Oscar Pistorius is parfuum se superheld
Foto’s: verskaf deur Thierry Mugler Galery
Hoe het dit gebeur dat ons ‘Blade Runner’ nou ook die gesig van ’n wêreldbekende parfuum is? Dis ’n unieke storie – nes Oscar Pistorius se eie lewe.
As kind was die Franse ontwerper Thierry Mugler verdiep in strokiesprentboeke. Hy’t gedroom van superhelde wat grense met hul innerlike krag verskuif.Toe hy sy mansparfuum, A*Men, in 1996 geskep het, het hy geweet ’n superheld moet die identiteit van dié innoverende en unieke geur wees.
Maar Mugler kon vir jare nie die regte man vind om A*Men te verteenwoordig nie. Die soektog na die gesig van die eerste A*Men-veldtog was vrugteloos. Toe skep hy maar sy eie held, ’n gespierde silwer man wat uit ’n meer verrys, geskoei op die strokiesprentkarakterThe Silver Surfer.
Meer as ’n dekade later het die voorsitter van Clarins Fragrance Group (waaronder die Thierry Mugler-handelsmerk val), Joël Palix, se oog op ’n profiel-artikel oor ’n atleet in ’n Franse koerant geval. Hy het dadelik geweet die soektog was verby, hulle het hul gesig gevind – die Suid-Afrikaner Oscar Pistorius.
Oscar was die vergestalting van die moderne held. Met sy prestasies as wêreldklas-atleet – al is hy gestrem nadat sy onderbene op elf maande geamputeer is – het hy gewys jy kan enige uitdaging met innerlike oortuiging oorkom.
In die Radisson Blu-hotel in Sandton vertel Oscar se breë glimlag alles. Die veldtog is pas in Suid-Afrika bekend gestel nadat verteenwoordigers van Thierry Mugler hom in Junie verlede jaar die
eerste keer gekontak het. Dis vir hom ’n voorreg om vir die volgende paar jaar die gesig van die parfuum te wees.
Hy wys na die advertensieplakkaat oorkant ons en lees die trefreël: Beyond fragrance. “Ek identifiseer met die storie agter A*Men. Ek dra die parfuum al jare, maar ek het eers besef hoe dapper Thierry Mugler as skepper en ontwerper is nadat ek met sy span in Parys vergader het. Hy aanvaar nie mensgemaakte grense nie. Dít is iets wat ek in myself sien. Ek dryf myself om beter te wees as wat ek ooit gedink het ek kan wees. Ek kon nog nooit inpas by wat mense van my verwag het nie.Mense sê maklik jy moet dankbaar wees omdat jy kan loop, maar ek is nie tevrede net daarmee nie. Ek wil die vinnigste wees wat ek moontlik kán wees en vir almal wys jy kan groot hoogtes bereik ondanks ’n gebrek.”
Die advertensieveldtog, wat in Oktober oor drie dae in Parys geskiet is, was ’n uitdaging, erken Oscar. “Veral een skoot was moeilik. Ek moes hardloop en op ’n spesifieke plek binne ’n sekonde regs en weer vorentoe kyk. Ek is nie ’n goeie model nie, maar toe die fotograaf Ali Mahdavi vir my verduidelik hoe die skoot moet lyk, wou ek dit regkry. Dit het naderhand ’n obsessie geword. Ali is een van die mees kreatiewe geeste wat ek al ontmoet het. Ons moes oor en oor en oor skiet omdat hy die silwer en blou [wat eie is aan die verpakking van die parfuum] perfek wou vasvang.”
’n Stel van Oscar se eie J-vormige kunsbene is met chroom bedek en in die veldtog gebruik – jy kan maar sê dis sy superheldkostuum. (Hy beplan om een van dié kunsbene later vir liefdadigheid op te veil en hy gaan die ander een hou as herinnering aan die veldtog). Hy het drie uur in die grimeerstoel gesit en nog ’n uur is aan sy hare afgestaan. Sy lyf is met gliserien bedek sodat lig van sy vel kon weerkaats om die idee te skep dat hy vinniger as die spoed van lig hardloop.
“Net om na die agter-die-skermsvideo van die veldtog te kyk maak my moeg! Om in daai noupassende silwer broek te hardloop is heeltemal anders as op die atletiekbaan. Ek het nou respek vir modelle!” A*Men (R595 vir 50 ml EDT) is die manlike weergawe van Thierry Mugler se eerste parfuum, Angel. Angel word in die boek Perfumes:
The A - Z Guide beskryf as ’n botsing van twee marsjerende orkeste wat elkeen sy eie deuntjie speel. A*Men het dieselfde eienskap. Aan die een kant word jou neus verlei met die geur van patsjoelie en aan die ander kant met dié van koffie.
“Jy hoor dikwels mense sê hulle is óf mal oor A*Men óf hou glad nie daarvan nie,” sê Oscar. “Dis nie ’n parfuum vir iemand wat daarvan hou om onder die radar te beweeg nie. Dit maak ’n stelling.”
Hy sien daarna uit om Thierry Mugler te ontmoet. “Hy is meestal in New York en hopelik gaan ek hom later vanjaar ontmoet wanneer ek soontoe gaan.”
Oscar vertel hy wil dié kans gebruik om mense te inspireer. “Om iemand met ’n gebrek in ’n skoonheidsveldtog te gebruik stuur ’n kragtige boodskap uit, want die modelwêreld streef mos eintlik na perfeksie! Ek dink ons het daardie idee met dié veldtog gebreek en dis iets waarop ek trots is.”
Kuier hier agter die skerms van die treffende advertensie-veldtog:
Hier is die advertensie:
Verwante artikels
-
Oscar Pistorius #48 invloedrykste man ter wêreld
SARIE Oktober 2011
Dit is Oscar Pistorius se groot jaar.
-
Oscar Pistorius kry gesogte internasionale benoeming
SARIE Desember 2011 | Kommentaar: 1
Een van die mees gesogte sport-toekennings is sonder twyfel die Laureus Wêreld Sport Toekennings, en Oscar is vir twee daarvan benoem.
-
Super-parfuum
SARIE September 2011
Hy staan vir vryheid, patriotisme en dapperheid, en nou het Captain America ook 'n parfuum!
-
Thierry Mugler se nuwe engele
SARIE - Maart 2011
Liefhebbers van Thierry Mugler se gewilde parfuum Angel ken dit as 'n unieke en eiesoortige geur.


















Kommentaar