Skoonheidstories

Gebruik dié produkte vir volwasse-aknee

Ná jou tienerjare dink jy jou kans om aknee te hê is iets van die verlede, maar navorsing het gewys dat dié probleem by tot 50% van vroue tussen die ouderdom van 20 en 40 gediagnoseer word. Gelukkig is daar ’n hele paar slim produkte waarmee jy volwasse-aknee kan behandel.

Kan jy glo? Spice Girls is terug!

Terwyl tiener-aknee hoofsaaklik veroorsaak word deur olierigheid en die hormone wat tydens puberteit inskop, is daar ook ander faktore wat tot volwasse-aknee bydra. Inflammasie is die waarskynlike oorsaak van volwasse-aknee. Die uitslag sal hoofsaaklik om jou mond, ken en kakebeen voorkom. Buiten hormone dra chroniese spanning (’n konstante toestand van stres wat daartoe kan lei dat jou vel oortollige sebum afskei) ook by tot die toestand.

Probeer dié oplossings:

1. Kies ’n olievrye of miselwater-reiniger.

Die eerste stap om ’n veluitslag te takel is goeie reiniging. As jy ’n normale, kombinasie- of olierige vel het, kies ’n olievrye reiniger wat skuim. As jou vel geneig is om gedehidreerd te wees, kies ’n reiniger met miselwater – ’n reinigingsformule wat bestaan uit klein olie-molekules (miselle) wat in water voorkom. Grimering en vuilheid op jou vel “klou” aan die formule wanneer jy dit gebruik en danksy die olie-molekules is jou vel silwerskoon sonder om droog te voel.

2. Gebruik ’n gesigborsel om van hardnekkige onsuiwerhede ontslae te raak.

’n Gesigborsel het sagte hare wat liggies oor jou vel vibreer of draai sodra jy dit aanskakel. Dit werk sagkens om jou porieë oop te maak en vuilheid te verwyder sonder om die vel te rek. Die kans is dan minder vir ’n veluitslag en jou porieë lyk kleiner. Navorsing deur die gewilde gesigborsel-handelsmerk Clarisonic het bewys dat ’n gesigborsel tot ses keer beter as jou hande kan skoonmaak!

3. Gebruik ’n afskilferaar wat salisielsuur bevat.

Salisielsuur, ook bekend as betahidroksisuur (BHA), werk uitstekend vir ’n probleemvel omdat dit antibakterieel en anti-inflammatories is. Dit het ook die vermoë om binne-in jou porieë af te skilfer en help so om swartkoppies in bedwang te hou. Deur gereeld jou gesig af te skilfer, gee jy jou veloppervlak se selvernuwingsproses ’n hupstoot en hou jy jou vel gesond en glansend.

4. Maak ’n velsorgproduk wat vitamien A (ook bekend as retinol) bevat deel van jou velsorgroetine.

Dié velsorgbestanddeel is goed nagevors en werk uitstekend teen veroudering. Dis ook ’n goeie behandeling vir aknee omdat dit die vervaardiging van sebum (vel se natuurlike olie) verminder, jou vel liggies afskilfer vir meer glans en ’n gladder tekstuur, én dit help wonde vinniger genees. Maar pasop! Omdat retinol so ’n aktiewe bestanddeel is, gebruik die produk eers so twee keer ’n week snags en vermeerder die gebruik soos jou vel daaraan gewoond raak. Vermy dit as jy swanger is of sukkel met ekseem.

5. Kyk uit vir velsorgprodukte met aktiewe bestanddele wat spesifiek volwasse-aknee takel.

Kry ’n produk met ’n hoër konsentrasie bestanddele wat jy dan net op dié dele van jou gesig aanwend waar jy ’n veluitslag het. Dit is dikwels antibakterieel en verminder inflammasie.

Onthou: Dra steeds elke dag ’n sonskerm!

Dit voorkom pigmentasie wat kan ontwikkel as gevolg van inflammasie wat deur sonbrand veroorsaak word. Vir ’n sensitiewe toestand soos volwasse-aknee, soek vir bestanddele soos sinkoksied (zinc oxide) en titaanoksied (titanium oxide) in ’n sonskerm.

Every. Single. Day! #dermalogica #spf #sunscreen #summer

A photo posted by @dermalogica on

Wat het van dié bekendes se wenkbroue geword?

Probeer dié produkte:

Garnier Pure Active Micellar Cleansing Water (R80 vir 400 ml)

Sorbet Age Affect Velvet Brush Cleanser (R200). By Clicks

Dermalogica Multivitamin Thermafoliant (R960). By uitsoeksalonne

Environ Debut Face Moisturiser (R298). By uitsoeksalonne

The Body Shop Tea Tree Oil Blemish Stick (R80)

Sukkel jy met volwasse-aknee?

  • JA
  • NEE

Nuwe trend: Haarbykomstighede wat blink