Skoonheidstories

Moet jy die dermatoloog besoek vir jou rooi vel?

Sukkel jy met ’n rooi, geïrriteerde vel wat dikwels geneig is om droog en sensitief te wees? Is dit nodig om ’n dermatoloog te besoek? Jou vel het dalk meer sorg nodig as wat jy besef… Moenie bekommerd wees nie, hiér is raad!

Wat is die verskil tussen ’n sensitiewe vel en vel wat gesensitiseer is?

’n Gesensitiseerde vel word hoofsaaklik deur eksterne faktore soos stres, sonblootstelling, besoedeling, alkohol, lugversorging en te veel afskilfering veroorsaak, sê dr. Noori Moti-Joosub, ’n dermatoloog van die Laserderm-velsorgkliniek in Sandton, Johannesburg. Sommige vroue het egter geneties ’n sensitiewe vel en is met hierdie veltipe gebore.

In albei gevalle is jou velwand geneig om swakker te wees, wat daartoe lei dat vog vinniger uit jou vel ontsnap en bakterieë en allergene maklik jou vel binnedring en inflammasie veroorsaak.

As jou vel byvoorbeeld geneig is om net op dele van jou gesig rooi te wees of in die winter meer sensitief is, het jy heel moontlik ’n gesensitiseerde vel. As jy maklik bloos en dikwels sukkel met velkwessies soos ekseem, psoriase en rosacea het jy heel moontlik ’n sensitiewe veltipe.

Wat is die simptome?

Of jy ’n sensitiewe veltipe of ’n gesensitiseerde vel het, die simptome is dieselfde, sê dr. Noori:

• Jou gelaat is dikwels rooi, jeukerig, vlekkerig en vorm soms fyn droë vlokkies op die oppervlak.

• Jou vel voel droog en grof, met fyn lyntjies en plooie meer sigbaar.

• Jou vel word maklik geïrriteer deur grimeerprodukte, vogrome en reinigers.

• Soms kan net ’n sekere deel van jou gesig sensitief en rooi wees, soos jou wange, neusbrug en ken.

Hoe behandel jy dit?

Die belangrikste is om vel wat rooi en sensitief is te kalmeer om die inflammasie so veel as moontlik te verminder, sê dr. Judey Pretorius, medestigter van die velsorgmaatskappy Biomedical Emporium. “Behandel altyd eerste rooiheid en sensitiwiteit op jou vel voordat jy aan ander velkwessies, soos pigmentasie of fyn lyntjies en plooie, aandag gee. Die bestanddele van produkte wat dié kwessies behandel, kan moontlik die inflammasie net vererger.”

Volg ook dié wenke:

• Kies ligte, ongeparfumeerde skoonheidsprodukte. Gebruik ’n romerige reiniger, alkohol-vrye verfrisser en vogroom wat spesiaal vir sensitiewe vel geformuleer is.

• Gebruik velsorgprodukte met natuurlike kalmerende bestanddele soos galambotter, vitamien E, groentee en nagblomolie. Maak ook seker jy gebruik eerder ’n ligte chemiese afskilferaar met ensieme.

• Kies ’n produk met meer water as olie in die samestelling om ’n gedehidreerde vel weens sensitiwiteit te behandel. Dié rome se tekstuur is ligter. Jy kan verder soek vir bestanddele soos gliserien, silikoon, en hialuronsuur in die vogroom wat jy kies om dehidrasie te behandel en jou velwand te versterk.

• Vermy produkte met lang bestanddelelyste as jy ’n sensitiewe veltipe het wat maklik geïrriteer word. Hoe meer bestanddele ’n produk bevat, hoe groter is die kans dat een van dié bestanddele jou vel sal irriteer.

Wenk: Chroniese rooiheid, vel wat hard en skubberig word, of vel wat effens opgeswel en jeukerig voel, kan tekens van ekseem, psoriase en rosacea wees. In dié geval moet jy ’n dermatoloog besoek vir gespesialiseerde mediese behandelings.

Probeer dié produkte spesiaal geformuleer vir vel wat sensitief is:

Cetaphil Gentle Cleansing Lotion (R180)

Obagi Gentle Rejuvenation Soothing Cleanser (R710). By uitsoeksalonne

Eau Thermale Avène Thermal Spring Water (R149). By Clicks

Team Dr Joseph Daily Skin Calming Cream (R1 050). Besoek www.futurethis.co.za

Eucerin Anti Redness Concealing Day Cream SPF 25 (R230)

Bronne: www.shape.com, www.paulaschoice.com, www.dermalinstitute.com

Lees nou

Nataniël weer ‘piekfyn’ ná rooftog

Breek dié 5 grimeerreëls!