Carey+Mulligan+Harpers+Bazaar+UK+June+2013+Prada+1
Skoonheidstories

Vermy hierdie blosser-foute PLUS poeier vs room?

Blosser kan jou dadelik vars laat lyk. Maar dit is ook iets wat baie vinnig lelik kan lyk. Vermy dié blosser-foute só …

FOUT: Jou blosser lyk streperig of kollerig

OPLOSSING: Begin met minder blosser en “bou” dit geleidelik op. Onthou, dis moeiliker om blosser ligter te maak as om nog aan te wend, sê David White, opleidingsbestuurder van Givenchy. “En skakeer, skakeer, skakeer totdat daar niks meer kolle of strepe is nie. Dit moet natuurlik lyk.”

FOUT: Jou blosser en lipstiffie pas nie

OPLOSSING: Die kleur van jou blosser en lipstiffie moet áltyd bymekaar pas, sê David.

FOUT: Jy speel te veilig

OPLOSSING: “Moenie bang wees vir ’n helder kleur nie,” sê Alicia. “Blosser se doel is om kleur aan jou gesig te gee.”

Styled by Danny Toua

Poeier- vs Roomblosser

Voordele

Poeier: Dit gee kleur aan jou wange én jy kan dit gebruik om definisie te skep deur bv. jou wange of kakebeen sterker te laat lyk.
Room: Dit gee meer kleur en jy hoef baie min daarvan te gebruik. Dis ideaal wanneer jy reis omdat jy nie ekstra grimeerborsels hoef in te pak nie.

Hoe wend jy dit aan?

Poeier: Skakeer dit in opwaartse sirkelbewegings met ’n blosserborsel.
Room: Tik dit liggies in sirkelbewegings aan met jou voor- en middelvinger. Vermy ’n blosserborsel omdat die kleur te swaar gaan wees.

Waar wend jy dit aan?

Poeier: Op die appel van jou wange vir ’n jong voorkoms of onder jou wangbene vir ’n meer gedefinieerde voorkoms.
Room: Op die appel van jou wange.

Vir wie?

Poeier: Dit werk goed vir alle veltipes.
Room: Dit lyk mooi op ’n jonger vel vanweë die douerige (dewy) afwerking. ’n Droë vel sal ook baat vind by ’n roomblosser.

Afwerking op jou vel?

Poeier: Mat afwerking en lyk gesofistikeerd.
Room: Jou vel lyk vars en jonk.

* Dié wenke kom uit die Mei 2014-uitgawe van SARIE.

Koop die regte blosser vir jou in die SARIE-winkel. Klik HIER.