrik om te sorg dat lang hare goed versorg is. Gaan elke 6 tot 8 weke na ’n haarsalon om dooie punte te laat sny sodat jou styl sy vorm behou. Die regte haarprodukte is noodsaaklik vir gesonde, glansende hare – ’n opknapper is net so nodig soos ’n sjampoe.

Wat is die beste lengte vir lang hare?
Daar is wonderlike voorbeelde van vroue met lang hare soos Demi Moore, Jennifer Aniston, Debra Messing, Sarah Jessica Parker and Kate Hudson. Hulle is almal beeldskoon en dis baie moeilik om hulle voor te stel met enigiets anders as lang hare. Dit is moeilik om ’n ideale lengte te kies aangesien dit werklik oor die individu gaan. Lang hare is té lank wanneer dit in ’n beskadigde en swak toestand is.

Is dit wys om jou hare as ’n modebykomstigheid in te span soos die Britse modeontwerper Vivienne Westwood en ons eie Marianne Fassler met haar huidige rooi lokke?
Dis belangrik om jou eie sin vir styl te vier. Niks skort met ’n prominente haarstyl nie, solank dit by jou pas. En as dit ’n baie intense kleur is – soos ’n platinum-blond of ’n definitiewe modekleur – moet jy toegewyd wees om dit deurentyd in stand te hou.

Hoe sal haarstyle in die toekoms lyk?
Dit sal al meer gaan oor gesonde tekstuur en glans. Wonderlike hare het wip, volume en glimmer. Enige vrou kan dit hê met die regte produkte en ’n bietjie stylkennis.

Hoe kan ’n vrou verseker dat haar styl by haar persoonlikheid en leefstyl pas?
Die beste manier is om jou haarstilis te vra. Ek praat eers met my kliënte oor hul leefstyl en persoonlike styl voor ek ’n voorkoms voorstel. Jou styl moet by jou persoonlikheid pas. Wanneer jy iemand se haarstyl bewonder, vra gerus wie die stilis is.
Sorg dan dat jou eerste afspraak slegs ’n droogblaas-sessie is – moet jouself nog nie verbind tot ’n sny nie. Besluit eers of jy gemaklik voel met die persoon en gee aandag aan die soort vrae wat hy of sy vra. Let op na die tyd wat spandeer word aan jou hare se behoeftes. Dít alles help jou om die regte stilis te kies.