FOTO Instagram / @tresemme

Skoonheidstories

5 dinge wat jy moet weet voor jy jou haarstilis besoek

Voor jy wéér teleurgesteld uit die haarsalon stap, lees dié wenke om misverstande tussen jou en jou haarstilis te vermy en te verseker dat jy realistiese verwagtinge van jou nuwe haarstyl het.

1. Neem altyd ’n foto saam

As jy ’n spesifieke styl in gedagte het, vat altyd eerder ’n foto saam salon toe as wat jy vir jou haarstilis probeer verduidelik wat jy wil hê. Selfs as jy nog onseker oor die presiese haarsnit is, is dit nogtans beter om ’n foto vir jou haarstilis te wys sodat sy kan sien waarvan jy hou.

2. Ken jou haartekstuur en -tipe

Moet liewer nie foto’s van hare wat ’n totaal ander kleur, tekstuur of dikte as jou eie is na jou afspraak bring nie omdat dié style moeiliker gaan wees om op jou hare te herskep. ’n Brunet sal byvoorbeeld nooit die tekstuur van ’n blonde haarstyl kan verkry nie. So ook gaan bloot ’n haarsny nie fyn hare hope volume gee nie. Wees eerder op die uitkyk vir foto’s van bekendes met min of meer dieselfde haartekstuur en -kleur as joune.

3. Neem jou leefstyl in ag

Verduidelik vooraf vir jou stilis hoeveel tyd en moeite jy gewoonlik aan jou hare spandeer. So kan sy jou help om ’n styl te kies wat by jou leefstyl en gewoontes pas. Vir ’n ma met ’n pasgebore baba is ’n maklike styl byvoorbeeld beter, terwyl ’n sjiek bob wat daaglikse stilering verg eerder pas by ’n jong werkende vrou.

4. Weet dat tuisstilering nodig is

Bitter min mense se hare lyk perfek sonder enige haarprodukte of stilering. Om jou salon-haarstyl tuis te herskep verg dus die regte stileringsprodukte en ’n mate van stilering. Vra jou stilis om vir jou te verduidelik hoe jy jou hare tuis netjies kan versorg en maklik kan stileer.

5. Jou haarsorgprodukte maak ’n verskil

“Baie vroue besoek die haarsalon vir ’n nuwe haarsnit of -kleur met die hoop dat dit ook hul beskadigde hare nuwe lewe sal gee. Maar as jy nie deurlopend die regte haarsorgprodukte tuis gebruik nie, gaan ’n nuwe haarsnit, -styl of -kleur nie die toestand of voorkoms van jou hare verbeter nie,” sê Gary Rom, eienaar van die Gary Rom Hair-haarsalonne in Gauteng (hiér verduidelik hy wat jou hare nodig het). Vra jou haarstilis vir raad oor watter produkte jy moet gebruik, maar moet nooit gedwing voel om daar en dan ’n nuwe produk te koop nie.

via GIPHY

Bronne: www.cosmopolitan.com, www.thefrisky.com

Lees nou

Wonder jy oor ‘primers’? Ons verduidelik

Dié haarstyl oorheers tans op die rooi tapyt